Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Salusalusalu’ en Brian se rokkie

“Mooi gespeel, ou maat, hier is vir jou ’n rokkie.”

Dit klink nogal na iets wat die komediant Casper de Vries ná ’n rugbywedstryd kan kwytraak.

Die Suidsee-Barbarians wat in 1987 deur Suid-Afrika getoer het. Agter: Afa Leeuu, Hakatoa Tupoa, Koko Faamausili, Ro Hindson, Koli Rakaroi, Ace Hughes, Mush Nadolo, Ifiremi Tawake, Severo Koroduadua, Fi Finau, Sai Nautuki,. Middel: Milton Floyd (fisioterapeut), Kirk Jennings (assistentbestuurder), Pio Batiniu, Paula Nawalu, Andy Anetelea, Egala Teleni, Jo Qoro, Raks Rakai, Samiu Mohi, Vili Kakato, Tali Eteaki, Soni Vakatalai,. Voor: Epi Nautuki, Salesa Taufusi, Salu Salusalu, Sonny Rarasea, Guy Cama, Lili Lididamu, Bruce Naivogo, Bela Rara, Tina Cox (toer-sekretaresse), Arthur Jennings (afrigter/bestuurder). Foto: SA Rugbyjaarboek

Maar nee, dit was nie ou Casper Rasper nie, maar dit is sowaar iets wat gereeld in 1987 in ons land gebeur het.

Dit was toe die Suidsee-Barbarians, ’n soort voorloper vir die Moana Pasifika-span, wat hierdie naweek teen die Nieu-Seelandse Maori’s speel, hier getoer het.

Die Suidsee-Barbarians is deur Arthur Jennings afgerig en die span het uit spelers van Fidji, Samoa, Tonga en Kanada bestaan.

Jennings was die heel eerste Fidjiaan wat vir die All Blacks gespeel het en hy was ten tyde van die toer reeds ’n prominente politikus in Nieu-Seeland.

Die rebelletoer, wat deur Eerste Nasionale Bank geborg is, het destyds skokgolwe deur die wêreld gestuur.

Severo Koroduadua was een van die Suidsee-Barbarians se groot uitblinkers op toer. Foto: SA Rugbyjaarboek

Dit was nog die apartheidsjare en dit was die eerste keer dat só ’n span deur Suid-Afrika getoer het. Net een speler, die Kanadees Ro Hindson, was wit!

Die Barbarians het in 13 wedstryde gespeel, waarvan hulle tien gewen het. Hulle het meestal teen sogenaamde voerderspanne, wat spelers van alle kleure ingesluit het, gespeel.

Dit was die eerste keer dat iets op só ’n skaal op ons land se rugbyvelde gebeur het. Die Barbarians was inderdaad baanbrekers gewees.

“Die onortodokse hardlooprugby wat deur die rugbyspan van die Suidsee-Barbarians op hul toer deur Suid-Afrika ten toon gestel is, was soos ’n vars briesie vir die Suid-Afrikaanse rugbypubliek,” skryf Henk Steenkamp in 1988 se SA Rugbyjaarboek.

Maar terug na die rokkies. Die aand toe die toerspan van die vliegtuig afstap, het van die rugbyskrywers wat hulle ingewag het, gesukkel om hul lag in te hou. Want kyk, die manne dra dan rompies!

Dis dan ook sulke rompies wat die toerspan soms ná wedstryde aan die beste speler teen wie hulle daardie dag gespeel het by die onthaal oorhandig het.

Brian Hayward het op Dinsdag 22 September 1987 vir ’n Oos-Kaapse voerderspan teen die Barbarians in die ou Boet Erasmus-stadion in Port Elizabeth gespeel.

“Hulle het die hel uit ons gehardloop. Ons kon hulle omtrent nie keer nie en hulle het ver (60-0) gewen,” onthou Hayward, wat deesdae ’n onderwyser by die Laerskool Dr. Viljoen in Port Elizabeth is.

Toe gee hulle my ’n rokkie! ’n Skirt! Een met sulke patroontjies op.

“Al afdeling van die spel waarin ons sterk was, was die vaste skrums. Ek, Rohan van Zyl en Hansie Ferreira was in die voorry en ons het hulle goed aangevat.”

So goed het Hayward-hulle geskrum, dat hy by die onthaal vorentoe geroep is deur die besoekers.

“Toe gee hulle my ’n rokkie! ’n Skirt! Een met sulke patroontjies op,” vertel Hayward laggend.

Sy spanmaats het hom lekker oor dié rompie gespot, maar hy het dit vir jare soos goud bewaar tot dit iewers in ’n getrekkery ongelukkig verlore geraak het.

Brian Haywardin die Oos-Kaapse voerderspan se trui waarmee hulle teen die Suidsee-Barbarians gespeel het. Hayward het die Barbarians flou geskrum in Port Elizabeth Regs is Elandré van den Berg, wat later ’n Springbok geword het. Foto: ’n Eeu van O.P. Rugby

Die besoekers het ook twee wedstryde teen die SA Barbarians, wat basies Springbok-spanne was, gespeel.

Hulle het dié wedstryde met 30-56 en 32-38 verloor en het ook met 25-25 elk gelykop teen die SA Federasie gespeel.

Volgens Steenkamp is Jennings vir ’n tyd deur die Internasionale Rugbyraad (deesdae Wêreldrugby) geskors omdat hy die SA Rugbyraad sou mislei het oor die toer.

“Hy het voorgegee dat die spelers toestemming van hul unies gehad het om die toer te onderneem, wat nie die geval was nie,” skryf Steenkamp.

Van die spelers, soos die Fidjiaanse kaptein, Esala Teleni, is later geskors.

Terug by die toer. Teleni se landgenoot Kaiava Salusalu, ’n senter, het onder die naam Salu Salusalu in Suid-Afrika gespeel en dit het verskeie kommentators duidelik groot plesier verskaf om sy gekombineerde naam af te rammel (“Salusalusalu”) wanneer hulle wedstryde uitgesaai het.

“Salusalusalu” was een van die span se groot uitblinkers. Ander uitblinkers was Koli Rakaroi, die agtsteman en kaptein, Severo Koroduadua, die heelagter, en Koko Faamausili, die makro-vleuel.

Bronne: SA Rugbyjaarboek (1988); The Fiji Sun; Fijian Culture in New Zealand – Jacqueline Leckie; ESPNscrum.com.

Kyk hier hoe hardloop Severo Koroduadua vir Fidji met die bal in een hand teen Frankryk in 1987:

Meer oor:  Moana Pasifika  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.