Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
SA skeidsregters kry koue skouer

Wêreldrugby het Suid-Afrika se skeidsregters stief behandel met die aanwys van blasers vir die Wêreldbeker-toernooi in Japan.

Jaco Peyper. Foto: Gallo Images

Slegs Jaco Peyper sal ’n fluitjie dra in dié rugbyskouspel, terwyl Marius Jonker van 20 September tot 2 November as TV-skeidsregter sal diens doen.

Selfs Australië het twee blasers by die toernooi, waarvan die omstrede Angus Gardner een is. Die ander een is Nic Berry. Dis albei se eerste Wêreldbeker-toernooi.

Gardner het verlede jaar onder groot kritiek deurgeloop toe hy versuim het om die Engelse losskakel Owen Farrell te straf vir ’n ooglopende skouerloop op die Springbok-senter André Esterhuizen.

Hy het aanvanklik sy televisie-skeidsregter geraadpleeg en besluit die duikslag was nie ’n skouerloop nie, maar ’n wettige een waarin die arms gebruik is.

Later het hy erken dat hy Farrell moes gestraf het.

Dit was egter te laat, want die Engelse het die Bokke met na dié omstrede duikslag, met 12-11 op Twickenham gewen.

Wat die oë verder laat rek, is dat Frankryk nie minder nie as vier skeidsregters by die toernooi sal hê. Hulle is Jérôme Garcès, Romain Poite, Pascal Gaüzère en Mathieu Raynal.

Suid-Afrikaanse ondersteuners sal ook swaar sluk daaraan dat iemand soos Poite bo van die ander skeidsregters in die land gekies is.

Hy sal veral onthou word vir sy omstrede beslissing in 2013 toe hy die Bok-haker Bismarck du Plessis met ’n geelkaart afgestuur het vir ’n plettervat op die All Black-losskakel Dan Carter in die toets op Eden Park in Auckland.

Hy is in die tweede helfte met nog ’n geelkaart gestraf toe sy elmboog kontak gemaak het met die keel van die flank Liam Messam. Dit het toe beteken dat Du Plessis outomaties ’n rooikaart kry en die Bokke vir die grootste deel van die tweede helfte met 14 spelers oor die weg moes kom.

Wêreldrugby – toé nog die Internasionale Rugbyraad – het later bevind dat Poite die verkeerde beslissing gemaak het.

Marius JonkerFoto: Gallo Images

Verder het Engeland ook twee skeidsregters in Wayne Barnes en Luke Pearce in die toernooi. So ook Nieu-Seeland met Ben O’Keeffe en Paul Williams.

Nigel Owens van Wallis is die enigste blaser van sy land wat met ’n fluitjie toevertrou word. Dit is sy vierde agtereenvolgende Wêreldbeker-toernooi en hy was ook die skeidsregter in 2015 se eindstryd tussen Nieu-Seeland en Australië.

Die 12 uitverkore skeidsregters het saam reeds in 457 toetse geblaas.

Van die ander voorste blasers in wêreldrugby word as assistent-skeidsregters en televisie-skeidsregters ingespan.

Mark Alexander, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, het Peyper en Jonker met hul aanstellings gelukgewens.

“Die Wêreldbeker-toernooi is die hoogtepunt van ons sport en om twee van ons beamptes op die paneel te hê, is ’n goeie prestasie. Hulle verdien dit en namens SA Rugby wil ek Jaco en Marius gelukwens,” het Alexander in ’n verklaring gesê.

Al die beamptes is op grond van hul vertonings oor ’n uitgebreide tydperk, asook hul fiksheid gekies, het die voorsitter van Wêreldrugby se wedstrydbeampte-keurkomitee, Anthony Buchanan, gesê.

Die 12 skeidsregters is: Wayne Barnes (4de WB-toernooi agtereenvolgens), Luke Pearce (albei Engeland), Jérôme Garcès, Romain Poite, Mathieu Raynal (1ste WB- (toernooi), Pascal Gaüzère (almal Frankryk), Nigel Owens (Wallis), Jaco Peyper (Suid-Afrika), Ben O’Keeffe (1ste WB-toernooi), Paul Williams (albei Nieu-Seeland), Nic Berry en Angus Gardner (albei Australië). Saam het hulle 457 toetse as skeidsregters.

Die sewe assistent-skeidsregters is: Matthew Carley (plaasvervanger-skeidsregter), Karl Dickson (albei Engeland), Andrew Brace (Ierland), Brendon Pickerill (Nieu-Seeland), Federico Anselmi (Argentinië), Shuhei Kubo (Japan) en Alex Ruiz (Frankryk). Saam het hulle 130 toetse as assistent-skeidsregters.

Die vier TV-skeidsregters is: Graham Hughes (Engeland), Rowan Kitt (Engeland), Ben Skeen (Nieu-Seeland) en Marius Jonker (Suid-Afrika). Saam het hulle 217 toetse as TV-skeidsregters.

Meer oor:  Blasers  |  Marius Jonker  |  Skeidsregters  |  Wêreldbekerrugby  |  Jaco Peyper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.