Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Saak teen oud-hoë van Bulle binnekort in hof
Xander Janse van Rensburg, voormalige hoëprestasiebestuurder van die Bulle. Foto: Gallo Images

Dit is meer as ’n jaar later, maar die saak teen die voormalige Bulle-hoë Xander Janse van Rensburg sal oplaas binnekort in die hof op die spits gedryf word.

Daar word op goeie gesag verneem die Valke se ondersoek na bedrog en ongerymdhede teen Janse van Rensburg, voormalige hoëprestasiebestuurder van die Blou Bulle Maatskappy (BBM), is afgehandel en die klagstaat is gereed.

Die saak kan volgens inligting in die volgende maand op die handelshof in Pretoria se rol geplaas word.

’n Rolspeler na aan die ondersoek sê “Janse van Rensburg se finansies is noukeurig ondersoek”.

“Dit behoort nie ’n uitgerekte hofsaak te wees nie. Hy toon berou en het uit die staanspoor sy samewerking gegee,” sê dié bron.

Dit behoort nie ’n uitgerekte hofsaak te wees nie. Hy toon berou en het uit die staanspoor sy samewerking gegee.

Janse van Rensburg, wat in Februarie verlede jaar weens gesondheidsredes uit die pos bedank het, het glo reeds in ’n beëdigde verklaring skuld erken op van die aanklagte teen hom.

Die BBM het in 2019 – kort ná Janse van Rensburg se bedanking – aangekondig hy gaan op grond van ’n forensiese verslag ’n strafregtelike klag teen dié voormalige werknemer instel.

Dit het gekom nadat verskeie aantygings van bedrog en finansiële ongerymdhede by Loftus Versfeld na vore gekom het.

Daar was sedert dié opskudding by die Bulle vrae oor hoe die beweerde misdade nie in interne ouditprosesse aan die lig gekom het nie.

Barend van Graan, voormalige uitvoerende hoof van die Blou Bul Maatskappy. Foto: Gallo Images

Barend van Graan was die BBM se uitvoerende hoof in die tydperk wat Janse van Rensburg in die Bulle se diens was (van 2012 tot 2019).

Alfons Meyer, wat Van Graan in Januarie 2019 opgevolg het, het in April verlede jaar opdrag gegee vir die forensiese ondersoek.

Edgar Rathbone, nuwe uitvoerende hoof van die Bulle, sê in reaksie daar is sedertdien ’n volledige onafhanklike ondersoek van stapel gestuur en die inligting is ook aan die owerhede oorhandig.

Hoewel die BBM in 2019 bevestig het dat daar ’n siviele eis teen dié voormalige werknemer ingestel sal word, sê Rathbone hulle wag vir die strafsaak om afgehandel te word en sal ná afloop daarvan ’n besluit neem.

Willem Strauss, die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU) se president, het verlede jaar, ná die span se teleurstellende Curriebeker-veldtog, gesê die beweerde wanbestuur en oorbesteding (van Janse van Rensburg) het “vanselfsprekend ’n invloed gehad op verskillende vlakke” en het die hoop uitgespreek dat die Bulle die hoofstuk gouer as later kan afsluit.

Meer oor:  Barend Van Graan  |  Xander Janse Van Rensburg  |  Pretoria  |  Bbm  |  Rugby  |  Bulle  |  Geld  |  Hofsaak  |  Uitvoerende Hoof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.