
Gaan die Bokke vanjaar hulle Rugbykampioenskap-titel verdedig? Foto: Getty images
Die Springbokke begin sy veldtog om sy Rugbykampioenskaptitel te verdedig met ’n wegwedstryd teen Argentinië – in Brisbane – voor hulle “tuis” speel teen die Wallabies in Sydney.
Sanzaar, die beheerliggaam vir rugby in die Suidelike Halfrond, het sy bepalings vir die reeks oornag bekendgemaak terwyl die meeste Suid-Afrikaners vas aan die slaap was voordat hulle Donderdag Erfenisdag vier.
Suid-Afrika se deelname aan die toernooi moet nog bevestig word, maar Sanzaar het sy planne bekendgemaak vir ’n reeks wat uit 12 kragmetings bestaan en oor ses weke beslis word. Dit sal van 7 November tot 12 Desember in Australië (in Brisbane, Newcastle en Sydney) plaasvind.
Die Bokke speel op agtereenvolgende naweke teen die All Blacks – ’n wegwedstryd in Sydney voordat hulle “gasheer speel” vir die Kiwi’s in Newcastle – voordat die toernooi na Sydney vir die laaste twee rondes terugkeer.
Maar daar heers steeds onsekerheid of die Bokke sal deelneem, deels omdat plaaslike rugby in Suid-Afrika eers Saterdag hervat. In Nieu-Seeland en Australië word daar egter al maande lank rugby gespeel.
Die Bokke se afrigter, Jacques Nienaber, en sy bestuurspan is tereg bekommerd oor die Suid-Afrikaners se fiksheid, welstand en spelpeil en is daarom versigtig om te vinnig weer toetsrugby te speel.
Boonop het die Suid-Afrikaanse regering nog nie sy verbod gelig op internasionale sportbyeenkomste nie, ’n maatreël wat daargestel is weens die Covid-19-pandemie.
• RUGBYKAMPIONSKAPBEPALINGS:
Eerste ronde, 7 November - Suncorp-stadion, Brisbane:
Argentinië t. Suid-Afrika
Australië t. Nieu-Seeland
Tweede ronde, 14 November - Bankwest-stadion, Sydney:
Nieu-Seeland t. Argentinië
Suid-Afrika t. Australië
Derde ronde, 21 November - ANZ-stadion, Sydney:
Nieu-Seeland t. Suid-Afrika
Australië t. Argentinië
Vierde ronde, 28 November - McDonald Jones-stadion, Newcastle:
Argentinië t. Australië
Suid-Afrika t. Nieu-Seeland
Vyfde ronde, 5 Desember - Bankwest-stadion, Sydney:
Argentinië t. Nieu-Seeland
Australië t. Suid-Afrika
Sesde ronde, 12 Desember - ANZ-stadion, Sydney:
Suid-Afrika t. Argentinië
Australië t. Nieu-Seeland