Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Sage kan Powell dalk breed laat glimlag

Toe die Blitsbok Dylan Sage vroeër vanjaar ’n enkelbesering opgedoen het, het hy waarskynlik gedink dat sy droom daarmee heen is om weer sy land by die Olimpiese Spele te verteenwoordig.

Dylan Sage in aksie in die Kaapstad-sewestoernooi in 2019. Foto: Gallo Images

Soos almal weet, het die noodlot intussen weens die Covid-19-pandemie so ’n skramse glimlaggie gebring vir spelers soos Sage, wat met beserings sukkel, met die nuus dat die Spele uitgestel is.

Die 28-jarige Sage het die Blitsbokke in die eerste twee toernooie van die nuwe seisoen, in Dubai en Kaapstad, verteenwoordig voordat hy hom by die Bulle in Pretoria aangesluit het. In Januarie het hy egter ’n enkelbesering opgedoen waarvoor hy geopereer moes word.

“Ek kan nie sê dat ek gelukkig is dat die Spele uitgestel is nie, want baie mense het baie hard gewerk. Maar vir my het dit op die ou einde baie goed uitgewerk omdat ek nou meer tyd vir rehabilitasie het,” sê Sage, wat Suid-Afrika ook in 2016 by die Spele in Rio de Janeiro verteenwoordig het.

“Vir baie atlete gee die uitstel die geleentheid om beter en meer voor te berei.”

Sage sien vandeesweek die dokter en hoop om ’n aanduiding te kry van wanneer hy met sy rehabilitasie kan begin.

“Ek is nie seker wanneer ek terug sal wees nie. Aanvanklik is daar vir my gesê dat dit vier tot ses maande sal wees voordat ek weer sal kan speel, maar ek hoop om gou weer terug te wees,” sê Sage, wat as senter of voorspeler in sewes diens kan doen.

Dié kleinseun van die voormalige Springbok Doug Hopwood se kontrak verstryk vanjaar by die Bulle en met die Covid-19-pandemie wat die rugbywêreld tot ’n halt geroep het, het hy onduidelikheid oor sy toekoms.

Tog sal Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, maar te dankbaar wees om volgende jaar steeds op die knoppie van iemand van Sage se kaliber te druk.

Sage se naam is dalk nie die eerste wat opduik wanneer daar oor die Blitsbokke gepraat word nie, maar sy vaardighede in die lug maak van hom ’n gedugte speler. Voeg daarby sy goeie verspreiding, verdediging en leierseienskappe en jy weet hoekom hy gesog by Powell-hulle is.

Hoewel Sage nog nooit as die Blitsbokke se kaptein vir ’n toernooi in die Wêreldreeks aangewys is nie, het hy al in sekere wedstryde die kapteinsarmband gedra – onder meer in die eindstryd van die Kaapstad-toernooi in 2019 teen Nieu-Seeland, toe die gereelde kaptein, Siviwe Soyizwapi, beseer was.

Met baie vrye tyd op hande weens die besering en inperking wat weens Covid-19 heers, kry Sage die geleentheid om by sy ander belangstellings soos lees, politieke sake, ekonomie en finansies uit te kom.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Sewes  |  Dylan Sage  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.