
Eben Etzebeth / Foto: Gallo Images
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) glo in die Springbok-slot Eben Etzebeth se onskuld ondanks bewerings op sosiale media dat hy Saterdag by ’n kroeg in Langebaan by ’n rassistiese voorval en aanranding betrokke was.
“Ons vertrou ons mense om verantwoordelik op te tree en altyd die waarheid te vertel. Ons het met Eben gepraat en hy ontken ten sterkste dat daar van sy kant af enige fisieke aanranding of rassistiese beledigings was,” het Saru Maandag in ’n nuusverklaring gesê.
“Hy is ’n lid van die Sprinbgbok-groep en sal een bly tensy die polisie ons vra om dit te heroorweeg.”
Etzebeth (27), wat al die Springbokke verskeie kere aangevoer het, het na bewering met ’n groep mans gekuier toe lede van dié groep met ’n ander groep mans slaags geraak het. Die polisie ondersoek ’n klag van aanranding.
Etzebeth is op sosiale media daarvan beskuldig dat hy niks gedoen het om die bakleiery te stop nie, al het hy na bewering nie iemand self aangerand nie.
Saru het bygevoeg dat hy sy samewerking sal gee in ’n ondersoek.
“Saru is ’n wetsgehoorsame lid van die Suid-Afrikaanse samelewing en is ten sterkste teen geweld en rassistiese beledigings gekant. Daar sal geen plek in ons Wêreldbeker-groep wees vir enigiemand wat daardie beginsels minag nie,” sê die beheerliggaam.
Die Springbokke se Wêreldbeker-groep word Maandagmiddag om 15:00 aangekondig en Etzebeth se naam sal straks uitgelees word as een van die 31 uitverkorenes.