Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
SA warm in ‘Reënboog’ vir Pro16 op

Die vier spanne wat Suid-Afrika vanjaar in Superrugby verteenwoordig het, sal in 2021 aan ’n Reënboogbeker-kompetisie saam met die Europese spanne van die huidige Pro14-reeks deelneem.

Duane Vermeulen (Bulle) in ’n onlangse Curriebeker-stryd teen die Haaie. Dié twee spanne, asook die Leeus en Stormers, sal van April af in die Reënboogbeker-kompetisie slaags wees. Foto: Gallo Images

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het Woensdag aangekondig dat die Leeus, Bulle, Stormers en Haaie van April af in dié nuwe reeks betrokke sal wees. Elk van die plaaslike spanne sal ’n toer van drie wedstryde na Europa onderneem, met al 12 die oorsese spanne (van Skotland, Ierland, Wallis en Italië) wat na Suid-Afrika sal reis.

Die nuwe kompetisie begin op 17 April, met die eindstryd wat op 19 Junie beslis sal word.

“Die insluiting van die Suid-Afrikaanse Superspanne in die Reënboogbeker is vir ons ’n stap in die regte rigting,” sê Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof, in die verklaring.

“Ná soveel woelinge en onsekerheid in 2020, is die vooruitsig om ’n terugkeer in ’n top-internasionale kompetisie te maak iets waarna ons regtig uitsien.”

Roux sê gesprekke oor ’n langtermynverhouding, dit wil sê ’n meer permanente toekoms vir die plaaslike spanne, word steeds gevoer.

Die tydsberekening van die Reënboogbeker is perfek.
Rassie Erasmus

Die verwagting is egter dat die vier SA Superspanne van die volgende Europese seisoen af in ’n Pro16-kompetisie sal speel.

Ook Rassie Erasmus, Saru se direkteur van rugby, het die nuwe kompetisie verwelkom.

“Die tydsberekening van die Reënboogbeker is perfek. Dit sal uiteindelik ons Superspanne weer aan ’n internasionale kompetisie laat deelneem – ná ’n jaar se afwesigheid. Dit gebeur op die ideale tyd ter voorbereiding vir die toer van die Britse en Ierse Leeus (wat op 3 Julie teen die Stormers in Kaapstad afskop).

Die 16 spanne sal in twee groepe van agt spanne verdeel word, wat elk sal bestaan uit twee Ierse, twee Suid-Afrikaanse en twee Walliese spanne, asook een elk van Skotland en Italië.

Elke span sal een keer teen elk van die ander in sy groep speel, met die spanne wat boaan hul onderskeie groepe eindig wat in die eindstryd kragte sal meet.

Sedert Covid-19 in Maart die Superreeks in sy tradisionele formaat tot ’n einde laat kom het, was Suid-Afrikaanse rugbyspanne nog nie weer in ’n internasionale kompetisie slaags nie.

Sedertdien is besluit dat die Stormers, Bulle, Leeus en Haaie nie langer in die Superreeks gaan meeding nie. Die viertal se skuif noord het ’n einde aan die Cheetahs en Southern Kings se deelname aan die Pro14-reeks beteken. – Sportredaksie

Meer oor:  Haaie  |  Pro14  |  Jurie Roux  |  Rassie Erasmus  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.