Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rusland neem (laat) stappe teen Covid-19

Hy dink Rusland het ’n bietjie laat wakker geskrik in sy stryd teen die Covid-19-pandemie, sê die voormalige Southern Kings-slot Stephan Greeff.

Stephan Greeff toe hy nog vir die Kings gespeel het. Greeff bevind hom tans in Rusland. Foto: Gallo Images

Greeff speel sedert November verlede jaar vir die Russiese klub Strela-Agro in die stad Kazan.

“Ons was vandeesweek nog op ’n oefenkamp in Krimsk en het vandag (Donderdag) ’n oefenwedstryd gespeel,” vertel die 30-jarige Greeff, wat ook ’n paar seisoene vir Griekwas en die Pumas gespeel het.

“Ek moet sê, dit voel nogal asof Rusland tot op nommer 99 gewag het met die hele storie (om maatreëls teen die verspreiding van Covid-19 in te stel).

Greeff in Desember in Moskou. Foto: Facebook

“Ons kamp is wel afgestel en ons vlieg môre (Vrydag) terug Kazan toe, want dit klink my Rusland gaan van Maandag af ’n week lank in afsondering wees.”

Die CNN-nuuskanaal het vandeesweek berig dat pres. Wladimir Poetin nog onlangs voorgegee het die Covid-19-pandemie is onder beheer in Rusland.

Dit blyk nou dat hy hom lelik misgis het en Rusland gaan vir ’n week lank in afsondering geplaas word in ’n poging om die verspreiding van Covid-19 te help bestry.

Greeff sê hy en sy rugbymaats is deur hul klub se bestuur aangesê om vir twee weke by die huis te bly.

Sy hoofafrigters by Strela-Agro is die voormalige Bulle JP Nel en Jaco Engels. Engels het nes Greeff ook vir die Kings gespeel.

Strela-Agro, die span waarvoor Stephan Greeff in Rusland speel, word deur die voormalige Blou Bul JP Nel (bo) afgerig. Foto: Gallo Images

Nog twee spelers by die Russiese klub, die heelagter Johann Tromp en die losvoorspeler Steph de Wit, het ook voorheen vir die Kings gespeel.

Volgens Greeff het die feit dat daar ’n paar van sy vriende vir Strela-Agro speel, ’n rol in sy besluit gespeel om daar te gaan speel.

Behalwe bogenoemde spelers, is daar nog vyf Suid-Afrikaners – Gihard Visagie (stut), Günther Janse van Rensburg (stut), Stephan Malan (losvoorspeler), Kobus Marais (losskakel) en Donovan du Randt (losskakel) – by Strela-Agro.

“Voor die koronaprobleme moet ek sê dat ek my tyd in Rusland geweldig geniet het,” sê Greeff.

“Die rugby is klip-klip-klip-hard. Ek het ook my vrye tyd gebruik om bietjie te reis en was in Desember Moskou toe.

“Moskou is naas Venesië die mooiste stad wat ek al besoek het.”

Volgens Greeff is Rusland “skoon en goedkoop”.

“Die mense lyk maar ’n bietjie nors, maar as hulle hoor jy probeer hul taal praat, is hulle baie nice,” sê hy.

Meer oor:  Koronavirus  |  Kings  |  Covid-19  |  Rusland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.