Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
SA Rugby se president waarsku oor ras
Mark Alexander

Suid-Afrika se rugbybase is voor die stemming of die Oostelike Provinsie tot die Curriebeker se Premierliga toegelaat moet word of in die Eerste Liga sal bly deur SA Rugby se president, Mark Alexander, ernstig vermaan oor die gevolge van hul besluit.

Voordat die hoofraad van SA Rugby in Dinsdag se virtuele vergadering oor die OP se deelname gestem het, het Alexander die land se rugbybase gewaarsku dat hulle bereid moet wees om met hul besluit saam te leef.

“Voordat ons stem, moet ek iets hieroor sê,” het Alexander gesê.

“As ’n mens kyk na die (transformasie-)statistieke wat Ian (Schwartz) weekliks uitstuur, is dit baie rooi. Die regering meet ons (transformasie) jaarliks.

“Met elke besluit wat ons neem, moet ons dink watter voornemens ons aan die regering gemaak het.

“Ons moet verstaan dat ons volgende jaar gemeet word op die besluite wat ons nou neem. Ons moet kan saamleef met daardie besluite.”

Drie van Alexander se internasionale franchises, die Bulle, Haaie en Westelike Provinsie, het ag geslaan op sy waarskuwing deur saam met die OP self en Griekwas ja te stem vir die span van die Baai se deelname aan vanjaar se Premierliga.

Die gesprek teen die OP se deelname aan die Premierliga is in Dinsdag se vergadering deur die presidente van die SWD-Arende en Griffons, onderskeidelik Hennie Baartman en Randall September, gelei.

Albei dié unies, asook Boland, die Leeus, Cheetahs, Pumas, Luiperds en Valke het gestem dat die OP steeds vanjaar in die Eerste Liga speel. Die OP het Dinsdag se stemmery 8-5 verloor nadat hy ’n meerderheid van 75% stemme uit die 13 stemgeregtigdes benodig het.

Peter de Villiers se OP-span is in die proses ook ’n toelae van R7 miljoen van SA Rugby vir deelname aan vanjaar se Premierliga kwyt.

Die OP moet nou tot volgende jaar se SA Bekertoernooi wag om moontlik vir die Premierliga te kwalifiseer.

September meen as daar ’n span is wat vanjaar in die Premierliga moet speel, is dit die Griffons.

“Ons het in 2019 eerste (in die Eerste Liga) klaargemaak,” het hy gesê.

Hennie Baartman, president van die SWD-rugbyvoetbalunie. Foto: Eugene Gunning

“Ek dink ons (SA Rugby) het vroeër vanjaar ’n besluit geneem dat ons nie agt spanne in die Premierliga sal hê nie. Ons moet by daardie besluit hou.

“Die OP het (vroeër) self versoek hul wil in die Eerste Liga speel,” het September gesê.

“Ons kan nie elke jaar verander nie. Ons voel dit moet deur promosie-en-relegasie-wedstryde bepaal word.”

Baartman het sy stem vinnig by September s’n in Dinsdag se vergadering gevoeg.

“Ek ondersteun die Griffons se voorstel dat ons die status quo handhaaf met die besluit wat ons vroeër vanjaar oor die Premierliga geneem het,” het Baartman gesê.

Altmann Allers, voorsitter van die Leeus Maatskappy, is onseker waarom dit vir die OP belangrik is om vanjaar in die Premierliga te speel.

“As jy nou na die Premierliga-spanne kyk is almal daar op meriete,” het Allers gesê.

“Sover ek weet, het die OP nie die afgelope tyd die Eerste Liga gewen nie. Wat ons dan sê is dat net die Premierliga van waarde is en nie die Eerste Liga nie.

“Ek dink ons sal die verkeerde boodskap aan die ander spanne in die Eerste Liga stuur.”

André Rademan, president van die Oostelike Provinsie-rugbyunie.

André Rademan, president van die OP Rugbyunie, het egter voor die stemmery aangevoer dat deelname aan die Premierliga vir die OP belangrik is om sy topspelers te behou en borge en beleggers te lok.

“In 2017 het die OP in die Superreeks gespeel en is uitgegooi,” het Rademan gesê.

“Toe is ons na die Pro14-reeks. Ons het verstaan waarom ons nie meer daarin kan speel nie. In vier jaar het ons dus van Superrugby na die Eerste Liga getuimel. Ons speel nie nou in ’n kompetisie wat borge en beleggers lok nie.

“Ons is nou besig met twee borge en beleggers wat aan boord wil kom. Die besluit oor ons deelname aan die Premierliga is daarom baie belangrik.

“As jy na die talent in Suid-Afrika kyk, kyk hoeveel van ons spelers speel vir ander unies.

“Ons is die enigste toetsunie wat nie in die Premierliga speel nie. Hier loop nog klomp Makazole Mapimpi’s en Lukhanyo Am’s in die Baai rond wat ’n geleentheid benodig.

“Daar is ’n argument dat ons nie die Eerste Liga gewen het nie, maar ons het met klubspelers gespeel, aangesien ons professionele spelers in die Pro14 gespeel het. Ek dink nie daar is enige Eersteliga-span wat ons Pro14-span toe sou klop nie.”

Die OP is volgens sy president stabiel op die oomblik.

“Ons het die afgelope vier jaar gebruik om die unie van niks af te bou. Die volgende vier jaar is om ’n mededingende span op die veld te kry en aan swart spelers die kans te bied om uit te styg. Ons glo dit sal tot SA rugby se voordeel wees.Ons probleem is dat ons tans spelers verloor. Deelname aan die Premierliga sal verseker dat die spelers in PE bly.”

Die OP het ook steun van Zelt Marais, president van die WP, gekry.

“Ek weet ons het op die vorige vergadering ’n lang gesprek oor die samestelling van die Curriebeker gehad,” het hy gesê.

“Ek besef die OP gaan deur ’n herbou-fase, maar met die hoeveelheid spelers wat deur die Oos-Kaap kom, is dit belangrik dat ons daardie streek so spoedig moontlik ophef. Ek dink nie daar is ’n unie in die land wat nie OP-spelers gebruik nie.”

Marais het voor Dinsdag se stemmery voorgestel dat die OP vir ’n proeftydperk van minstens die volgende twee tot drie jaar in die Premierliga geplaas word.

Meer oor:  Oostelike Provinsie  |  Mark Alexander  |  Sa Rugby  |  Premierliga  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.