Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Saggeaarde reus Claassen se spore lê diep

Vir meeste van die jonger garde sal die afsterwe van een van Suid-Afrika se rugbylegendes, Johan Claassen, waarskynlik min betekenis hê. En wie kan hulle blameer? Sy laaste wedstryd in ’n Springbok-trui was tog in 1962.

Johan Claassen in sy speeldae. Foto: Springbok-sage

Die spore wat dié saggeaarde reus agtergelaat het, is egter moeilik om oor die hoof te sien.

In 2014 het ek ’n onderhoud met Claassen losgeslaan as deel van ’n honneurs-opdrag by die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus.

Op die ouderdom van 84 was prof. Johannes Theodorus Claassen destyds onder studente as ’n legende beskou, nie vir sy rugbyvaardighede nie, maar eerder as opvoedkundige.

Johan Claassen skud blad met Willie-John McBride van die Britse en Ierse Leeus ná ’n toets in die 1974-reeks teen die Springbokke. Foto: Gallo Images

Toe nog 23, was dié onderhoud my eerste volwaardige proeflopie as sportjoernalis.

Natuurlik het ek op elke moontlike soekenjin geboer om Claassen se geskiedenis soos ’n voorgeskrewe boek te beloer. En op sy gevorderde ouderdom sou ek sekerlik oor sommige dinge sy geheue moes verfris – of so het ek (verkeerdelik) gedink.

Met my senuwees wat hoog loop, daag ek toe byna ’n halfuur vroeg op waar hy woonagtig is.

Sy ferm handdruk laat my vingers skoon knak.

“Neem vir jou ’n sitplek in,” sê hy vriendelik terwyl ek vra waar hy gewoonlik in sy leefarea sit. “Jy kan enige plek sit,” antwoord hy.

Nog voordat ek my eerste vraag kon stel, trek Claassen weg en word ek soos ’n geskiedenisboek teruggevat in ’n tydperk voor rugby ’n voltydse beroep was, voor professionalisme die sport oorgeneem het, voor die tyd van Wêreldbeker-rugbytoernooie en voor die tyd waar reëls en regulasies deur wetenskaplikes saamgestel is. In my gedagtes speel dit skoon in wit en swart af.

“Dok (Danie) Craven was teen professionele rugby,” sê hy. “Ons het eintlik teen sy wil en sin professioneel geword, nadat ons gedwing is om dit te doen omdat al die ander rugbylande daardie roete wou stap.”

Sy gesig helder op as hy vertel van sy eerste toetsdrie in ’n Springbok-trui. Dié het in 1961 teen Skotland op Murrayfield gebeur, en ná 53 jaar was die aanloop steeds kraakvars in sy geheue.

“Doug Hopwood, die agtsteman, het in ’n skrum die bal opgetel en begin hardloop, die bal aan my uitgegee enkele treë voor die doellyn en ek het die drie gedruk.” Hy voeg by: “Dit was eintlik Hopwood se drie.”

Buiten sy krag as voorspeler het Claassen ook in 1961 op Ellispark sy veelsydigheid gewys toe hy die Bokke teen Australië aangevoer het.

In ’n tyd waar spesialis-skoppers ’n skaarsheid was en geen plaasvervangers toegelaat is nie, moes die Springbokke vinnig plan maak toe hulle vir Keith Oxlee verloor het.

Ons het eintlik teen sy wil en sin professioneel geword, nadat ons gedwing is om dit te doen omdat al die ander rugbylande daardie roete wou stap.
Johan Claassen

“Keith Oxlee was die losskakel in daardie wedstryd, maar moes die veld weens harsingskudding verlaat, toe neem ek sommer die rol van stelskopper in,” vertel Claassen.

“Ek het twee skoppe van die hoek af gemis, maar darem ook twee oorgeskop.”

Dit was die enigste suksesvolle stelskoppe in sy loopbaan.

Die Bokke wen op die ou einde die kragmeting met 28-3, met Frik du Preez as Claassen se slotmaat en Mannetjies Roux wat op buitesenter uitgedraf het.

En dan, met sy kop wat skoon in skaamte sak terwyl hy ligweg glimlag, deel Claassen die storie van die enigste vuishou wat hy ooit uitgedeel het.

Dit was Januarie van dieselfde jaar. Die Bokke het in Brittanje getoer en in ’n taai kragmeting op Twickenham teen Engeland te staan gekom.

Die Engelse slot David Marques het Claassen omgekrap . . . en daarvoor betaal.

“Hy het my baie hard in die rug met sy knie bygekom,” sê Claassen.

Soos dit ’n goeie slot betaam, het Claassen besluit genoeg is genoeg en met die aandag op die spel elders op die veld, kry hy een enkele vuishou in.

“Ná die eindfluitjie was ek op soek na ’n dokter om na my rug te kyk, toe sê hulle die dokter is net gou besig om ’n steeds lêende Marques se lip toe te werk,” vertel hy met ’n glimlag. Suid-Afrika het dié wedstryd met 5-0 gewen.

Claassen het in 1962 as speler uitgetree.

Johan Claassen in sy later jare. Foto: Argief

In 1965 word hy egter een laataand deur Craven gebel. Craven wou hoor of hy nie nog ’n laaste keer vir die Bokke wil uitdraf teen die All Blacks nie. Aanvanklik stem Claassen in, maar wys dit later van die hand.

Kort daarna neem Claassen sy plek in as Springbok-keurder en in 1970 neem hy die leisels as Springbok-afrigter.

In sy eerste seisoen as Bok-afrigter klop die Bokke die All Blacks drie keer in vier wedstryde.

“Ek het meer as een keer dankie vir die liewe Vader gesê vir die talente en geleenthede wat ek gekry het en sal ewig dankbaar daarvoor wees.”

Soos Craven oor Claassen gesê het: “Hiér is nou ’n soliede man.”

Rus in vrede, ou grote!

Meer oor:  Johan Claassen  |  Springbokke  |  Danie Craven  |  Nwu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.