Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Saamgeflanste WP-span móét beter
André-Hugo Venter in aksie vir die Maties in vanjaar se Varsitybeker-reeks. Foto: Varsity Sport

Scarra Ntubeni het teruggekeer uit die Springbok-kamp, maar vir eers moet die tienerhaker André-Hugo Venter in Woensdag se Curriebeker-wedstryd teen die Vrystaat-Cheetahs in Bloemfontein die fort vir die Westelike Provinsie hou.

Dis ’n ietwat ironiese spankeuse gegewe dat André-Hugo die seun van die Vrystaat-legende André Venter is, maar so gaan dit in beroepsrugby.

John Dobson, die WP se afrigter, se agting vir die 19-jarige André-Hugo is welbekend en die speelkans wat spelers soos hy kry, gee die CB-reeks onder die huidige buitengewone omstandighede darem relevansie.

Vir die WP is dit belangrik om op die wenpad te kom. Sy laaste CB-wedstryd was ’n tuisnederlaag teen Griekwas en is gevolg deur ’n groot nederlaag van 3-49 vir die Stormers, die WP in ander gedaante, teen die Britse en Ierse Leeus.

Ironies was daar goeie dinge wat uit die wedstryd teen die Leeus gehaal kon word, vernaamlik die oorgawe waarmee die Streeptruie gespeel het. Die vernederende aspek van die telling het eers in die wedstryd se pylvak gestalte gekry.

Vir die WP is dit nou belangrik om daardie begeesterde benadering na die res van die CB-reeks toe oor te dra. Kry die Kapenaars dít reg, sal hulle teen provinsiale teenstanders veel meer wedstryde wen as verloor.

Dit (die Leeus-wedstryd) was ’n goeie ervaring, dat ons baie geleer het en dat ons dit sal onthou, maar ons het nog niks bereik nie.
Ernst van Rhyn

“Ons het vandag vir mekaar gesê dit (die Leeus-wedstryd) was ’n goeie ervaring, dat ons baie geleer het en dat ons dit sal onthou, maar ons het nog niks bereik nie,” sê Ernst van Rhyn, die WP se kaptein.

Cornel Smit is die Westelike Provinsie se binnesenter vir Woensdag se Curriebeker-wedstryd teen die Vrystaat-Cheetahs in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

“Ons het ons laaste CB-wedstryd verloor en baie mense sal voel dat ons die ondersteuners in die steek gelaat het. Ons hoop om dit binne die volgende maand of twee reg te stel. Die ondersteuners kan seker wees dat ons ons bes sal doen om die intensiteit (teen die Leeus) deur te dra . . . ongeag die teenstander, toestande of situasie.”

Benewens nasionale verpligtinge is daar beserings en die Covid-19-reëls wat opnuut vir ’n saamgeflanste WP-span sorg.

Nietemin wek van die kombinasies en jong spelers in die span belangstelling. In die afwesigheid van Rikus Pretorius en Dan du Plessis as senters speel die belowende Cornel Smit saam met die Springbok-veteraan Juan de Jongh in die middelveld.

Daar gaan ook ’n CB-buiging wees vir die belowende losskakel Sacha Mngomezulu, wat van die plaasvervangersbank af groot gemaak kan word.

’n Wedstryd soos hierdie is dus baie nuttig vir ontwikkelingsvereistes, maar terselfdertyd verwag WP-ondersteuners meer as wat hulle tot dusver gesien het – ongeag die hoeveelheid nasionale verpligtinge en skete.

Die spanne is:

Vrystaat-Cheetahs: Clayton Blommetjies, Duncan Saal, David Brits, Siya Masuku, Cohen Jasper, Brandon Thomson, Ruan Pienaar (k), Aidon Davis, Junior Pokomela, Jeandré Rudolph, Jean Droste, Rynier Bernardo, Hencus van Wyk, Marnus van der Merwe, Aluluthu Tshakweni. PLAASVERVANGERS: Louis van der Westhuizen, Cameron Dawson, Conraad van Vuuren, Victor Sekekete, Jacques Potgieter, Zinedine Booysen, Reinhardt Fortuin, Chris Smit.

Westelike Provinsie: Sergeal Petersen, Tristan Leyds, Juan de Jongh, Cornel Smit, Edwill van der Merwe, Tim Swiel, Godlen Masimla, Evan Roos, Marcel Theunissen, Nama Xaba, JD Schickerling, Ernst van Rhyn (k), Neethling Fouché, André-Hugo Venter, Leon Lyons. PLAASVERVANGERS: JJ Kotze, Dian Bleuler, Lee-Marvin Mazibuko, Simon Miller, Johan du Toit, Thomas Bursey, Sacha Mngomezulu, Leolin Zas.

Skeidsregter: Morné Ferreira

Assistent-skeidsregters: Clearance Khumalo en Philip Kotze.

TV-skeidsregter: Ben Crouse.

TV: 16:45 op SS Grandstand (201) en SS Rugby (211).


Meer oor:  Ernst Van Rhyn  |  Bloemfontein  |  Kaapstad  |  Curriebeker  |  Rugby  |  Cheetahs  |  Streeptruie  |  Wp  |  Haker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.