Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
SA spanne het straks 6 weke vir Superrugby

Ses weke van plaaslike Superrugby en dan ’n Curriebeker-kompetisie tot diep in Desember.

Embrose Papier, skrumskakel van die Bulle, word deur Salmaan Moerat (nr. 4) en Ali Vermaak van die Stormers vasgevat in die spanne se Superrugby-kragmeting in Februarie op Nuweland. Daar wag straks ses weke van sulke Superrugby-derbies op ondersteuners. Foto: Gallo Images

Dít is straks hoe die Suid-Afrikaanse rugbylandskap vir die res van die seisoen daar kan uitsien.

Daar word verwag dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) in die volgende paar dae ’n aankondiging gaan maak oor wanneer die spel hervat sal word.

Die plan is glo dat die vier Superrugby-franchises mekaar eers oor ’n tydperk van ses weke die stryd sal aansê en Jake White, hoofafrigter van die Bulle, meen dit kan tot voordeel van Suid-Afrikaanse rugby wees.

“Dit is krag teen krag, soos wat jy nou in die Nieu-Seelandse kompetisie (die Aotearoa-reeks) sien.

“Dit lyk soos All Black-proewe en dit kan ook baie waardevol vir ons rugby wees.”

Daar is sover bespiegel dat ’n Curriebeker-reeks met ’n dubbelronde-formaat aan die einde van Augustus kan afskop.

Tog blyk dit of daar – soos in Nieu-Seeland en Australië – eers ’n mini-Superreeks beslis sal word.

Ná die ses weke sal die Springbokke saamtrek om vir die Rugbykampioenskap (in November en Desember) voor te berei en sal die Curriebeker-kompetisie (met die Cheetahs, Kings, Griekwas en Pumas wat hul voeg by die Westelike Provinsie, Bulle, Leeus en Haaie) straks oor ’n enkelronde beslis word.

Saru het Donderdag gesê hy is hoopvol dat daar vroeg of in die middel van September na die speelveld teruggekeer kan word.

“Ons planne sal binnekort aangekondig word met verskeie opsies wat oorweeg word,” lui die verklaring.

White sê hy en die Bulle-spelers kan nie meer wag om weer rugby te speel nie.

As ons weer kontak kan maak, sal jy waarskynlik ses weke nodig hê (voordat daar wedstryde gespeel kan word), maar ons gaan dit nie kry nie.
Jake White

“As ons weer kontak kan maak, sal jy waarskynlik ses weke nodig hê (voordat daar wedstryde gespeel kan word), maar ons gaan dit nie kry nie.

“Ons weet dít wat jy soek en dít wat jy in die Covid-19-tyd kry, is twee verskillende goed.

“Daar is so baie ter sprake, kontrakte en borgskappe wat eerbiedig moet word en die Springbokke wat speeltyd moet kry.

“Ses weke (om kontakfiks te word) sou ideaal gewees het, maar dit is nie ’n luukse wat ons het nie.”

Die Superrugby- en Curriebeker-kompetisies kan glo ook in bio-borrels gespeel word.

Vir Superrugby word Gauteng of Kaapstad oorweeg.

Jake White

Sou daar op Kaapstad besluit word, sal daar vir oulaas op Nuweland gespeel word.

White sê die Aotearoa-reeks het gewys dit is moontlik om so kort ná die inperking teen ’n hoë intensiteit te speel.

“In die Australiese kompetisie is die Brumbies die beste, maar daar is ’n massiewe verskil in intensiteit teenoor Nieu-Seeland, waar die spanne baie mededingend is.

“Dit is my plan dat die Bulle teen dieselfde intensiteit moet speel. Dit is die uitdaging en maatstaf wat gestel word (deur die Kiwi’s).”

White het ook onthul dat die Springbok-agtsteman Duane Vermeulen tans knie-rehabilitasie ondergaan.

“Duane grap daaroor en sê sy knie lyk al die afgelope tien jaar so.

“Ek dink die tyd van inperking was in daardie opsig goed vir spelers om sulke skete uit te sorteer.”

Meer oor:  Jake White  |  Suid-Afrika  |  Franchises  |  Superrugby  |  Curriebeker  |  Saru  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.