Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
SA rugby kry skuld vir Kiwi’s se suur reaksie

Rugby Australië (RA) sê hy is nie verantwoordelik vir die Rugbykampioenskapskedule waarvolgens die All Blacks dalk Kersfees onder kwarantyn in ’n hotelkamer sal moet deurbring nie.

Rieko Ioane, George Bridge, Damian McKenzie en Will Jordan is almal deel van die nuwe All Black-oefengroep. Foto: Getty Images

Rugby365 berig die Aussies blameer sommer Suid-Afrika en Argentinië vir die nuutste rusie tussen die bure van Australasië.

Nieu-Seeland is ongelukkig omdat hy die laaste wedstryd in die toernooi van ses weke – ’n Bledisloebeker-toets teen die Wallabies in Sydney – op 12 Desember moet speel.

Die Kiwi-regering bepaal spelers moet vir minstens twee weke in kwarantyn deurbring wanneer hulle in Nieu-Seeland aanland, wat beteken hulle sal nie betyds kan verkas om Kersfees saam met hulle gesinne te vier nie.

Die Nieu-Seelandse Rugbyunie (NZR) sê in ’n verklaring kort ná Donderdag se bekendmaking van die bepalings vir die reeks dat hy onder die indruk was dat die All Blacks se laaste wedstryd op 5 Desember sou plaasvind.

Lees ook: Sanzaar sluit Bokke in by bepalings

“Ons het nie oor hierdie skedule ooreengekom nie en ons is teleurgesteld oor die aankondiging,” sê die NZR se grootbaas, Mark Robinson.

Selfs Nieu-Seeland se premier, Jacinda Ardern, het haar oor die kwessie uitgelaat.

“Daar is ooreengekom dat daardie wedstryde teen 6 Desember voltooi sou word en as almal net hulle woord gestand doen, sal dit nie ’n kwessie wees nie,” sê sy oor die moontlike kwarantyn.

Sanzaar sê dit wil voorkom of die oplossing in die Nieu-Seelandse regering se hande rus deur sy kwarantyn-maatreëls eenvoudig te verslap.

Die Aussies is reeds in die Kiwi’s se slegte boekies nadat hulle die reg gewen het om gasheer te speel vir die toernooi, maar Rob Clarke, RA se tussentydse uitvoerende hoof, sê dié beheerliggaam is nie die vark in die verhaal nie.

Die Springbokke en die Poemas het glo daarop aangedring dat die toernooi oor ’n langer tydperk aangebied word.

“RA het op twee amptelike geleenthede sy ondersteuning gegee dat die skedule aangepas word sodat die Rugbykampioenskap oor weke beslis word,” sê Clarke.

“Dié voorstel is op albei geleenthede afgekeur. Dit beteken daar is nooit ooreengekom dat die toernooi op 5 Desember sou klaarmaak nie.”

Hy sê RA sal alles in sy vermoë doen dat die All Blacks nie Kersfees in kwarantyn moet deurbring nie.

Sanzaar, die beheerliggaam vir rugby in die Suidelike Halfrond, sê dit wil voorkom of die oplossing in die Nieu-Seelandse regering se hande rus deur sy kwarantyn-maatreëls eenvoudig te verslap.

– Sportredaksie

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Wallabies  |  Poemas  |  All Blacks  |  Sanzaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.