Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
SA Rugby stel WP voor ultimatum

SA Rugby het sy lat uit vir die Westelike Provinsie. Hy het dié unie tot einde vandeesmaand kans gegee om sy finansiële sake in orde te kry.

Zelt Marais
WP-president, Zelt Marais, skop glo teen verandering.

Rapport verneem die WP word in ’n brief voor ’n ultimatum gestel om aan sekere voorwaardes te voldoen of onder administrasie geplaas te word.

Sedert die brief vroeër vandeesmaand aan WP gerig is, woed selfs meer intense binnegevegte in die unie. Zelt Marais, president, skop glo vas teen verandering en wil blykbaar steeds beheer behou.

Dit het nou daartoe gelei dat minstens drie WP-klubs klagte teen Marais by die WPRU se uitvoerende komitee ingedien het en vra vir ’n onafhanklike ondersoek na sy bestuur van die unie. Marais se skorsing van Junaid Moerat as lid van die uitvoerende komitee, was die laaste strooi wat die klubs tot aksie laat oorgaan het.

Die WP staar twee groot eise van etlike miljoene rande in die gesig nadat Marais ’n leningsooreenkoms met Dream World tot niet verklaar het. Dream World se filiaal Flyt Properties het ’n eis van R150 miljoen ingestel. Nog ’n eis van tot R600 miljoen kan volg oor die ontwikkeling van Nuweland en die Brookside-sportterrein.

Marais het ondanks ’n regs-aanbeveling van die WP se prokureurs sy eie kop gevolg met die opskorting van die ooreenkoms met Dream World.

’n Ingeligte het die afgelope week aan Rapport gesê Marais weier om voorgesê te word en om terug te staan.  

Marais is ook agter die besluit om die WP se vorige prokureurs, Smith Tabata Buchanan Boyes, wat hulle in al hul onderhandelinge met Remgro, Investec en Flyt verteenwoordig het, te vervang. WP se nuwe regsfirma, Korbers Inc, het aan Flyt geskryf die eiendomme in Nuweland en Brookside is “onderwaardeer”.  

In WP se binnekringe word daar bespiegel dat Marais nie die “antwoorde wat hy wou gehad het” by die vorige regsfirma gekry het nie en toe besluit het om ’n ander regsfirma aan te stel.

Die uitvoerende raad het al Marais se skorsing bespreek, maar is na verneem word lugtig om tot aksie oor te gaan. Die  meeste raadslede meen Marais sal by die verkiesing in November teengestaan en dan uitgestem word.

“Hulle besef nie dat daar teen dan waarskynlik niks van WP Rugby oor sal wees nie,” het ’n ander klublid, wat een van die klaers is, aan Rapport gesê.

SA Rugby se ultimatum het gevolg nadat 15 senior klubs vroeër die maand die beheerliggaam genader het omdat hulle vertroue in die bestuur van die unie verloor het. Onder die voorwaardes in die ultimatum is dat die WP geouditeerde finansiële state vir die 2019-boekjaar moet voorlê. Die 2019-state is nog nie voorgelê nie en daar word gevrees dat die WP se geldsake meer beroerd is as wat voorgegee word. As Saru WP sou oorneem, sal dit lei tot die skorsing van die hele uitvoerende raad, en die unie sal dan onder administrasie geplaas word. 

Marais het in antwoord op Rapport se navrae gesê interne WP-sake kan nie in die media bespreek word nie. Hy het gesê Dream World se eis teen die unie het geen meriete nie en sal in die howe betwis word. 

John Dobson
Druk op Dobbo oor ‘dirty dozen’

Intussen moet John Dobson die onsekerheid onder sy topspelers hanteer om te keer dat DHL, hoofborg van die Kaapse franchise, ook die hasepad kies. Die hoofafrigter van die WP en Stormers móét ’n lys van sowat 12 spelers, wat as die “dirty dozen” in sekere kringe bekend staan, in die Kaap hou om DHL te paai.

Dobson is weens die voorwaardes onder yslike druk om Wêreldbeker-brekers soos Bongi Mbonambi en Frans Malherbe in die Kaap te hou. 

Die druk op Dobson-hulle het verhoog nadat die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, na die Haaie is, die losvoorspeler Jaco Coetzee ’n kontrak met Bath gesluit het en JD Schickerling later vanjaar na Japan vlieg om sy loopbaan daar voort te sit. 

Weens die invloed van die Covid-19-pandemie moet Malherbe nog wag om te hoor wanneer die Bokke in hul laaste toets teen die Britse en Ierse Leeus sal speel. Verloor die WP wel eindelik vir Mbonambi, Malherbe, Du Toit en Augustus saam met Kolisi, Schickerling en Coetzee, sal dit die toekomstige vennootskap met DHL onder verdere druk plaas.

Die WP probeer al maande om die wa deur die drif te kry met DHL nadat hy sy kontrak in Maart 2017 met vier jaar verleng het. Die koeriermaatskappy se naam verskyn voor op die truie van die Stormers en Westelike Provinsie se rugbyspanne, terwyl hy ook die naamregte van die Nuweland-stadion behou het.

DHL het reeds die naamregte bekom vir die Kaapstad-stadion, waar die Stormers en WP van vanjaar af begin speel het.

Ebrahim Rasool, voorsitter van die WP se sakevleuel, het op Rapport se navraag oor DHL se aandrang op topspelers as ’n bate vir sy borgskap geantwoord: “Ja, DHL wil natuurlik ’n kern van spelers hê wat die beste in hul posisies en goed vir die handelsmerk is. Ons het genoeg van hierdie kaliber spelers om die span wêreldklas, en DHL opgewonde, te hou! 

“Trouens, die voorbereidingswedstryde het die diepte van die groep getoon.”

Rasool glo DHL het dus gesien dat sy handelsmerk veilig is. “Natuurlik is spelers nie immuun teen nuusberigte nie, maar ten minste weet hulle nou dat die raadsaal deeglik besig is om ’n samehangende bestuur en finansiële volhoubaarheid te bou en die span eerste te stel. Daarom is daar nie ’n massa-uittog van spelers soos wat gerugte dit wou hê nie.

“Derdens, as die MVM-ooreenkoms deurgegaan het, sou ons nou die vraag bespreek het wie 51% van die eienaarskap van die trotse unie op ’n uitverkoping verkoop het.”

’n Ingeligte het gister aan Rapport gesê hy glo DHL sal sy borgskap verleng. ’n Aankondiging daaroor kan selfs volgens hom in die volgende week of twee verwag word.

“DHL is gelukkig,” het die bron gesê. “Die name op die lys is vervangbaar deur ander spelers. Die WP het reeds aan hul (DHL se) behoudskriteria voldoen. 

“Bongi is nie ’n deal breaker vir hulle nie. Frans sal beslis bly.”

Volgens ’n ander bron het DHL reeds sy kontrak verleng. 

Meer oor:  Wpru  |  John Dobson  |  Zelt Marais  |  Finansies  |  Sa Rugby  |  Ultimatum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.