Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
SA Rugbyunie skaf Bok-kontrakte af

Die voorste Springbok-rugbyspelers wat in Suid-Afrika gesetel is, gaan in die meeste gevalle vorentoe met ’n kleiner hap van die nasionale beheerliggaam se geldkoek vrede moet maak.

Rassie Erasmus, die Springbok-afrigter, maak Vrydag in Kaapstad ’n punt by die aankondiging van Suid-Afrikaanse rugby se nuwe kontrakteringsmodel. Foto: Gallo Images

Dít nadat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) Vrydag bevestig het dat hy sy pot goud tussen talle “spelers van nasionale belang” (sogenaamde Poni-spelers, oftewel, players of national interest) wil verdeel, eerder as om slegs ’n handvol senior Bokke teen ’n groot onkoste te kontrakteer.

Saru het met sy vorige kontrakteringsmodel gepoog om sy voorste Bokke uit die kloue van oorsese klubs te hou, maar het nou die wit vlag in die stryd met die pond, euro en jen gehys.

Rassie Erasmus, die Springbok-afrigter, sê die spelerpoel vir die Springbokke sal deur ’n nuwe kontrakteringsmodel vir Suid-Afrikaanse rugby, wat Vrydag in Kaapstad bekend gemaak is, uitgebrei word. Dit kan naby aan 80 spelers wees.

“Ons het die verlede gewoonlik tussen 13 en 20 spelers gekontrakteer en hulle in Suid-Afrika probeer hou. Ons opbrengs op ons belegging die afgelope paar jaar was dat ’n handvol beserings ons begroting opgevreet het,” sê Erasmus.

Provinsies gaan vorentoe self die kontrakte van alle spelers hou, met Saru wat bykomende betalings aan die Poni-spelers sal maak.

Volgens die nuwe kontrakteringsmodel is daar drie kategorieë spelers:

1. Beroepspelers. Hulle sal vir die Superrugby, Pro14- en Curriebeker-reeks se Premierliga beskikbaar wees.

2. Semi-beroepspelers. Hulle mag slegs gekontrakteer word om in die CB-reeks se Eerste Liga en in die SuperSport-uitdaagreeks te speel.

3. Ontwikkelingspelers. Hulle is spelers van 21 of jonger, wat nie professionele kontrakte aangebied is nie, en sal in die o.21- en o.20-kompetisies speel.

Unies wat in die Super-, Pro14- en Curriebeker-reeks se Premierliga speel, mag nie meer as 45 beroepspelers kontrakteer nie en hul totale begroting mag nie R60 miljoen oorskry nie.

In die geval van Griekwas en die Pumas is dit R15 miljoen per unie.

Spanne wat in die CB-reeks se Eerste Liga speel, mag ’n maksimum van 23 beroepspelers kontrakteer. As hulle óók semi-beroepspelers kontrakteer, mag die spelerspoel altesaam nie meer as 40 wees nie. Die salarisperk is R6 miljoen per unie.

Daar is nie ’n perk op die getal ontwikkelingspelers wat unies mag kontrakteer nie, maar die totale begroting vir die groep mag nie meer as R10 miljoen vir Super- en Pro14-spanne wees nie. Daardie bedrag word in die 2021-seisoen tot R7,5 miljoen verminder. Vir elke ander span (wat nie Superrugby- of Pro14-franchises is nie) is dit R1 miljoen.

Daar word wel ’n poging aangewend om jong spelers te dwing om in Suid-Afrika te bly. ’n Speler wat sy eerste kontrak onderteken om in die Super- of Pro14-reeks te speel, sal hom outomaties daartoe verbind om vir drie jaar in Suid-Afrika te speel – onderhewig daaraan dat die speler se kontrak hernu word op dieselfde of beter bepalings voordat dit verstryk.

Die nuwe kontrakteringsmodel is vanaf die nuwe siklus op 1 November vanjaar van krag, met die salarisperk van R60 miljoen wat oor ’n tydperk van drie jaar ingefaseer word.

Daar is uit spelersgeledere nie teenkanting teen die kontrakteringsmodel nie, want hulle is deur hul spelersvereniging, MyPlayers, daarin geken.

“Ons het as bedryf besef dat ons te veel spelers het,” sê MyPlayers se besturende direkteur, Eugene Henning.

“Dis aan twee fronte ’n probleem. Eerstens bestee jy te veel geld en tweedens doen jy nie genoeg vir spelers se ontwikkeling nie. Nie al die spelers speel nie.

“Ons is uit die perspektief van die spelers positief daaroor. Op nasionale vlak maak dit voorsiening vir opvolgbeplanning, wat ons nie in die verlede gehad het nie. Meer spelers gaan in die nasionale plan betrokke wees, wat positief is en daar is ’n aansporing om die toetsspan te haal.

“Op provinsiale vlak gee dit vir spelers werksekerheid. Daar is ’n plan vir die spelers se beroepe en finansieel sal die ouens gemiddeld ’n bietjie beter daaraan toe wees.”

Meer oor:  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.