Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
SA rugbywieg sorg vir nog ’n Sesnasies-ster

Kort nadat CJ Stander as ’n Sesnasies-breker van Ierland die spel finaal gegroet het, het Duhan van der Merwe met sy vertonings vir Skotland as ’n nuwe held uit die Suid-Afrikaanse rugbywieg na vore getree.

Duhan van der Merwe
Duhan van der Merwe (middel) vier sy wendrie teen Frankryk. Foto: Getty Images

Van der Merwe was een van die voorste spelers in vanjaar se Sesnasies-reeks en het sy span Vrydagaand met twee drieë gehelp om Frankryk van ’n sege te ontsê en só hul droom te verydel om die Sesnasies-beker te wen.

’n Drie deur Van der Merwe in die doodsnikke van die wedstryd het die Hane se doppie geklink.

Sy meteoriese opgang sedert sy buiging in 2020 het hom waarskynlik in die prentjie gebring vir ’n insluiting in die span van die Britse en Ierse Leeus met verskeie kenners wat die hele reeks deur al sy lof besing.

Hy is goed op die verdediging, maar dit is sy vaartversnelling en oog vir die doellyn wat sy grootste deugde is. Van der Merwe is met vyf drieë die voorste driedrukker in die reeks.

Daar word al lank gepraat oor ’n moontlike ontmoeting tussen Van der Merwe en sy landgenote tydens die Leeu-toer.

Vir die Suid-Afrikaners Bernard le Roux en Paul Willemse, slotte van Frankryk, saam met Vlok Cilliers, die skopafrigter, was dit ’n geval van so naby, maar tog so ver vir ’n Sesnasies-kroon.

Hulle het enduit geveg en dit het by tye gelyk of hulle Skotland sou kon klop, maar hulle kon net nie die Skotte tot oorgawe dwing nie. Willemse se afwesigheid weens ’n skorsing het ook die byt uit Frankryk se verdediging gehaal.

sesnasies

Dit was ook ’n jong Franse span wat gewys het dat hulle met nog meer ervaring een van die spanne is om dop te hou by die volgende Wêreldbekertoernooi op eie bodem.

Saam met hul pak voorspelers is dit die skakelpaar Antoine Dupont en Matthieu Jalibert, en dan ook Dupont en die eerstekeuse-losskakel, Romaine Ntamack, wat eers onlangs van ’n besering herstel het, rondom wie die Franse hul wedstrydplan bou. Hardlooprugby was ook een van die groot kenmerke van die Hane.

Wallis het so byna hul Sesnasies-kroon weggesmyt toe hulle twee weke gelede teen die Franse verloor het.

Alhoewel die Walliesers uiteindelik as kampioen gekroon is, sal hulle veral spyt wees dat hulle ’n Grand Slam-kampioenskap gaan mis.

Die Rooi Drake was vuur en vlam en het vanaf die afskop van die toernooi oorheers totdat hulle in die laaste en belangrikste wedstryd gestruikel het – iets wat hulle so byna gekos het.

Maar Wayne Pivac, afrigter van Wallis, sal heel in sy skik wees met sy span se vertoning en veral die jongelinge wat met uitstekende vertonings gewys het wat hulle kan doen.

Eddie Jones, afrigter van Engeland, sal baie mooi moet verduidelik waarom hy sy pos moet behou nadat sy span slegs twee van hul vyf wedstryde kon wen. Dit sluit een teen Italië in.

Meer oor:  Frankryk  |  Skotland  |  Duhan Van Der Merwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.