Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
SA spanne kan al van Maart af Pro-rugby speel

Suid-Afrika se vier Superrugby-franchises kan so gou as Maart 2021 reeds Pro-rugby begin speel.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het Dinsdag ná ’n spesiale vergadering van sy hoofraad aangekondig dat die Haaie, Leeus, Stormers en Bulle nou ’n nuwe tuiste in die Noordelike Halfrond gaan kry.

Die Bulle se Jade Stighling word die naweek in die hul losmaker op Loftus Versfeld deur twee Haaie vasgevat. Foto: Gallo Images

Dié viertal franchises gaan nie meer soos die afgelope 25 jaar Superrugby speel nie, maar eerder voortaan in ’n nuwe Pro16-reeks speel. Die Cheetahs en Southern Kings, wat sedert 2017 in die Pro14 gespeel het, sal nie meer saam met spanne van Wallis, Ierland, Skotland en Italië aan dié reeks deelneem nie.

Hoewel Saru Dinsdagmiddag in ’n verklaring gesê het hy sal nou voorlopige gesprekke met die organiseerders van Pro-rugby oor ’n “moontlike oorgang” versnel, word verneem dat Suid-Afrika in Maart reeds in ’n Pro16-kompetisie sal begin speel. Dít is nou as die Covid-19-pandemie nie ’n stokkie daarvoor steek nie.

Andersins sal ’n Pro16-reeks moontlik in September of Oktober 2021 afskop. Die hoop is egter dat die Stormers, Leeus, Haaie en Bulle van Maart af vir vier maande – tot Junie dus – Pro-rugby sal kan speel, om die spelers gereed te kry vir die Britse en Ierse Leeus-toer.

Die Leeus toer volgende jaar van Julie tot Augustus in Suid-Afrika. Hul eerste wedstryd is op 3 Julie in Kaapstad teen die Stormers en die toer word afgesluit met die derde toets op 7 Augustus in Johannesburg.

Owen Kock berig die huidige Pro-reeks, sonder Suid-Afrikaanse spanne, skop Vrydag af en die verwagting is dat 11 wedstryde gespeel sal word voordat die Suid-Afrikaners hulle by die reeks aansluit.

Dit is nog nie duidelik hoe die formaat sal werk ná Suid-Afrika se toetrede nie.

Saru het op Dinsdag se vergadering ook besluit dat die Cheetahs aanbeveel sal word as die Suid-Afrikaanse span in ’n moontlike nuwe Superrugby-kompetisie, wat waarskynlik ’n Super8-reeks sal wees.

Die Leeus se Jamba Ulengo word deur Stormers omring in hul Superfan-wedstryd die naweek in Pretoria. Foto: Gallo Images

Die Cheetahs sal saam met spanne van onder meer Australië en Nieu-Seeland aan só ’n nuwe reeks deelneem. Daar moet egter eers vasgestel word of die beplande kompetisie finansieel en kommersieel lewensvatbaar sal wees.

Op dié vurige vergadering het Saru ook besluit hoe die plaaslike kompetisie-struktuur vir 2021 sal lyk.

Daar sal twee plaaslike reekse wees: Eerstens ’n “SA Beker”, waarin al 14 unies in twee groepe verdeel sal word en een keer teen mekaar sal speel, voordat daar kwarteindstryde, halfeindstryde en ’n eindstryd sal plaasvind.

Ná dié reeks sal die Curriebeker-reeks volg. Die vier Pro-spanne sal saam met die voorste vier ander spanne uit die “SA Beker” in die Premierliga van die Curriebeker-reeks in aksie wees. Hulle sal in ’n dubbelronde van wedstryde teen mekaar speel, waarna ’n halfeindronde en ’n eindstryd sal volg.

Die onderste ses spanne uit die “SA Beker” sal mekaar in ’n enkelronde van wedstryde in die Eerste Liga van die Curriebeker-reeks pak, voordat daar ’n halfeindronde en ’n eindstryd sal wees.

Meer oor:  Haaie  |  Stormers  |  Leeus  |  Pro16  |  Bulle  |  Pro-Rugby  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.