Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ruhan vir ‘proewe’ by Blitsbokke

Die Blitsbokke se voorbereiding vir die Olimpiese Spele het ’n reuse-hupstoot gekry met Ruhan Nel wat hom Donderdag by hulle sal aansluit.

Nel (29), wat by die Westelike Provinsie gekontrakteer is, het reeds in 2014 sy buiging vir die nasionale sewesspan gemaak en sal met gemak weer kan inskakel by die korter weergawe van die spel.

Ruhan Nel hier in aksie vir die Blitsbokke op die Kaapstad-sewestoernooi in 2019. Foto: Gallo Images

Hy sal in die volgende paar weke die geleentheid kry om Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, te oortuig dat hy op die vliegtuig na Tokio moet wees. Die Spele begin op 23 Julie in Japan.

Die nasionale sewesspan speel tussen 6 en 16 Mei in twee toernooie in Stellenbosch teen die nasionale sewesakademie en die nasionale spanne van Zimbabwe, Uganda en Kenia.

Powell maak geen geheim daarvan nie dat hy die spelers die volgende paar weke met valkoë gaan dophou.

“Hierdie volgende vier weke is ’n ongelooflike belangrike deel van ons voorbereiding. Ek dink wie ook al ons gedink het om te betrek, moet in hierdie volgende vier weke beskikbaar wees om saam met ons te oefen en in daardie twee toernooie te speel,” sê Powell.

“Ons sien hierdie volgende vier weke en die twee toernooie as proewe. Ons boodskap aan die spelers is dat nie net die toernooie nie, maar ook die oefeninge tel.”

Jade Stighling erken sy eerste oefensessie by die nasionale sewesakademie was nie heeltemal wat hy verwag het nie. Foto: Gallo Images

Intussen was die voormalige Bul Jade Stighling se eerste oefensessie by die nasionale sewesakademie nie heeltemal wat hy verwag het nie.

Stighling (27), ’n veelsydige agterspeler in vyftienman-rugby, het die laaste paar jaar sy rugby in Pretoria gespeel, maar sy kontrak by die Bulle het verstryk. Dit is toe dat hy ’n groot tog suidwaarts, na Stellenbosch, aangepak het met die droom om vir die Blitsbokke te speel.

“My eerste oefensessie (Maandag) was iets wat ’n mens nederig maak. Ek het hier aangekom met goeie vertroue in my vermoëns, maar my verwagtinge en die werklikheid wat op my gewag het, was wêrelde van mekaar verwyder,” sê Stighling.

“Maar my nuwe spanmaats se woorde van bemoediging was ’n belangrike faktor wat my deur die sessie gehelp het.”

Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, gaan die volgende paar weke moet besluit wie die vliegtuig na Tokio moet haal. Foto: Gallo Images

Stighling, wat 1,83 m in sy sokkies staan en 85 kg weeg, het in 2013 sy debuut vir die Bulle gemaak en die Pretorianers ook in Superrugby verteenwoordig.

Dié boorling van Johannesburg word geoormerk as ’n voorspeler in sewesrugby – tog was dit ’n spelskepper by die Blitsbokke na wie hy opgekyk het.

“My gunsteling-Blitsbok is sonder twyfel Cecil Afrika (wie se tyd by die nasionale sewesspan in 2020 tot ’n einde gekom het),” sê hy.

“Die manier waarop hy die spel beheer het en sy vermoëns was altyd iets wat opwindend was om na te kyk. Hy is beslis ’n speler saam met wie ek die voorreg sou wou hê om te speel.”

Meer oor:  Sewes  |  Blitsbokke  |  Ruhan Nel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.