Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
SA Rugby laat WP wéér buk oor sake

SA Rugby is nie tevrede met die voorlegging wat die WP Rugbyunie einde Maart aan hom gedoen het nie en eis dat die unie nog dokumente voorlê om te bewys hy is finansieel op sy voete.

Vyftien senior WP-klubs het SA Rugby verlede maand gevra om in te gryp by WP se sake nadat hulle “alle vertroue” in die WP se bestuur verloor het.

SA Rugby het sedertdien met WP vergader, waarna die unie voor ’n ultimatum gestel is om op sekere kernvrae te antwoord. Hoewel WP die spertyd van 31 Maart gehaal het, verneem Rapport sy voorlegging het uit net ’n enkele brief bestaan – sonder die ondersteunende dokumente wat SA Rugby vereis het.

Dit het SA Rugby genoop om ’n nuwe ultimatum vir die indiening van die dokumente aan WP te stel.

Volgens gerugte die afgelope paar weke moes die WP geld bymekaarskraap om salarisse te betaal. Dit is deur meer as een bron aan Rapport bevestig nadat WP verlede week nie op dié vraag geantwoord het nie.

Dit blyk nou ook dat SA Rugby se vrae aan die unie wyer strek as net die kwessie of die WP nog ’n lopende saak is. Dit sluit in:

Of die WP se uitvoerende raad die mag gehad het om die hofkoste van Ronald Bantom terug te betaal nadat hy hulle hof toe gesleep het. Bantom is kort voor die 2018-verkiesing geskors oor ’n tugsaak en het ’n dringende hofbevel teen die WP aangevra, wat hy verloor het.

Ronald Bantom

Nadat Zelt Marais as WP se nuwe president verkies is, het hy die dissiplinêre ondersoek teen Bantom laat vaar. Marais het die uitvoerende komitee “verstom” deur te eis dat Bantom se regskoste deur die WP betaal word – al het die WP die saak met koste gewen. Dit het uiteindelik meer as R207 000 beloop terwyl WP se regskoste – wat volgens die hof deur Bantom betaal moet word – amper R400 000 was.

Hulle glo dié besluit is strydig met die grondwet en dat WP antwoorde verskuldig is.

Of die WP se uitvoerende bestuur doelbewus die hoofraad van klubs mislei het oor wat die ontwikkelingsooreenkoms met Flyt Properties behels het. Die 15 gegriefde klubs beweer misleidende inligting is deurgegee oor waarom die ooreenkoms met Investec gestaak is, en dat Marais en die uitvoerende komitee nie in die beste belang van WP opgetree het nie.

Die klubs beweer ook dat hulle deur die WP-raad mislei is oor die eiendomme van WP wat as sekuriteit verpand is.

As bevind word dat die uitvoerende raadslede nie in WP se beste belange opgetree het nie, kan hulle verbied word om weer in ’n rugbybestuurspos te dien.

Volgens die hofstukke het al die WP se uitvoerende lede die besluit om die Investec-ooreenkoms te staak, onderteken, met die uitsondering van Spencer King (wat later bedank het), Pieter Jooste en die klubrugbybestuurder, Danny Jones. 

Terwyl Flyt en Dream World eise teen WP het, is WP se standpunt dat hy net die R112 miljoen van ’n lening aan die partye verskuldig is, plus rente. Hulle eis dan ook dat Flyt die verbande op hul eiendomme  teruggee. 

Die WP se groot kopsorg is egter dat hy geld sal moet leen om Flyt terug te betaal. Volgens die hofstukke is daar ’n klousule in die ooreenkoms met Flyt dat WP nie meer as R10 miljoen by ’n derde party mag leen sonder Flyt se toestemming nie. 

“Die ooreenkoms is so goed vir Flyt – dis belaglik. Hoe het iemand eintlik gedink dis ’n goeie ding om dit so te teken,” het een ingeligte dié week aan Rapport gesê.

Marais het die ooreenkoms destyds “the deal of the century” genoem, maar etlike maande later het die WP uit die ooreenkoms probeer kom.

Geskors . . . Junaid Moerat. Foto: Die Son

Intussen duur die binnegevegte in die sakevleuel voort met Junaid Moerat se tugverhoor wat Dinsdag plaasvind. 

Moerat is aangestel as die sakevleuel se waarnemende uitvoerende hoof, maar is dadelik geskors toe Marais beweer hy het bewyse dat Moerat inligting aan die media uitgelek het oor ’n beoogde ruilooreenkoms tussen WP en Stade Francais. Moerat ontken dit.

Moerat beweer die aantygings kom van Tony McKeever, voormalige uitvoerende hoof van die Southern Spears, wat aan Die Burger bevestig het hy is ook ’n kandidaat vir die pos van uitvoerende hoof.

Ruben Machelm, wat Marais se persoonlike assistent was, is intussen as die tydelike uitvoerende hoof aangestel. 

Die WPRU en Marais het teen druktyd nie op vrae geantwoord nie. 

Meer oor:  Wpru  |  Sa Rugby  |  Junaid Moerat  |  Ultimatum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.