Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ngcobo: Van koerier tot sewes-ghoeroe
Die voormalige Blitsbok Sandile Ngcobo druk een van sy vele drieë in die Springbok-sewestrui tydens sy loopbaan as speler waarin hy twee wêreldtitels saam met die span gewen het. Hy spits hom nou daarop toe om as afrigter die volgende geslag sewessterre te brei om nog wêreldtitels vir Suid-Afrika te wen. Foto: Getty Images

Op 22-jarige ouderdom het hy “uitgetree” uit rugby omdat die spel hom nie meer so bekoor het as toe hy as junior groot potensiaal getoon het nie.

Boonop was hy maar nog ’n groentjie onder die beroepspelers toe sy kontrak by die Leeus nie hernieu is nie.

’n Donker wolk het oor hom gehang, so donker dat hy nie meer gedink het hy het ’n toekoms in rugby nie.

Sy liefde vir rugby was ook kapoet.

Sandile Ngcobo moes noodgedwonge vir hom ’n ander werk gaan vind sodat hy sy familie kon onderhou.

“Op 22 was ek klaar met rugby,” het Ngcobo die afgelope week aan Rapport vertel.

“Dis toe dat ek ’n werk by die O.R. Tambo-lughawe as koerier vir ’n maatskappy gekry het. Dit was iets anders. Maar ek moes ’n salaris verdien. Daardie tyd het ek vir my familie gesorg.”

Vir Ngcobo, wat provinsiale rugby al van 13-jarige ouderdom gespeel het, het die ovaalbal reeds op ’n jong ouderdom aangetrek.

Dié boorling van Alexandra was ’n blitsige skrumskakel en hy het vir die Leeus op o.13-, o.16-, o.18- en o.21-vlak gespeel. Dit was danksy sy laerskoolrugby by die Laerskool Nobel in Modderfontein en later by Highlands Park Boys High.

Maar als het nie so voorspoedig gegaan nie. As kontrakspeler by die Leeus het dinge windskeef getrek.

My liefde vir rugby het verdwyn, dit het gevoel asof iemand dit van my weggeneem het.

“My liefde vir rugby het verdwyn, dit het gevoel asof iemand dit van my weggeneem het. Asof iemand letterlik dit uit my uit geruk het,” het Ngcobo aan Rapport vertel.

“Dis toe dat my pa my vra hoekom. Ek’t aan hom geantwoord: ‘As dit is hoe dit voel (as jy nie ’n kontrak het nie), dan wil ek nie meer speel nie.’

“Ek het toe rugby gelos, al was ek eens so lief vir die spel. Op 22-jarige ouderdom was ek werkloos.

“Op die ou einde het ek by die lughawe, van alle plekke, begin werk. Maar ek het steeds aangehou oefen asof ek ’n professionele atleet is.”

Hy kon nie net wegstap van rugby af nie en kort voor lank het hy klubrugby vir Wits begin speel. Dit was net meer as ’n jaar nadat hy “uitgetree” het.

Die einste afrigter wat hom op o.13-vlak afgerig het, Martin Scheepers, was toe die afrigter van Wits en het Ngcobo oorreed om weer sy tokse aan te trek, al was die blits skepties omdat hy toe reeds ’n voltydse werk gehad het. Dit was sy pad terug in rugby – een wat hom ’n Blitsbok sou maak en ook die brug sou bou wat hom op sy pad Stellenbosch toe sou sit om die pos van afrigter van die Blitse se Akademiespan te word.

Hy moes weer van voor af begin, want Scheepers het hom laat proewe speel om ’n plek te verdien.

Ngcobo het die eerste span gehaal.

In sy eerste paar weke terug op die rugbyveld het hy so goed vertoon dat die destydse afrigter van die Valke hom raakgesien en ’n geleentheid aangebied het.

“Ek het nog nie eens lank by Wits gespeel nie toe die Valke-afrigter in my rigting gekyk het.

“My afrigter by Wits het gesê ‘vat hom’.”

En kort voor lank het Ngcobo se professionele rugbyloopbaan ’n tweede asem gekry.

