Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Sage se lyf seer ná terugkeer tot sewes

Die Superreeks en Curriebeker-kompetisie het hom verfris en ’n beter speler gemaak, maar Dylan Sage gee toe dit was ’n uitdaging om weer die oorgang na sewesrugby te maak.

“Dit is op ’n manier ’n nuwe begin vir my om weer sewes te speel, nie dat ek omgee nie, maar die dinamika is anders en dit is uitdagend,” het Sage aan sarugby.co.za gesê.

Die veelsydige Bulle-agterspeler Dylan Sage op die oefenveld saam met die Blitsbokke. Foto: Gallo Images

Hy sê sy lyf was seer die afgelope tyd, maar hy geniet dit om terug te wees by die Blitsbokke.

Sage het laas in Junie 2018 vir Suid-Afrika se sewesspan gespeel toe die Blitse in die Wêreldreeks-eindstryd van die Frankryk-toernooi teen Engeland geseëvier het.

Hy sal vroeg in 2020 in Pretoria weer by die Bulle aansluit vir Superrugby-diens.

Dít sal met nuwe respek vir sy spanmaats in die nasionale sewesgroep wees, sê hy.

Sage is vir die volgende twee naweke se toernooie in Dubai en Kaapstad vir die Blitsbokke beskikbaar. Hulle het Sondag in dié woestynstad in die Verenigde Arabiese Emirate aangekom.

“Ek het ’n duidelike idee wat van my verwag word. Dit is ’n taamlike prosesgedrewe stelsel, waarin elke individu rolle en verantwoordelikhede het.

“Ek wil seker maak dat ek my deel doen. Op ’n persoonlike vlak, sal ek graag fiks en beseringvry wil bly en myself in die spanstruktuur wil geniet.”

Die 2020 Olimpiese Spele in Japan is ’n duidelike doelwit vir Sage, maar hy sê dit is nie iets waarop hy nou al fokus nie.

“Ek het daarvan gedroom om in die Olimpiese Spele te speel, so die vooruitsig van ’n tweede een, is selfs beter.

“Vir nou, is dít wat die naweek gebeur egter al wat tel.”

Twee mylpale wink dié week vir Ruhan Nel in die Dubai-sewestoernooi. Foto: Gallo Images

Sy mede-vyftienman-spanmaat Ruhan Nel sê ook vir hom was die terugkeer na sewes moeilik, maar hy het gevind dat daar nou meer ervaring in die groep is.

“Daar is ’n hele paar spelers wat destyds saam met my weg is en dit het verskeie jong spelers die geleentheid gegee om ervaring op te doen.

“Dit is duidelik hoe dit daardie spelers bevoordeel het om te speel.

“Ons het ’n baie mededingende groep en jy besef, deur te kyk na die name in die (SA) akademiegroep , hoeveel diepte deur coach Neil Powell ontwikkel is,” sê Nel.

Met 49 drieë in 147 wedstryde vir die blitse, kan Nel die naweek twee groot mylpale (50 drieë en 150 wedstryde) bereik.

Hy sê dit kan maklik ’n struikelblok wees.

“Die gevaar is dat jy te hard probeer om jouself weer te bewys, wat ’n negatiewe impak op die span kan hê.”

Die Blitsbokke se Dubai-veldtog begin reeds Donderdag met ’n wedstryd teen Kenia.

Meer oor:  Sewes  |  Dylan Sage  |  Blitsbokke  |  Ruhan Nel  |  Doebai-Sewestoernooi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.