Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
SA o.19’s byt vas vir sege oor Georgië

Die Suid-Afrikaanse o.19-rugbyspan moes Maandag in Tbilisi hard veg vir sy oorwinning van 28-21 oor sy eweknie van Georgië in die eerste van twee wedstryde.

Die wedstryd is teen ’n ongelooflike tempo gespeel en dit was ’n fisieke stryd soos min.

Jaden Hendrikse, skrumskakel en stelskopper van die Suid-Afrikaanse o.19-span. Foto: Getty Images

Hoewel die Suid-Afrikaners die wedstryd gewen het, het hul dissipline hulle in die steek gelaat. Hulle het nie minder nie as drie geelkaarte gekry en elke keer wanneer ’n kaart uitgedeel is, het Georgië toegeslaan en punte aangeteken.

Die sondebokke was die Junior Springbok-skrumkakel Jaden Hendrikse, die stut Dewald Donald en die linkervleuel Stravino Jacobs.

Laasgenoemde is ná 16 sekondes in die tweede helfte van die wedstryd afgestuur na ’n liederlike hoogvat op Georgië se linkervleuel, Zurab Kavtaradze.

Kavtaradze is sodanig beseer dat hy die veld op ’n draagbaar moes verlaat met sy nek in ’n stut.

Die wedstryd het regdeur wipplank gekry en eers teen die einde het die Suid-Afrikaners se rotsvaste verdediging hul basse gered, want Georgië se fisieke aanslag was iets om te aanskou.

Georgië se skrumskakel, Giorgi Margalitadze, het die besoekers se verdediging goed getoets met sy dartellopies en hy het een van sy span se twee drieë gedruk.

Suid-Afrika het die eerste helfte met ’n stormsterk wind agter gespeel, maar het dit nie werklik tot sy voordeel gebruik nie. Wat die Suid-Afrikaners wel gebruik het, was hul vaart.

Die heelagter, Cohen Jasper, se voetwerk was ongelooflik, terwyl Jacobs nie net vaart het nie, maar hy is baie meer fisiek as jou tradisionele vleuel.

Nog ’n speler wat goed vertoon het, was die binnesenter, Dawid Kellerman. Hy was deel van ’n agterlyn wat goed geolie was, terwyl die agttal ook hul kant gebring het.

Dit was veral die fisieke inklimspel van die flank Werner Gouws wat uitgestaan het. Hy en sy kaptein, JJ Kotze, het gedruk, asook Jasper en Bernard van der Linde.

Die spanne pak mekaar Donderdag in die tweede en laaste wedstryd

Puntemakers:

Suid-Afrika o.19 28 (14): Drieë: Werner Gouws, Zwelendaba Mnombo, JJ Kotze, Bernard van der Linde. Doelskoppe: Jaden Hendrikse (2), Juan Mostert (2).

Georgië o.19 21 (18): Drieë: Saba Kuratashvili, Giorgi Margalitadze. Doelskop: Lasha Lomidze. Strafdoele: Lomidze (3).

Meer oor:  Tbilisi  |  Junior Bokke  |  Georgië  |  Sa O.19-Rugbyspan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.