Die land se skeidsregters het nie oornag van die bestes in die wêreld in van die swakstes verander nie, maar hy voel tog dat hulle ’n “bietjie moet opskerp,” sê Phillip Bosch.

Phillip Bosch destyds in ’n Superrugby-wedstryd tussen die Cheetahs en Bulle in Bloemfontein in aksie. Foto: Gallo Images
Bosch, wat deesdae ’n skoolhoof is, was nie so lank terug nie self een van die top-skeidsregters in die land.
Verskeie kenners het die afgelope week hul teleurstelling met die standaard van die rugby in die huidige Curriebeker-reeks uitgespreek.
Van hulle, soos die voormalige Springbok-afrigter André Markgraaff, het ook ’n dwarsklap na die plaaslike skeidsregters gemik.
Volgens hom het hulle oornag van die bestes in wêreldrugby tot die swakstes agteruitgeboer.
“Ons rugby sentreer om die skrums, waar 50% van die skeidsregters se beslissings boonop verkeerd is,” het Markgraaff gesê.
“Daar is skeidsregters wat in die kompetisie (Curriebeker) reeds voor die rustyd 20 foute maak. Die afbreekpunte is die grootste grap.”
Volgens Bosch sal skeidsregters altyd gekritiseer word. Hy voel egter ook dat die standaard van skeidsregters nie heeltemal is wat dit kan wees nie.
“Daar is redes daarvoor. Daar was die afgelope jaar of wat heelwat reëlveranderinge en ek voel dis soms ’n kwessie van trial and error wanneer party skeidsregters blaas,” sê Bosch.
“SA Rugby sal dalk daaraan moet dink om die skeidsregters weer ’n bietjie op te skerp.”
Een van die beste skeidsregters in die wêreld, Angus Gardner van Australië, het ook ’n tydjie gelede aan The Roar gesê dis “uitdagend vir die skeidsregters én die spelers” wanneer reëls verander.

Die oud-skeidsregter Phillip Bosch, wat deesdae ’n skoolhoof is, sê daar moet onthou word dat skeidsregters ook maar net mense is. Foto: Facebook
“Daar is ook dae wanneer dinge eenvoudig nie vir ’n skeidsregter, ’n speler of ’n span uitwerk nie,” het Gardner gesê.
Oor die gesukkel in die vaste skrums sê Bosch dit is niks nuuts nie.
“Die meeste skeidsregters was agterlynspelers, so hulle moet leer wat daar in die skrums aangaan,” sê hy.
“Toe ek nog geblaas het, het Balie Swart (oud-Springbok voorryman) die skeidsregters gehelp om die reëls te verstaan. Hy het ons selfs laat skrum!”
Bosch sê hy het uit sy eie met kenners soos Os du Randt en Matthew Proudfoot gesels om beter insig van vaste skrums te kry.
“Dis nie die maklikste faset om te blaas nie en selfs oud-voorrymanne weerspreek hulself soms wanneer hulle oor skeidsregter-beslissings gesels.”
Bosch sê as die skrum baie keer ná mekaar sak, is dit nogal menslik dat ’n skeidsregter onder druk dalk ’n bietjie onseker voel.
Gardner het aan The Roar gesê dit gaan ook oor die twee agttalle se ingesteldheid.
“Daar is dae wat jy (die skeidsregter) soos ’n miljoen dollar lyk net omdat die twee spanne positief speel en die bal in die skrum gaan en vinnig uitkom,” het Gardner gesê.
Wat die afbreekpunte betref, voel Bosch dat dit beslis ’n plek is waar skeidsregters ekstra oplettend moet probeer wees.
Hy voel ook dat daar weer gedink moet word oor die rooikaarte wat onmiddellik uitgedeel word as daar kontak met ’n speler se kop gemaak word.
“Dit is so dat ’n mens die speler moet beskerm, maar partykeer gaan dit oor die dynamics van die game. Die speler met die bal gly, nou tref die verdediger hom teen die kop en dadelik moet hy afgestuur word met ’n rooikaart,” sê Bosch.
Volgens Bosch ly rugby as ’n skouspel daaronder wanneer een span met minder spelers as die ander span moet klaarkom.