Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Ruhan, jy moet glo. . .’ – toe druk hy wendrie

“Ruhan, jy moet aanhou glo, ons gaan dié ding wen.”

Met die stadionhorlosie by Ellispark naby aan die rooi, was Sergeal Petersen se woorde aan sy Stormers-spanmaat Ruhan Nel profeties. Oomblikke later het hulle gekombineer om die wendrie te druk en aan die Stormers hul eerste Superrugby-oorwinning in vyf jaar oor die Leeus in Johannesburg te besorg.

Ruhan Nel, die Stormers se buitesenter, duik oor vir die wendrie. Inlas: ’n Uitbundige Nel omhels Chad Solomon. Foto: Deon Raath

Hul dramatiese doodsnik-oorwinning van 33-30 verseker ook dat die Stormers hul onoorwonne status in vanjaar se reeks behou. Maar dit was darem hittete. Die tuisspan het in die laaste 15 minute met twee drieë en ’n strafdoel gelyk of hulle die stryd gewen het met die telling op 30-26 in hul guns.

“Toe ons daardie skrum gekry het, het ons geweet ons het net een kans om die oorwinning te kry,” het Nel gesê nadat sy drie in die 82ste minuut die oorwinning verseël het.

“Sergeal het na my toe gekom en gesê ek moet aanhou glo, ons gaan wen.” Die vleuel was reg. Maar sy afrigter se geloof was minder onwrikbaar.

“Ek het vir die ouens in die afrigtershokkie gesê ons het die een weggegooi, ons kan maar oppak,” sê die breier, John Dobson.

“Dit was net voor die laaste skrum. Dit was te goed om waar te wees dat ons daaruit kon kom.”

Ná Nel se drie het die televisiekameras die Stormers se afrigtershokkie gewys. Dobson het gelyk soos ’n man wat dringend iets sterker as water nodig het.

Hy het dit miskien nie verwag nie, maar hy was nietemin baie verlig. “Ons het ware karakter gewys, en daaroor is ek bly.”

Ek is trots op die vertoning, maar daar is ook baie goed waaraan ons moet werk. Gelukkig het ons nou ’n loslootjie. Ons moet dit (wat lol) in daardie tyd regmaak

Tog moes karakter in die doodsnikke nie nodig gewees het vir die Kapenaars om te wen nie. Hulle was met 26-15 voor, met minder as 15 minute se speeltyd oor, toe hulle die kluts op die verdediging kwytgeraak het.

“Die Leeus het die tempo in die laaste 20 probeer versnel en hulle het ons gevang.

“My frustrasie het gekom toe ons met 26-15 voor was en ’n paar geleenthede in hul kwartgebied gehad het wat ons nie kon benut nie

“Ek het gevoel ons het dit toe weggegooi,” sê Dobson.

Die Leeus se kaptein, Elton Jantjies, het eers ’n puik solo-drie gaan druk, voordat Dan Kriel kort ná hom gaan druk het. ’n Lang strafdoel het hulle in beheer geplaas.

Jantjies was briljant en het kop en skouers bo sy eweknie van die Stormers, Damian Willemse, uitgetroon.

Hoe die Leeus dié een deur hul vingers laat glip het, sal net hulle weet. Dis egter ’n ou kwaal van Suid-Afrikaanse spanne wat net te vroeg hul voet van die versneller afhaal. In dié kragmeting het albei spanne dit sommer gedoen.

Dis iets waaroor daar vandeesweek nog baie in die Kaap gepraat gaan word.

Met so ’n voorsprong moes hulle die wedstryd beklink het, maar hulle kon nie kers vashou toe die Leeus eers begin hardloop nie.

Die Stormers het in die doodsnikke wakker geskrik en hul eie sluimerende aanvallende ver­moëns uitgestal. Nel se drie het gevolg toe die span die bal van die eenkant van die veld tot die anderkant versprei het.

Nel sê die Stormers het nie baie goed na hul balbesit omgesien nie.

“Ons weet nou wat ons kan verrig as ons die bal hou en ons balbesit beskerm,” sê hy.

Hul aanval sal moet verbeter, sê Nel.

“Ons was vandag ’n bietjie pap. Ons het meer as genoeg geleenthede gehad om drieë te druk.

“Dit is die afgelope twee weke ons probleem – ons werk baie hard op verdediging, maar ons gebruik nie die geleenthede op die aanval nie.”

Die Leeus se afrigter, Ivan “Cash” van Rooyen, was trots op sy span al het hulle verloor.

“Dit was so naby, maar tog so ver,” sê Van Rooyen.

“Die ouens het dapper teruggeveg en ek is trots op hulle daaroor.

“Daar is klein dinge in ’n wedstryd wat die verskil tussen wen en verloor maak, en dit het ons vanaand gesien.

“Ek is trots op die vertoning, maar daar is ook baie goed waaraan ons moet werk. Gelukkig het ons nou ’n loslootjie. Ons moet dit (wat lol) in daardie tyd regmaak.”

Die Leeus sal nou ’n afweek hê voordat hulle Saterdag na Australië vertrek vir hul wedstryd die volgende Saterdag teen die Waratahs.

Die Stormers, wat Saterdag teen die Jaguares op Nuweland speel, is gewis vroeë aanspraakmakers in die kompetisie. Daaroor is daar nou geen meer twyfel nie.

Die geduld en karakter wat hulle gewys het om daardie wendrie te druk, spreek van ’n span wat, ondanks die klomp jongelinge in sy midde, wasdom bereik het. ’n Seisoen of wat gelede sou die Stormers beslis ’n manier gevind het om daardie kans op te bôgger.

Maar dit lyk of die Kaapse span selfs weg van die huis af ’n nuwe blaadjie omgeslaan het.

Meer oor:  Stormers  |  Leeus  |  Superrugby-Reeks  |  Ruhan Nel  |  Sergeal Petersen  |  Ellispark
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.