Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
SA rugby se opkikker-skandaal kring uit
Die Haaie se haker en ’n gewese Jong Bokkie Monde Hadebe is vir vier jaar uit rugby geskors weens die gebruik van ’n steroïed. Foto: Gallo Images

Die opkikkerskandaal wat Suid-Afrikaanse rugby Dinsdag getref het, het verder uitgekring met die onthulling dat die Haaie-haker Monde Hadebe vir vier jaar geskors is weens die gebruik van steroïede.

Netwerk24 kan ook bevestig dat die belowende Bulle-stut Nqobisizwe Mxoli onlangs posititief getoets het vir ’n verbode middel.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids) het bevestig die 25-jarige Hadebe sal eers ná Mei 2020 sy loopbaan kan hervat.

Hadebe het die Jong Bokkies (o.20’s) in 2010 verteenwoordig en het verlede seisoen vir die Haaie Superrugby gespeel.

Khalid Galant, uitvoerende hoofbestuurder van Saids, sê Hadebe het positief getoets vir twee verskillende steroïede.

Hy is op 19 November 2015 getoets en Saids het die proses in Mei vanjaar afgehandel. 

Galant sê ’n skorsing van vier jaar is wêreldwyd die nuwe straf vir sportlui wat steroïede gebruik.

Mxoli (22), wat in 2014 ’n lid van die Suid-Afrikaanse o.20-span by die Junior Wêreldbeker-toernooi was, het Saterdag in die Superrugby-kragmeting met die Cheetahs as ’n plaasvervanger vir die Bulle op die veld gekom.

Die Blou Bulle Maatskappy (BBM) het bevestig Mxoli is nie geskors hangende die proses nie, wat beteken dat hy voorlopig vir die span in die Curriebeker-reeks kan speel.

Daar word verneem ’n verslankingsproduk wat Mxoli gebruik het, bevat vermoedelik die verbode middel.

Die Blou Bulle het bevestig dat die voormalige Junior Springbok Ngqobisizwe Mxoli positief getoets vir ’n verbode middel. Foto: Gallo Images

Daar word by Loftus Versfeld gehoop sy straf sal gering wees, omdat hy die middel glo onwetend ingekry het.

’n Speler van die Southern Kings, wat vroeër die seisoen ’n senior nasionale span verteenwoordig het, het ook onlangs positief getoets.

Saids sê talle ander jong spelers soos die o.21-slot van Grens Chase Benito (vier jaar) en die o.21-losvoorspeler van Griekwas Nico Graaff (twee jaar) is geskors.

Die voormalige flank van die OP-Kings Siyanda Mangaliso, wat in 2013 weens opkikkers geskors is, het weer positief getoets vir ’n verbode middel.

’n Agent wat hoofsaaklik spelers in die noordelike unies verteenwoordig, sê dit verbaas hom dat daar nie meer spelers is wat uitgevang word nie.

“Ek is oortuig dit is die oortjies van die seekoei. ’n Speler wat ek verteenwoordig het, het aan die begin van die seisoen erken hy gebruik steroïede.

“Ek het vir hom gesê hy laat my met geen keuse as om dit aan te meld nie. Hy het kort daarna my dienste beëindig.

“Ek dink mense sal geskok wees as die ware omvang van die probleem op die lappe moet kom.”

Sommige rugbylui meen daar word net bolangs getoets en dat dit nie ’n doeltreffende afskrikmiddel is nie.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyspelersvereniging (Sarpa) het gesê hy dra kennis van die jongste verwikkelinge, maar wou nie kommentaar lewer nie.

Ek is oortuig dit is die oortjies van die seekoei.

Nyaniso Sam, Sarpa se woordvoerder, sê dit is Saids se diskresie hoeveel spelers getoets word.

“Spelers is daarvan bewus dat hulle enige tyd gedurende die seisoen getoets kan word.

“Hoeveel spelers getoets word is vir ons irrelevant, maar dit is vir ons belangrik dat geen speler positief toets nie. 

“Of daar 100 spelers ’n dag of een in ’n maand getoets word, is nie ter sake nie. 

“Ons het saam met die spelers en unies die verantwoordelikheid om toe te sien dat niemand hom hieraan skuldig maak nie.”

Galant sê Saids probeer so onvoorspelbaar moontlik te wees met toetse.

“Hadebe is byvoorbeeld verlede jaar in die buite-seisoen getoets.

“Die unies word verplig om ons in te lig wanneer oefensessies gehou word en moet selfs spelers se woonadresse aan ons te verskaf.”

Meer oor:  Saids  |  Wada  |  Opkikkers  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.