Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rupert, Patrice wil die Bulle oorvat

Twee van Suid-Afrika se rykste sakemanne gaan as vennote die Blou Bulle met ’n geldelike inspuiting weer een van die rugbywêreld se kragreuse maak. Terselfdertyd kan dit ’n deurslaggewende transaksie wees om die uitvloei van die land se topspelers na oorsese klubs te stuit.

Pa­trice Motsepe

Rapport kan onthul dat twee invloedryke sakemanne, die Remgro-baas, Johann Rupert, en die mynmagnaat Pa­trice Motsepe, ’n aanbod aan die Blou Bulle Maatskappy gedoen het om die beherende aandeel in die Bulle te verkry.

Rupert se Remgro besit klaar reeds 50% van die Blou Bulle Maatskappy en tesame met die kapitaal wat Motsepe se African Rainbow Capital maatskappy in die Bulle sal belê, sal die Bulle in ’n posisie wees om met oorsese klubs mee te ding ten opsigte van spelers se salarisse. Dit kan die deurbraak wees wat topspelers in die land kan hou. In ’n rugbylandskap wat finansieel aan die wegkwyn is, het die Bulle met die vennootskap vir ’n nuwe dinamika in rugbyadministrasie gesorg.

Die vennootskap tussen twee van Suid Afrika se besigheidsreuse is uniek en kan die deur oopmaak vir meer beleggings in die Bulle. Volgens Rapport se inligting sal Rupert sy aandeelhouding van 50% na 37,45% verminder en Mostsepe sal ’n 37,45% belang verkry om sodoende tussen hulle ’n beherende aandeel van die Bulle te bekom. Dit sal slegs die tweede franchise in Suid Afrika wees wat deur private beleggers beheer word, met die Southern Kings wat verlede jaar die eerste franchise geword het wat ’n belang van meer as 50% aan private beleggers verkoop.

Motsepe besit die sokkerklub Mamelodi Sundowns, wat Loftus Versfeld reeds as hul tuisveld beskou. In 2018 het die Bulle ook hul Superrugby-wegtrui in die kleure van Sundowns gemaak om die bande tussen die rugby- en sokkerspanne te versterk.

Die Blou Bulle Rugbyunie, wat tans die ander 50%-aandeel in die BBM besit, se president, Willem Strauss, het bevestig dat daar ’n aanbod op die tafel is.

“Ons het ’n gesamentlike aanbod van Remgro en African Rainbow Capital ontvang. Dit sal nou deur die nodige prosesse en vlakke gaan voordat ons ’n besluit neem.”

Johann Rupert

Die BBM het vanjaar kwaai deurgeloop met spelers wat oorsee verkas.

Springbokke soos Handré Pollard, Jesse Kriel, Lood de Jager, Duane Vermeulen, RG Snyman, Jason Jenkins asook Super-spelers soos Hanro Liebenberg, Jannes Kirsten, André Warner, Roelof Smit en Eli Snyman het almal met oorsese klubs kontrakte gesluit. Die enigste Springbokke wat Loftus kon behou, is Lizo Gqoboka en Trevor Nyakane, terwyl Embrose Papier, Ivan van Zyl en Warrick Gelant almal gekontrakteer is.

Daar is tans geweldige finansiële druk op rugbyunies en die BBM is nie die enigste wat onder oorsese klubaankope deurgeloop het nie. Rugbybase sukkel om spelers in die land te hou en die hoop is dat die vergrote private aandeelhouding ’n uitkoms sal bied.

Motsepe het Sundowns in een van die kragreuse in Afrika-sokker omgedraai. Sedert hulle in 1996 gestig is, het hulle die Premier-sokkerliga ’n rekord aantal kere (9) gewen. In 2016 het hulle ook die Afrika-kampioeneliga gewen.

Rupert het sy aandeel in die Engelse klub Saracens onlangs verkoop nadat hy gehelp het om hulle as ’n kragreus in Europa te vestig. Hy was deel van die stigtingsproses van dié Londense klubspan.

Saracens is die huidige Europese kampioen en het die toernooi in 2016, 2017 en 2019 gewen. Remgro het ’n aandeel in die WP gehad, wat in ’n lening omskep is toe die WP-maatskappy homself in 2018 bankrot laat verklaar het.

Meer oor:  Blou Bulle Maatskappy  |  Johann Rupert  |  Bulle  |  Bbm  |  Patrice Motsepe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.