Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
SA se Groot Vier ‘sal krag in Pro16 wees’

Die voorste vier Suid-Afrikaanse rugbyspanne sal ’n groot krag wees en ’n heel ander dimensie aan die Pro-rugbyreeks verleen, voorspel Johann van Graan, hoofafrigter van Munster.

In Suid-Afrikaanse rugby is daar ’n fokus op die aanpassing wat die Bulle, Haaie, Stormers en Leeus – ná ’n kwarteeu van Superrugby – op die dikwels swaar en nat velde in die Noordelike Halfrond sal moet maak in die nuwe Pro16-reeks.

Johann van Graan, hoofafrigter van Munster.Foto: Getty Images

Van Graan, ’n voormalige Springbok-hulpafrigter in sy tweede termyn as Munster-hoofbreier, sê dit sal nét so moeilik wees (vir die Europese spanne) om op Loftus Versfeld of in die Haaitenk te gaan speel.

“Dit is ’n voordeel wat albei kante toe gaan. Ek kan onthou dit was ’n totaal nuwe en vreemde ervaring vir baie van ons spelers toe ons in 2018 in die Pro14 vir die eerste keer in George en Bloemfontein teen die Kings en die Cheetahs gespeel het.

“Min van die spelers hier het al op ’n warm middag op die Hoëveld of in Durban se humiditeit gespeel.

“Ek besef dit gaan ’n heel ander uitdaging wees om in Suid-Afrika te gaan toer.”

Hy sê daar is groot opwinding by Munster om voortaan teen Suid-Afrika se vier Superrugby-spanne te speel.

“Dit is ’n wonderlike vooruitsig en ek dink rugby het dit nodig gehad.

“Superrugby was ’n ongelooflike kompetisie en ek was bevoorreg om deel te wees van ’n Bulle-span wat die titel drie keer gewen het.

“Ek onthou hoe ’n groot taak dit was om in Nieu-Seeland teen spanne soos die Crusaders en Hurricanes te speel en in Canberra teen die Brumbies.

“Nooit in my wildste drome het ek, wat ’n Pretorianer in murg en been is, gedink ek sal eendag as afrigter van ’n Ierse span by Loftus aankom om die Bulle te pak nie.

Min van die spelers hier het al op ’n warm middag op die Hoëveld of in Durban se humiditeit gespeel.
Johann van Graan

“Ek het groot agting vir Jake White (Bulle-breier) en dit wat hy in so ’n kort tyd met die span vermag het.

“Trouens, ek dink Suid-Afrikaanse rugby is op ’n uitstekende plek en sal altyd topspelers by sy franchises hê.”

Damian de Allende en RG Snyman, twee Springbok-Wêreldbekerwenners, is op Munster se boeke en Van Graan sê hulle het albei ’n groot impak op sy span, ofskoon Snyman in sy debuutwedstryd ’n ernstige kniebesering opgedoen het.

“Damian is ’n speler van wêreldgehalte en sy ervaring is ’n groot bate in die middelveld.

“Albei het hierheen gekom en het ingekoop in die Munster-kultuur.

“Ek glo RG kan die beste in die wêreld word in sy posisie en dit is waarom ons hom gekontrakteer het.”

Van Graan sê dit is moeilik om aan te dui wanneer dié Bok-slot weer sal kan speel en hy moes volstaan met ’n prognose van “in die volgende paar maande”.

Ek dink Suid-Afrikaanse rugby is op ’n uitstekende plek en sal altyd topspelers by sy franchises hê.

Hoewel daar toenemend onsekerheid is oor vanjaar se toer van die Britse en Ierse Leeus, sê Van Graan hy is hoopvol dit kan steeds die hoogtepunt van die jaar oplewer.

“Kom ons hoop daar is ’n sinvolle oplossing (te midde van die Covid-19-pandemie).

“Die Springbokke is die nr. 1-span en Jacques Nienaber is ’n uitstekende afrigter.

“Die Leeus gaan ook uiters gedug wees. Wallis en Engeland het in die Wêreldbeker-toernooi onderskeidelik tot in die halfeind- en eindstryd gevorder en Skotland het albei die spanne die laaste ruk geklop.

“Ierse rugby is net so gesond met die ongelooflike samewerking wat daar hier tussen die vier provinsies en David Nucifora (hoëprestasiebestuurder van die Ierse Rugbyunie) is.

“Dit sal ’n titaniese toetsreeks wees.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.