Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Russe met diep sakke na-aap Japanse model

Die bitter koue in Rusland is vir hom vreemd en erg. Maar dalk selfs vreemder as die ystoestande waarin hulle oefen en speel, is die passie wat daar vir rugby in Rusland is.

Joshua Walker van die Russiese klub Narvskaya Zastava word deur die Blitsbokke Selvyn Davids (links) en Angelo Davids vasgevat in hul wedstryd verlede maand in Stellenbosch. Foto: Ashley Vlotman, Gallo Images

Van die Russiese president, Wladimir Poetin, tot die skatryk Dmitri Morozof, grootbaas van die bio-farmaseutiese maatskappy wat die Covid-19-entstof Sputnik V in Rusland vervaardig, is groot aanhangers van die spel.

Morozof is ook die hoofborg van die sewesspan waar die voormalige hulpafrigter van die Southern Kings, Vuyo Zangqa, deesdae sy salaris verdien.

Poetin is gretig dat Rusland in 2027 die Wêreldbeker-toernooi aanbied, terwyl Morozof van sy fortuin as borggeld gebruik om ’n top-sewesspan in Rusland te vestig.

Zangqa is die Narvskaya Zastava-sewesspan se afrigter. En hy is nie al Suid-Afrikaner wat hom in Russiese rugby bevind nie, want die voormalige Bul-senter JP Nel en die oud-SWD-breier Rynhardt van As is ook by afrigting in Rusland betrokke.

Volgens Zangqa is daar ’n duidelike plan van die Russe om hul rugby te verbeter. Die plan is soortgelyk aan die model van Japan.

Spanne kry spelers in van die voorste rugbylande wat dan saam met die plaaslike spelers in hul klubreeks speel.

“Daar is baie ouens van Suid-Afrika wat hierdie kant rugby speel en ek dink dis omdat die sport baie meer professioneel word,” sê Zangqa.

“Hulle (die Russiese rugbybase) probeer dinge versnel sodat daar baie meer spelers kan wees. Hulle wil doen wat Japan gedoen het.

“As jy onthou, Japan was ook ’n niemand in rugby en ewe skielik het sy klubspanne goeie oorsese spelers begin teken wat hul rugby baie verbeter het. Rusland probeer dieselfde doen.”

Zangqa het eerstehandse ervaring daarvan nadat hy die afgelope drie weke met sy klubspan, wat 15 spelers ingesluit het, in Kaapstad ’n oefenkamp gehou het.

Die gerief van ’n oefenkamp buite Rusland is te danke aan die borgskap van die skatryk Morozof.

“Ek het die idee van ’n oefenkamp in Suid-Afrika aan hom genoem en hy het gesê ek kan die spelers op ’n vliegtuig sit en hulle na Kaapstad vlieg. Geld was nie ’n probleem nie,” sê Zangqa.

“Begin vanjaar het ek toe vir die grootbaas gesê ons het ’n warmer plek nodig om te oefen, want ons gaan ons toernooie op gras en in ’n warmer klimaat speel.

Vuyo Zangqa rig af in die Russiese sneeu.

“Hier (in St. Petersburg) oefen ons in die koue.

“Toe het ek ’n e-pos aan Marius (Schoeman, hoëprestasie-bestuurder van die Blitsbokke), Neil (Powell, Blitsbok-afrigter) en Frankie (Horne, SAS-sewesafrigter) gestuur en hulle was gerat om ons op Stellenbosch te verwelkom. So, ons het besluit om vir drie weke te kom.

“Vir iemand om geld uit te gee vir die klub om drie weke in Kaapstad deur te bring sonder om te weet wat die gevolg gaan wees, is ongelooflik. Ek is dankbaar dat ons dié geleentheid gekry het.”

Die toer Suid-Afrika toe was ook ’n meevaller om vir ’n slag weer sonskyn te kon ervaar. Die span is die afgelope Woensdag, terug na Rusland.

“Kaapstad en die hitte was nie net goed vir my siel nie, maar ook vir die spelers. Ek het ’n Australiër, die Keniaan Oscar Ouma en nog ’n internasionale speler. Ek mag drie oorsese spelers teken. Toe ek hulle vertel van die kamp in Suid-Afrika, kon hulle nie wag om te gaan nie.

“Met die inperking was hulle ’n jaar lank nog nie by die huis nie. Hulle wou net son ervaar. Die ouens se gemoedstoestand het ook sommer verander. Wanneer ons geoefen het, het hulle hul truie uitgetrek vir ’n bietjie son. En alhoewel ek wil hê ons moet professioneel wees, kon ek hulle nie blameer nie.”

Die toer Suid-Afrika toe wys volgens Zangqa ook hoe ernstig rugby-ontwikkeling in Rusland opgeneem word en die groeiende passie wat daar vir die spel is.

