Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Saracens-debakel: Bulle vry nou na Koch

Daar word by Loftus Versfeld planne beraam om die Saracens-vaskopstut Vincent Koch ’n nuwe rugbyheenkome in Pretoria te gee.

Dié 29-jarige Springbok is onverwags in die mark nadat Saracens die afgelope naweek weens herhaalde salarisperkoortredings in ’n opspraakwekkende stap uit die Engelse Premierliga geskop is.

Vincent Koch pronk met die Webb Ellis-beker nadat die Springbokke dit verlede jaar in Japan verower het. Foto: Getty Images

Koch, wat sedert 2016 vir Saracens speel, is nog tot 2023 by dié Londense klub gekontrakteer.

Daar word verneem die Blou Bulle Maatskappy (BBM) het reeds met onderhandelinge begin.

Gert van der Merwe, Koch se agent, sê Rassie Erasmus (direkteur van rugby) het ook reeds aangedui dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) die BBM finansieel sal steun met ’n gesamentlike kontrak.

Van der Merwe sê dit is egter nie ’n uitgemaakte saak dat Koch sal terugkeer na Suid-Afrika nie.

“Daar is ’n hele paar opsies op die tafel. Die Sale Sharks en Harlequins wil Vincent kontrakte aanbied en Montpellier (in Frankryk) stel ook baie belang,” sê hy.

“Dit is nie ’n maklike besluit nie, want Vincent is twee jaar weg van ’n Britse paspoort kry en dit was nog altyd een van sy doelwitte.”

Saracens het Vrydag met Koch en sy spanmaats vergader waarin daar ’n pleidooi gelewer is dat hulle by die beleërde klub moet aanbly. Hulle is die versekering gegee dat Saracens sy verpligtinge teenoor die spelers sal nakom.

Koch op die aanval vir Saracens. Foto: Getty Images

Dit is egter onseker hoe die proses daar sal uitsien wanneer spelers versoek om van hul kontrakte onthef te word.

Die Wallieser Liam Williams het reeds bevestig hy gaan by die Scarlets aansluit, terwyl die Engeland-slot Maro Itoje glo op die punt is om ’n kontrak met die Northampton Saints te sluit. Sy slotmaat George Kruis se kop staan Japan toe, volgens berigte in die Engelse media.

Van der Merwe sê Koch, wat verlede seisoen ’n plaasvervanger was toe die Springbokke in die Wêreldbeker-eindstryd in Japan geseëvier het, sal graag na Suid-Afrika wil terugkeer om Superrugby te speel.

Koch het voorheen vir die Stormers in die kompetisie gespeel, maar daar is reeds twee Bok-vaskoppe, Frans Malherbe en Wilco Louw, in die Kapenaars se groep. Hy het as ’n junior vir die Tukkies en die Bulle in die voorry gesak.

Die Bulle het self ’n Springbok-vaskopstut, Trevor Nyakane, en die ervare Wiehahn Herbst in hul Superrugby-groep. Alfons Meyer, die BBM se uitvoerende hoof, sê egter die Bulle stel beslis in Koch se dienste belang.

“Hy sal ’n waardevolle toevoeging wees, maar ons moet dit ook in ag neem dat ons vir Trevor en Wiehahn het en jy net 45 gekontrakteerde spelers in jou senior groep mag hê,” sê hy.

“Maar ja, ons praat met sy agent.”

Meer oor:  Saracens  |  Bulle  |  Superrugby  |  Vincent Koch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.