’n Gebrek aan tyd op die speelveld sal glo nie teen Saracens se spelers tel wanneer die Britse en Ierse toerspan vir die beoogde toer na Suid-Afrika gekies word nie.
Volgens Mark McCall, Saracens se direkteur, het hy dié versekering van die Leeus se afrigter, Warren Gatland, gekry.

Owen Farrell sal glo genoeg speeltyd by Saracens kry voor die Britse en Ierse Leeus se beplande toer na Suid-Afrika. Foto: Getty Images
Saracens is in Oktober verlede jaar van die Premierliga na die Eerste Liga gerelegeer omdat dié klub, wat die Pemierliga al vyf keer gewen het, salarisperk-reëls verbreek het.
Saracens speel Saterdag sy eerste wedstryd in die Eerste Liga – meer as drie maande ná die Premierliga-spanne al op 20 November met mekaar begin kragte meet het.
McCall sê hy het Gatland ingelig dat Saracens se Engelse spelers, insluitend die kaptein, Owen Farrell, en die slot Maro Itoje, in minstens vier Eersteliga-stryde en dalk ook nog die uitspeelwedstryde, sal speel voor die Leeus se toer.
“Hopelik sal ons Engelse ouens gekies word om teen Frankryk en Ierland te speel (in die Sesnasies-reeks) en dan ook in ten minste vier van die oorblywende agt Eersteliga-wedstryde kan speel,” het McCall aan The Guardian gesê.
“Ek het met Warren Gatland gesels en hy is baie gemaklik met die wedstryd-tyd wat ons spelers al gehad het. Hulle sal nie in al die wedstryde speel nie, maar hulle sal genoeg speeltyd kry en ek dink hulle sal reg wees om op die Leeus se toer te kan gaan.”
Die Leeus is geskeduleer om Suid-Afrika tussen 3 Julie en 7 Augustus vir agt wedstryde, insluitende drie toetse teen die Springbokke, te besoek.
Die reeks is egter weens die impak van die Covid-19 pandemie in die weegskaal en die kans is glo goed dat dit uiteindelik in Brittanje aangebied sal word. – Reuters