Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Salaris-bloedbad wag in SA rugby
Jurie Roux, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se uitvoerende hoof.Foto: Gallo Images

Alle werknemers in Suid-Afrikaanse rugby, insluitend die spelers, gaan vrede móét maak met kleiner salarisse.

Dít is glo die kruks van ’n plan wat SA Rugby se Covid-19-bestuurskomitee saamgestel het om die bedryf teen die aanslag van dié pandemie te red. Die komitee bestaan uit verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), SA Rugby se werkgewersorganisasie, MyPlayers (wat die spelers verteenwoordig) en Sport Employees Unite (werknemers se vakbond).

’n Voorlegging is Vrydag gedoen aan rugbyunies se presidente en uitvoerende hoofde, met verskillende scenario’s wat ter tafel gelê is.

Die verwagting is dat daar eers in die “derde kwart” van 2020 weer rugby gespeel sal word, wat die Superreeks se doppie sal klink en selfs vrae oor Suid-Afrika se Julie-reeks teen Skotland en eenmalige toets teen Georgië laat ontstaan. Die Bokke se eerste toets teen die Skotte is vir 4 Julie op Nuweland geskeduleer.

“Ons het nie ’n bevestigde internasionale kalender vir die res van 2020 nie, maar ons het gebeurlikheidsplanne vir elke moontlikheid,” sê Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof.

Dis van kritieke belang vir die bedryf dat daar weer gespeel word en totdat ons weet wat die datum is, kan ons nie akkuraat voorspel wat die impak gaan wees nie.
Jurie Roux

“Dis van kritieke belang vir die bedryf dat daar weer gespeel word en totdat ons weet wat die datum is, kan ons nie akkuraat voorspel wat die impak gaan wees nie.”

Roux voeg by dat ’n plan geformuleer is om die onmiddellike skade te beperk en die basis te vorm van hul stryd vorentoe teen Covid-19 se effek op die spel.

Saru wil nie daardie plan bekend maak nie, maar Netwerk24 het by bronne uit spelersgeledere verneem dat hulle in kennis gestel is dat daar beplan word om die salarisse van alle werknemers in die spel te sny.

Die plan moet nou deur die unies se presidente en ander relevante direksies goedgekeur word. Die presiese persentasie is nog nie vasgestel nie.

Indien die bedryf in ’n posisie is om dit te doen, sal die geld terugbetaal word.

Die plan is glo vir ’n “bedryfspaarplan” om op 1 Mei in effek te kom.

Projeksies van die finansiële impak van die pandemie op inkomste uit uitsaairegte en ander inkomstebronne sal gereeld gedoen word. Die bedryfspaarplan sal dan gebruik word om die tekort aan inkomstes te absorbeer.

Aan spelers is dié gesê oor die moontlike impak:

* Die bedryfspaarplan sal almal in die bedryf (spelers en werknemers) se salarisse laat krimp.

* Indien die bedryf in ’n posisie is om dit te doen, sal werknemers terugbetaal word.

* Enige surplus in die bedryfspaarplan sal gedeponeer word in ’n “nasionale spaarfonds”, wat gebruik sal word om die impak van Covid-19 op die bedryf te bestuur.

* Sodra die bedryf na normaal terugkeer, sal die oorblywende geld oorbetaal word aan die “relevante partye” sodat werknemers terugbetaal kan word.

* Besluite oor terugbetalings sal jaarliks op 10 Februarie geneem word.


MyPlayers, die spelers se verteenwoordiger, beplan om in die komende dae met spanne te vergader om goedkeuring by spelers te kry.

’n Rolspeler betrokke by die proses het aan Cobus Claassen gesê salarisbesnoeiings is “natuurlik ’n werklikheid”.

“Hoe langer daar nie rugby gespeel kan word nie, hoe groter sal die finansiële impak wees.

“Sou die seisoen dalk selfs gekanselleer word, sal dit katastrofies wees. Daar word egter in die stadium gehoop vir ’n terugkeer teen Junie of Julie.”

Roux sê die ganse bedryf sal hande moet vat om die effek van Covid-19 op die spel te oorkom.

“Hierdie is nie ’n SA Rugby-probleem of ’n unie-probleem nie. Dis almal se probleem,” sê hy.

“Dis donker tye, maar ons is verenig in ons benadering en vasbeslote dat ons dit saam sal trotseer.”

Ian Foster, nuwe afrigter van die All Blacks. Foto: Getty Images

SA Rugby se plan volg nadat twee van sy Sanzaar-vennote, die NSRU en Rugby Australië, reeds drastiese ingrypings moes doen.

Ian Foster, die All Black-hoofafrigter, het verlede naweek bevestig dat hy en die lede van sy afrigtingspan tot salarisverlagings ingestem het en het gesê dit is onafwendbaar dat die land se topspelers dieselfde opoffering sal moet maak.

Rugby Australië (RA) se uitvoerende hoof, Raelene Castle, het die afgelope week aangekondig dat sy ’n salarisverlaging van 50% aanvaar het en dat daar noodgedwonge verdere besnoeiings in Australiese rugby sal wees in die volgende paar maande.

Meer oor:  Jurie Roux  |  Ian Foster  |  Suid-Afrika  |  Johanesburg  |  Salarisse  |  Uitvoerende Hoof  |  Bloedbad  |  Koronavirus  |  Saru  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.