Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rupert: Remgro wou WP vir oulaas help
Johann Rupert, voorsitter van Remgro, sê sy maatskappy is bereid om die WP Rugbyunie uitstel te gee vir die terugbetaling van sy lening sodat ’n noulettendheidsondersoek oor transaksies met Dream World Investments en Flyt Property Investment gedoen kan word. Foto: Argief

Die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) was Dinsdagaand onder geen druk van Remgro nie toe sy hoofraad ten gunste van ’n lening van meer as R100 miljoen en vennootskappe in eiendomsontwikkelinge by Nuweland en Brookside gestem het.

Trouens, Remgro se voorsitter, Johann Rupert, het Woensdag aan Netwerk24 gesê dat die WPRU Maandagaand uitstel gegee is vir die terugbetaling van die sowat R58 miljoen wat die Kaapse unie aan dié beleggingsmaatskappy verskuldig is.

Dit was oorspronklik teen Dinsdag betaalbaar en Remgro sou wetlik die reg gehad het om Nuweland op te veil indien die WPRU nie met die geld vorendag kon kom nie.

Remgro wou egter so ’n situasie vermy.

“Ons het die WP in kennis gestel dat ons hulle ’n maand se uitstel sal gee sodat ’n noulettendheidsondersoek gedoen kan word,” het Rupert in ’n eksklusiewe onderhoud gesê.

Ons het die WP in kennis gestel dat ons hulle ’n maand se uitstel sal gee sodat ’n noulettendheidsondersoek gedoen kan word.
Johann Rupert

Volgens hom was die bal in Zelt Marais, die WPRU se president, se baan om daardie boodskap aan klubs oor te dra voordat hulle sou stem. Marais het Woensdagaand aan Netwerk24 gesê dat dit gedoen is.

Die WPRU se hoofraad het met ’n oorweldigende meerderheid gestem om ’n lening van R112 miljoen by Dream World Investments 401 aan te gaan. Hiermee sal hy sy skuld aan Remgro en Investec – altesaam sowat R112 miljoen – kan afbetaal.

Daar is ook besluit om eiendomsontwikkelinge by die Nuweland-stadion en Brookside saam met Flyt Property Investment te doen. Die WPRU en Flyt sal gelyke vennote wees in twee afsonderlike ontwikkelingsmaatskappye vir dié projekte.

Wat die oë sal laat rek, is die feit dat die lening by Dream World ná vier jaar terugbetaal moet word en verbande ter waarde van R250 miljoen is teen die WPRU se eiendomme daarvoor geregistreer.

Dream World is boonop ’n maatskappy binne Flyt, wat binne die vier jaar van die leningsooreenkoms goedkeuring vir bouplanne moet kry. Indien hy nie daarin slaag nie, sal die WPRU skielik met ’n hoop skuld opgeskeep sit – nie net vir die R112 miljoen met saamgestelde rente by Dream World nie, maar ook vir die onkoste wat Flyt aangegaan het.

Dit is juis daardie soort onsekerheid wat Remgro laat besluit het om die WPRU ’n kans te gee om die kwessie omsigtig aan te pak.

Dit is ’n radikale besluit sonder dat die aandeelhouers al die inligting tot hul beskikking gehad het.
Johann Rupert

“Ons het die uitstel gegee sodat hulle nie die besluit onder druk hoef te neem nie. Onherroeplike besluite móét deurdag wees. Dit is ’n radikale besluit sonder dat die aandeelhouers al die inligting tot hul beskikking gehad het,” sê Rupert.

Hy meen die WPRU kon in ’n sterker posisie gewees het as hy deur ’n tenderproses gegaan het vir die ontwikkeling van sy eiendomme.

“Alles behoort ten alle tye op tender uit te gaan. Dis goeie korporatiewe bestuur en hoe jy dit behoorlik doen,” sê Rupert.

Die 70-jarige Rupert is ook baie skepties oor die Kaapstad-stadion, waar die Stormers en Westelike Provinsie van aanstaande jaar af gaan speel.

“Dit is nie ’n rugbystadion nie. Tot in die tiende ry gaan jy nie kan sien wat op ’n rugbyveld aangaan nie. Het enigiemand gaan uitwerk wat dit gaan kos om die losies te bou? Wat kry die WP daaruit om hierdie skuif te maak?”

Zelt Marais, president van die WP Rugbyunie. Foto: Gallo Images

Die WPRU kan straks ook die wind van voor kry by Investec, met wie hy vroeër die hoofpunte van ’n ooreenkoms onderteken het vir ’n huurooreenkoms van 99 jaar vir Nuweland.

Die WPRU het vroeg in Junie besluit dat Investec se bepalings nie vir hom aanvaarbaar is nie – nadat die Kaapse unie reeds ’n voorskot van sowat R50 miljoen gekry het van die R110 miljoen wat hy sou ontvang.

Volgens Marais het onderhandelinge met Flyt eers op 3 Junie begin, wat beteken dat daar blitsige onderhandelinge was vir die enorme transaksie waarvoor Dinsdagaand gestem is.

Investec se prokureurs het reeds met die WPRU kontak gemaak.

Meer oor:  Johann Rupert  |  Zelt Marais  |  Kaapstad  |  Nuweland  |  Lening  |  Remgro  |  Investec  |  Skuld  |  Wpru  |  Uitstel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.