Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Verlies verwag van R30 m. per maand

Die Covid-19-pandemie kan SA Rugby tussen R27 miljoen en R33 miljoen per maand kos as sy belangrikste bate, sy spelers, nie teen Junie terug op die oefenveld is, en die inperking nie voor einde Mei opgehef word nie.

Die beheerliggaam moes daarom noodgedwonge ’n plan formuleer wat hom teen ’n moontlike verlies van tot R190 miljoen vanjaar sal verskans. Dit sal gedoen word deur onder meer verminderde salarisse te begin beding om die onmiddellike skade te beperk en ’n basis te vorm van die stryd vorentoe teen Covid-19 se uitwerking op die spel.

Dit blyk egter dat spelers voel hulle word “in ’n blik gedruk” en “gewere word teen hul koppe gehou” in die onderhandelinge oor verminderde salarisse.

Dit lyk ook na ’n gegewe dat die meerderheid van SA Rugby se niewinsgewende toernooie, soos die Cravenweek vir hoër- en laerskole, nie vanjaar sal plaasvind nie. Die besluit oor die afskaffing van vanjaar se Cravenweektoernooie kan binnekort deur die regering vir SA Rugby geneem word.

Eugene Henning, uitvoerende hoof van die spelersorganisasie MyPlayers. Foto: Gallo Images

Selfs vanjaar se SuperSport­reeks kan in die slag bly.

Die Curriebekerreeks sal wel voortgaan, maar daar moet nog oor ’n formaat besluit word. Die drie voorstelle op die tafel is dat die tradisieryke reeks oor ’n enkelronde, ’n dubbelronde of ’n dubbelronde in twee groepe beslis word.

Alle werknemers in Suid-Afrikaanse Rugby se salarisse gaan volgens hul vlak van inkomste gesny word.

Die presiese persentasies is nog onder bespreking en moet volgende week deur verskeie relevante direksies en komitees goedgekeur word. Die presiese persentasie is nog nie vasgestel nie.

Daar word selfs oorweeg om spelers van kleiner unies wat die minste verdien, te help om salarisverminderinge vry te spring. ’n Soortgelyke situasie heers in Engeland waar spelers onder ’n sekere salariskerf nie onderworpe aan aftrekkings is nie. Die plan is dat SA Rugby se “bedryfspaarplan”, waarvan die verminderde salaris deel vorm, op 1 Mei in werking tree.

Sou SA Rugby se spelers weer van Junie af begin oefen en die bedryf is in ’n posisie om dit te doen, sal die verlies aan inkomste aan die werknemers terugbetaal word.

SA Rugby se Covid-19-bestuurskomitee, wat onder meer uit verteenwoordigers van sy werkgewersorganisasie, MyPlayers (wat die spelers verteenwoordig), Sport Employees Unite (werknemers se vakbond) en Sareo (Suid-Afrikaanse Rugbywerkgewersvereniging) bestaan, is bewus van die paniek en onsekerheid onder die werknemers.

’n Agent en ’n administrateur het

Dit is asof ’n geweer teen hul kop gehou word om die veranderinge te aanvaar.

aan Rapport hul ontevredenheid uitgespreek oor die wyse waarop MyPlayers Vrydag se bespreking hanteer het.

“My foon lui aanhoudend. Die spelers voel asof hulle in ’n blik gedruk word en nie geraadpleeg word nie,” sê een agent.

“Dit is asof ’n geweer teen hul kop gehou word om die veranderinge te aanvaar.”

Die administrateur met wie Rapport gepraat het, beweer sekere besluite is wel al geneem, maar dat dit net in beginsel is. Dit moet nog goedgekeur word.

“En in terme van die wet kan jy nie geld van iemand se salaris aftrek sonder dat hy jou toestemming gegee het nie,” sê die administrateur.

“Elke speler moet individueel die aftrekkings goedkeur voordat dit kan gebeur.”

Ons hoop en vertrou dat die partye kan instem oor die besonderhede om die bedryf by te staan in hierdie baie uitdagende tye.

Hoewel Eugene Henning, uitvoerende hoof van MyPlayers, nie kommentaar wou lewer nie, is Rapport in besit van MyPlayers se kommunikasie aan spelers. Hierin word dit duidelik gestel daar moet nog goedkeuring vir die plan verkry word.

In dié kommunikasie word dit uitgelig dat ’n reeks van vergaderings geskeduleer is vir die volgende paar dae met die verskeie besluitnemingstrukture van die spelers, asook met elke span om spesifiek die spelers se inkoop en goedkeuring te kry.

Dit nadat SA Rugby die afgelope Vrydag ’n voorlegging aan die uitvoerende hoofde van al die rugbyunies gedoen het, met verskillende scenario’s wat ter tafel gelê is.

Die presidente sal volgende week betrek word, ná ’n tweede vergadering met die uitvoerende hoofde.

’n Ingeligte in SA Rugby het in reaksie op die paniek gesê dis egter nie beperk tot rugby nie, maar in ooreenstemming met ’n wêreldwye tendens.

“Dit word eerder as uiters ongewoon beskou as mense nie onsekerheid en paniek in hierdie tye ervaar nie,” het die ingeligte gesê.

Piet Heymans, uitvoerende hoof van Sport Employees Unite. Foto: Gallo Images

Piet Heymans, uitvoerende hoof van Sport Employees Unite (SEU), sê die Covid-19-pandemie het die partye binne die rugbybedryf bymekaargebring.

“Ons gaan binne die volgende paar dae in detail deur die in-beginsel-voorstelle werk,” sê Heymans.

“Sodra daar eenstemmigheid is oor die voorstelle en gesprekke, sal dit terugverwys word na ons lede toe en ons besluitnemingstrukture en dan is dit in die hande van die besluitnemers om dit goed of af te keur.

“Die samewerking tussen die partye is net weer ’n bewys dat in hierdie moeilike tye daar ’n dringendheid is, en ook ’n bereidwilligheid om eie belange opsy te skuif en te kyk wat belangrik is vir die groter groep, en dit is wat hierdie proses vir die rugbybedryf doen.

“Ons hoop en vertrou dat die partye kan instem oor die besonderhede om die bedryf by te staan in hierdie baie uitdagende tye.”

Meer oor:  Cravenweek  |  Koronavirus  |  Curriebeker-Reeks  |  Salarisverminderings  |  Finansiële Impak  |  Sa Rugby  |  Verlies  |  Covid-19  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.