Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Saracens-man vervang Walters by Bokke
Andy Edwards is die Bokke se nuwe kondisioneringshoof. Foto: Getty Images

Die Engelsman Andrew Edwards is die Springbokke se nuwe hoof van atletiese prestasie, het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) aangekondig.

Hy vervang vir Aled Walters, wat in Mei as die Leicester Tigers se nuwe hoof van kondisionering aangestel is.

Edwards, die Engelse klub Saracens se kondisioneringshoof sedert 2014, begin op 1 Augustus in sy nuwe rol en sal na Suid-Afrika reis sodra internasionale vlugte hervat word.

Rassie Erasmus, Saru se direkteur van rugby, sê Edwards sal die Springbokke groot waarde bied.

“Andy bring baie internasionale kennis saam met hom wat hy gekry het in die tyd wat hy saam met top-afrigters en -spelers by Saracens gewerk het.

“Hy word hoog aangeslaan in ’n rol waar jy iemand met ’n bewese rekord en internasionale ervaring nodig het.

“Dit is ook ideaal dat hy in sy tyd by Saracens saam met verskeie Suid-Afrikaanse spelers gewerk het, wat sal help om hom in sy nuwe rol te vestig.”

Dit is ook ideaal dat hy in sy tyd by Saracens saam met verskeie Suid-Afrikaanse spelers gewerk het, wat sal help om hom in sy nuwe rol te vestig.
Rassie Erasmus

Die keuse van Edwards is ’n slim, strategiese aanstelling met die oog op die Britse en Ierse Leeus se toer aanstaande jaar.

Edwards sal goed vertroud wees met Saracens-spelers soos die Engeland-kaptein, Owen Farrell, Billy en Mako Vunipola, Elliot Daly, Jamie George en Maro Itoje, wat almal sleutelspelers vir die Leeus kan wees.

Saracens het in die afgelope 15 jaar wat Edwards by die klub betrokke is, vyf keer die Engelse Premierliga en drie Europese titels gewen.

Edwards was ook tussen 2011 en 2016 kondisioneringshoof van die Engelse Saxons (die Rose se naasbestes).

Hy beskou sy aanstelling, volgens ’n Saru-verklaring, as ’n ongelooflike geleentheid om ’n lid te word van die span wat hom verlede jaar as die wêreldkampioen in Japan onderskei het.

Jacques Nienaber, die Springbokke se hoofafrigter. Foto: Gallo Images

“Uit my gesprekke met Rassie en Jacques Nienaber (die Bokke se nuwe hoofafrigter) is dit duidelik dat daar groot klem geplaas word om ’n gesinsomgewing vir die Springbokke te skep en dit is iets wat vir my baie beteken.

“Ek en my gesin gaan na Kaapstad verhuis en ons sien baie daarna uit om almal wat betrokke is by die Springbokke te ontmoet en die diverse Suid-Afrikaanse kultuur te ervaar.

“Om met ’n nuwe groep afrigters en spelers te werk, is iets wat my baie opgewonde maak.

“Daar wag ’n massiewe uitdaging die volgende paar jaar en ek sien daarna uit om die reis saam met die span aan te pak.”

Die Ier Felix Jones, wat Swys de Bruin kort voor die Wêreldbeker-toernooi as ’n konsultant in die Springbok-kamp vervang het, is aan die begin van die jaar saam met Mzwandile Stick as agterlynafrigters aangestel.

Jones is egter, in ’n eerste vir Suid-Afrikaanse rugby, in sy tuisstad, Dublin, gevestig.

Hy sal van daar veral met Springbokke werk wat in die Noordelike Halfrond klubrugby speel.

Meer oor:  Jacques Nienaber  |  Rassie Eramus  |  Dublin  |  Suid-Afrika  |  Rugby  |  Saracens  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.