Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
SA Rugby sê ja vir groot skuif noord

Die Suid-Afrikaanse rugbybase het ná ’n marathon-debat op ’n spesiale algemene vergadering besluit die vier bestaande Superrugby-franchises moet ’n nuwe tuiste in ’n uitgebreide Pro-reeks in die Noordelike Halfrond kry.

Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof, sê die Covid-19-pandemie en ’n eensydige besluit deur Nieu-Seelandse rugbybase het hulle genoop om vir Suid-Afrika se Superrugby-spanne ’n tuiste in die Noordelike Halfrond te vind. Foto: Gallo Images

Hoewel die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) in ’n verklaring sê hy sal nou voorlopige gesprekke met die Pro Rugby-organiseerders versnel vir dié “moontlike oorgang”, meen ingeligtes dit is terselfdertyd die doodsklok wat onafwendbaar in Superrugby se 25ste bestaansjaar lui.

Spanne van Ierland, Wallis, Skotland en Italië het sedert einde 2017 saam met die Cheetahs en die Southern Kings aan die Pro14-reeks deelgeneem.

Twaalf van die 13 plaaslike unies (Grens het nie stemreg nie) het uiteindelik – nadat daar Dinsdagmiddag verskeie kere oor die kwessie gedebatteer en gestem is – die voorstel goedgekeur.

Net die Cheetahs, wat nou hul plek in die Pro14-reeks kwyt is, se twee stemgeregtigdes het daarteen gestem.

Die Kings-franchise, wat onlangs in vrywillige likwidasie geplaas is, sal ook nie meer voortaan in dié reeks speel nie.

Saru sê die “eerste voorstel”, dat die Pro14-formaat behou word en vier Suid-Afrikaanse franchises steeds oor ’n tuiste in die Sanzaar-alliansie (die beheerliggaam wat Superrugby en die Rugbykampioenskap beheer) onderhandel, is afgekeur.

Daar sal wel gekyk word na die moontlikheid om ’n plek in ’n aangepaste Sanzaar-kompetisie te behou.

Dit word in die vooruitsig gestel dat die Cheetahs voortaan aan dié nuwe Superreeks-kompetisie sal deelneem, op sekere voorwaardes van ’n gunstige kommersiële model.

Saru het bevestig daar is op die vergadering voorgestel dat die Cheetahs aan die nuwe beplande kompetisie deelneem.

Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof, sê hulle het vanweë die Covid-19-pandemie en die eensydige besluit van die Nieu-Seelandse Rugbyunie (NZR) om met ’n plaaslike of trans-Tasmaanse kompetisie voort te gaan (in 2021), voor dié moeilike besluit te staan gekom.

Roux sê die Kiwi’s se besluit “maak dit onmoontlik om die Superreeks, waartoe al die vennote vir die volgende vyf jaar op ooreengekom het,” te lewer.

“Ons lede is opgewonde oor die vooruitsig om ’n groter voetspoor in ’n Pro-reeks te hê en ’n toekoms in die Noordelike Halfrond te verseker, maar ons sou nie die besluit geneem het as dit nie vir dié verwikkelinge was nie.”

Roux sê dat Suid-Afrikaanse rugby steeds verbind is tot die Sanzaar-vennootskap en deelname aan die Rugbykampioenskap.

“Ons sal ons Sanzaar-vennote van die besluit in kennis stel.”

Mark Alexander, president van Saru, het al die rolspelers in Suid-Afrikaanse rugby bedank.

“Dit is ongewone tye en ons sou onder normale omstandighede nie die vergadering gehad het nie.

“Maar ons moes radikale stappe doen om ’n finansiële ineenstorting weens die Covid-19-krisis te voorkom.”

Saru onderneem om die onderhandelings oor die Cheetahs se toekoms in die Suidelike Halfrond in goedertrou te doen.

Dit is die tweede keer wat die Cheetahs en die Kings die trekpas uit ’n internasionale kompetisie kry.

Dié spanne het in 2017 hul Superrugby-status verloor toe Sanzaar die getal spanne in dié kompetisie van 18 tot 15 verminder het.

Hulle het in die uitgebreide Pro12-reeks ’n nuwe heenkome gekry.

Harold Verster, besturende direkteur van die Cheetahs, sê in ’n verklaring dat hul raad oor die franchise se opsies sal besin en dan oor die pad vorentoe sal besluit.

Meer oor:  Noordelike Halfrond  |  Pro14  |  Sa Rugby  |  Superrugby  |  Suidelike Halfrond  |  Saru  |  Sanzaar  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.