Morozof het self ook op die laaste Sondag van hul toer met sy private straler ingevlieg Kaapstad toe en saam met die direkteur van sport by Zastava die oefenwedstryde teen die Blitsbokke in Stellenbosch bygewoon. Daar is hy ook voorgestel aan Powell, Schoeman en Horne.

Dmitri Morozof
Dmitri Morozof, eienaar van die Narvskaya Zastava-rugbyklub, saam met pres. Wladimir Poetin van Rusland tydens die oorhandiging van nasionale ordes in Moskou in Junie verlede jaar. Foto: Getty Images

Volgens Zangqa was Morozof baie gelukkig met wat hy in Stellenbosch gesien het.

“Hy het die laaste week saam met die span deurgebring. En hy kon nie glo hoe baie die ouens in die laaste drie weke geleer het nie. Ek dink dit kan dalk net ’n jaarlikse instelling word. Dit was ook sy (Morozof se) eerste keer in Suid-Afrika.

“Ek is dankbaar vir die feit dat ons teen die Blitsbokke, die akademie en Frankie Horne se SAS-sewes kon speel. Ons kon nie vir beter voorbereiding gevra het nie. Die Blitse is tans tweede in die wêreld en ons is maar ’n klubspan.

“Ja, ons is geklop, maar dink net aan hoeveel die spelers geleer het. Vir my was dit perfek. Dit was ’n briljante drie weke en die ouens het soveel geleer.

“Morozof is ’n voormalige judo-atleet en het vir die eerste keer in St. Petersburg sewes ge- kyk. Toe sê hy aan die spelers: “As julle die toernooi wen, dan borg ek julle.” Die ou wat toe die direkteur van rugby was, het aan hom gesê: ‘Luister, jy’t gesê as ons wen, gaan jy ons borg.’

“Hy het woord gehou en Biocad het die span begin borg. Die genot wat hy uit die span gekry het, het hom laat besluit om nog geld in die span in te pomp. Nou is hy heeltemal in sewesrugby in.”

Vir ’n Suid-Afrikaner wat uit die sonnige Gqeberha (Port Elizabeth) kom, het die aanpassing in die ysige St. Petersburg Zangqa geleer om vinnig aan te pas – veral omdat hy geen Russies kan praat of verstaan nie.

Op die veld was dit egter makliker om weer sy sewes-hoed as afrigter op te sit nadat hy vir ’n seisoen of wat vyftiens by die Southern Kings afgerig het.

Toe die Covid-19-pandemie rugby tot stilstand dwing en die Kings die finale doodskoot gee wat rugby in die Pro14-reeks betref, moes Zangqa vinnig ’n ander plan maak.

Hy het toe maar pas uit Duitsland teruggekeer. Hy was daar die nasionale sewesspan se afrigter. Die pos by die Kings was aanloklik en Zangqa was gereed om hom in Suid-Afrika te vestig, totdat die Kings gevou het.

“Net nadat die Kings uitgeval het, het ek ’n oproep van Graham Bentz (voormalige kondisioneringsafrigter van die Blitsbokke) gekry. Hy het gesê die klub soek ’n hoofafrigter, en gevra of ek gretig is.

“Ek was natuurlik toe al klaar met sewes en ek het gedink ek het my pad gestap.

Vuyo Zangqa

“Die oomblik toe ek egter met die grootbaas praat en hy my vertel hoe professioneel die opset is en hoe professioneel hy dit wil hê, was die besluit baie maklik. Ek het toe die aanbod aanvaar.

“Nadat ek hier aangekom het, kon ek sien die ouens het ’n agtergrond in sewes. Maar jy kon ook sien hulle is nie goed afgerig nie.

“Ek het toe aan die basiese sewes-vaardighede begin werk en ewe skielik drie weke later het ons ons eerste toernooi gewen. Nou het die spelers begin glo ons kan die reeks wen.”

Zangqa koester steeds drome om in Suid-Afrika af te rig. Hy was saam met Powell kortstondig die mede-afrigter van die Blitse, maar hy wil nes sy voormalige spanmaat ook ’n proesel kry om die Springbok-sewes af te rig.

Daarom is hy gretig om in die toekoms ook sy naam in die hoed te gooi wanneer die Springbok-sewesspan weer ’n afrigter soek.

“Jy gaan my nie sommer kry om in die sneeu te braai nie; dit gaan ek nie gou probeer nie,” sê Zangqa.

“Ek het reeds ’n oefensessie in die sneeu gehad met een van ons junior spanne en dit was ys-, yskoud. Die sneeu het geval terwyl ons geoefen het.

“Dit was net een sessie. Agterna het ek aan my baas gesê ek gaan nie weer in die sneeu ’n oefensessie hou nie.”

Meer oor:  Stellenbosch  |  Rusland  |  Koue  |  Afrigter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.