“Dis in die Eersteliga van die Curriebeker-reeks waar ek weer my voete gevind het en drieë vir die Valke gedruk het. Marius Schoeman (hoëprestasiebestuurder van die Springbok-sewes) en Neil Powell (Blitsbok-afrigter) het my daar raakgesien toe ek in Kimberley in die Interprovinsiale Sewestoernooi vir die Valke gespeel het.

“Hulle het my in 2015 by die akademie ingebring en ek het my opgang in hierdie familie gemaak.”

Ngcobo het voortgegaan om twee wêreldtitels in ’n ry saam met die Springbok-sewesspan te wen.

Hoe geheg hy aan sy spanmaats in die sewes-opset geword het, die broederband wat hulle gesmee het en die titels wat hy kon wen, is vir hom kosbaar.

Maar beserings het die laaste sê in sy loopbaan gehad met twee dyspierbeserings en die opkoms van ander Blitsbok-brekers wat hom laat besluit het om sy tokse op te hang.

Ngcobo maak die Blitsbok-speler James Murphy touwys tydens ’n gimnasiumsessie in Stellenbosch. Foto: Gallo Images

Wel, ook dit was net vir ’n wyle, want kort voor lank het hy as krag- en kondisioneringsafrigter by die einste akademie wat hom as speler ingeneem het, ingeval en weer sy tokse aangetrek.

Dinge het so goed daar gegaan dat hy onlangs as hoofafrigter van die akademiespan aangewys is.

En, sê hy, dis asof sy loopbaan ’n volle sirkel geloop het.

“Ek is baie dankbaar vir die geleentheid wat my mentors Ma­rius en Neil my gegee het. Hulle het karaktereienskappe in my gesien wat my ’n potensiële afrigter maak en my die geleentheid bied om te groei.

“Ek leer nog van almal van hulle – coach Neil, Marius en Renfred Dazel (Blitsbok-hulpafrigter).

“Dis ook ’n lekker opset om in af te rig, want almal wil altyd meer leer, almal deel met mekaar, niemand loop breëbors rond nie en almal se voete is altyd op die grond geplant.

“Natuurlik sou ek meer sewes-wedstryde wou speel, maar dis ook nie elke Springbok wat 50 toetse speel nie. Ek is net dankbaar dat ek deel kan wees van die Springbok-sewes.

“Daardie kans wat ek met die span in Hongkong gekry het as afrigter, is een waarop ek trots terugkyk.”

Ngcobo het toe saam met Schoeman ’n jong Blitsbok-span vol akademiespelers tot ’n derde plek help brei, dit terwyl die gevestigde sewes-sterre vir die Statebondspele voorberei het.

Sy hooffokus is nou om spelers vir die Blitse te help ontwikkel en die opset selfs ’n sterker een te maak as wat dit tans is.

Die beste resep is om aan te hou leer.

“Nou wil ek die beste afrigter wees wat spelers kan ontwikkel om die beste te word, maak nie saak wat hul agtergrond is of van waar hulle kom nie.

“Maar ek moet nie dink ek weet alles en is ’n afgeronde produk nie. Die beste resep is om aan te hou leer.

“Daardie tyd sonder ’n salaris, toe my familie op my staatgemaak het, het my geestelik sterk gemaak. Dit was moeilike tye.

“Maar nou kan ek dit as afrigter inspan as ’n dryfveer. Want ek het dinge deurgemaak waar ek eens gevoel het ek sou nie kon nie.

“Tot vandag toe gebruik ek daardie moeilike tydperk as motivering vir myself om nooit op te gee nie.”

Terwyl hy al soveel dinge deurgemaak het wat sy lewe verander het, beskryf Ngcobo die beste ding wat met hom gebeur het, as die dag toe hy met sy vrou, Raquel, getrou het.

“Die getroude lewe is uitdagend,” sê hy laggend.

“Maar dis so ’n mooi iets. Ek het baie meer volwasse geword en dit het my verander in ’n beter man en beter persoon.

“Die emosionele uitdagings wat ek al deur is, ek dink nie ek sou dit oorleef het sonder my vrou nie.

“Sy is daardie persoon by die huis en weg van die rugbyveld af op wie ek kan leun vir ondersteuning.”

Meer oor:  Sandile Ngcobo  |  Rugby  |  Loopbaan  |  Blitsbokke  |  Afrigter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.