Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bied kontrak tot WB aan
SA Rugby se lokaas om Rassie te hou
Rassie Erasmus
Rassie Erasmus laat waai met ’n skepdoel voor ’n Bok-toets teen Argentinië in Durban. Foto: Gallo

SA Rugby het Rassie Erasmus ’n kontrakverlenging aangebied om hom minstens tot 2023 se Wêreldbekertoernooi uit die kloue van oorsese spanne te hou.

Erasmus se huidige kontrak as SA Rugby se direkteur van rugby strek net tot volgende jaar, het Frikkie Erasmus, sy prokureur, aan Rapport bevestig.

Tot wanneer presies die Bok-meesterbrein se kontrak duur, was die afgelope week ’n bron van verwarring, want Saru het in 2018 aangekondig dat Erasmus op ’n sesjaarkontrak tot 2023 aangestel is.

Dié verwarring is nou uit die weg geruim.

Dit blyk SA Rugby se bedoeling destyds was om Erasmus vir ses jaar te kontrakteer, maar dit het nooit gebeur nie. Die rede hiervoor is onbekend, maar die beheerliggaam wil dié fout nou blitsig regstel.

Die vierjaarkontrak het die deur oopgemaak vir lande soos Engeland om na Erasmus te begin vry.

Agente het tydens die Wêreldbekertoernooi in Japan bewus geword daarvan dat Erasmus se termyn net tot 2021 strek. Hulle het begin om voelers uit te steek na klubs en ander lande wat in hom belang stel.

Die presiese rede waarom SA Rugby destyds ’n sesjaarkontrak aangekondig het, terwyl dit inderwaarheid ’n vierjaarkontrak is, is nog onbekend. Die beheerliggaam het ’n versoek om kommentaar van die hand gewys.Die kanse lyk goed dat Erasmus SA Rugby se aanbod gaan aanvaar. “Die verlenging van sy dienstermyn is in ’n gevorderde stadium en sal na verwagting in die eerskomende week gefinaliseer en afgehandel word,” het Frikkie Erasmus gister gesê.

Mark Alexander
Mark Alexander, president van SA Rugby,

Mark Alexander, president van SA Rugby, het dit die afgelope week in ’n onderhoud met die webwerf Keo.co.za dit duidelik gemaak dat hulle hard sal veg om Erasmus te behou.

“Ek sal dit weer sê. Los ons direkteur van rugby uit,” het Alexander gesê.“As rugby se internasionale agente bevestiging wil hê dat SA Rugby tot ná 2021 toegewyd teenoor Rassie is, sê ek vir jou en hulle dat ons is.”

’n Agent wat in Europa woon, het aan Keo.co.za gesê die jagseisoen op Erasmus sal oop bly totdat SA Rugby bevestiging gee dat sy kontrak ná 2021 verleng is.

Erasmus self het sy lojaliteit teenoor die Bokke op Twitter te kenne gegee. Nadat Rapport verlede Sondag berig het daar is belangstelling van die Engelse in Erasmus as ’n toekomstige plaasvervanger vir Eddie Jones, wie se kontrak ook volgende jaar klaarmaak, het Erasmus sy eie Twitter-rekening onder @RassieRugby geskep. Sy eerste twiet het gelui: “Not sure I would know what to say to any other team before a W Cup Final. Not happening!!!

”Hy het ’n video-uittreksel van sy spanpraatjie voor die Wêreldbekereindstryd teen Engeland by die twiet gevoeg. In die video het Erasmus aan die Bokke gesê hulle het geen reg om hulle oor hul foute te bekommer nie.

“As jy vandag oor jou foute bekommerd is, is jy windgat en het ’n probleem met jou ego,” het Erasmus gesê. “Manne, jy verteenwoordig nie jouself vandag nie. Ek wil hê julle manne moet verstaan ... Pieter-Steph (du Toit) waar is jy? Jy weet dat jy regtig veg vir die dinge wat in Suid-Afrika gebeur.“Siya (Kolisi) jy veg vir die volgende laaitie in Zwide om nie soos jy te ly nie. Lukhanyo (Am) jy duik vir die seun wat nie die kanse kry wat jy eindelik gekry het soos (Makazole) Mapimpi nie.

“Almal van julle het verskillende leefstyle en agtergronde.”

As Erasmus se verlengde kontrak soos verwag word dié week beklink word, sal dit Suid-Afrika sy beste kans nóg gee om op die momentum van ’n Wêreldbeker-titel voort te bou.

In 1995 kon Kitch Christie om gesondheidsredes nie voortgaan as Bok-afrigter nie, terwyl Jake White en SA Rugby se paadjies ná 2007 se WB-glorie geskei het.

Meer oor:  Sa Rugby  |  Rassie Erasmus  |  Direkteur Van Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.