Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Saru-baas wil joernalis laat arresteer

Mark Alexander wil hê die sport­joernalis Graeme Joffe moet gearresteer word as hy weer sy voete in Suid-Afrika sit.

Die president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het ’n klag van strafregtelike laster by die polisie teen Joffe aanhangig gemaak na aanleiding van sy aantygings dat Alexander hom aan korrupsie skuldig gemaak het. 

Alexander wil met sy klag voorkom dat Joffe voortgaan met sy “onwettige en onregmatige optrede”.

Graeme Joffe

Dit kom nadat Joffe in Januarie op die BizNews-webtuiste vir Alexander daarvan beskuldig het dat hy onregmatig geld verkry het toe hy in 2010, as adjunkpresident van Saru, verseker het dat Megapro ’n kontrak kon losslaan as die eksklusiewe kommersiële agent van SA Rugby.

Joffe beweer onder meer dat Megapro die kontrak losgeslaan het sonder om daarvoor te tender, en dat Alexander R500 000 beloof is vir elk van die vyf jaar van die borgtermyn.

Die sportjoernalis woon tans in die VSA, nadat hy in 2015 beweer het sy lewe word bedreig weens sy beriggewing oor korrupsie in SA sport.

“Ek verwag hy sal iewers in die toekoms Suid-Afrika besoek en wil hê hy moet in hegtenis geneem word op aanklagte van strafregtelike laster,” sê Alexander in ’n beëdigde verklaring.

Frikkie Erasmus, Alexander se regsverteenwoordiger, het aan Rapport gesê Alexander “wil uiteraard alles in sy vermoë doen om die ongegronde lasterlike bewerings teen hom te pak en is angstig dat dit in ’n ope hof getoets word ten einde die valsheid daarvan te bewys”. 

Hy sê die notules van ’n Saru-vergadering staaf dat Alexander hoegenaamd nie betrokke was by die Megapro-kontrak nie.

“Joffe stel homself gerus dat ’n siviele regsproses teen hom sinneloos en futiel is omdat hy niks besit nie en in Amerika woon. Hy glo dat hy gevolglik effektiewelik onaantasbaar is.”

Mark Alexander

Dit is nie die eerste keer dat Joffe en Alexander koppe stamp nie. In 2013 het Saskok ’n laster-eis van R21,1 miljoen teen Joffe ingestel na aanleiding van beweringe dat Saskok oneerlik en onetie­s opgetree het.

Alexander was een van agt Sas­kok-raadslede wat die eis teen Joffe ingestel het.

Erasmus sê Joffe het “uiteindelik” met Saskok en die agt lede geskik vir ’n bedrag van R1,3 miljoen, asook die regskoste. Die betalings is deur Joffe se versekeraar uitbetaal.

“Joffe is steeds nie afgeskrik nie (waarskynlik omdat hy persoonlik niks betaal het nie, maar wel sy versekeraars) en hy gaan voort met sy lasterlike stellings en bewerings teen Mark,” sê Erasmus.

“Sy volgehoue verskoning dat hy Suid-Afrika gedwonge moes verlaat omdat hy vir sy lewe gevrees het, is natuurlik onsin. Die werklike rede is dat hy van sy skuldeisers moes wegkom. Waarom het hy nie na die polisie gegaan vir beskerming of ’n klag aanhangig gemaak nie?”

Joffe sê hy staan by wat hy in die BizNews-berig geskryf het en dat Alexander “binnekort verder aan die kaak gestel sal word”.

Die waarheid maak duidelik seer. Dit is tyd dat Alexander sy oortredings erken en uit sy posisie in Saru bedank.
Graeme Joffe

“Die waarheid maak duidelik seer,” het Joffe aan Rapport gesê oor Alexander se verklaring aan die polisie.

“Dit is tyd dat Alexander sy oortredings erken en uit sy posisie in Saru bedank.

“Ek is ook nuuskierig oor hoekom hy nie vroeër opgetree het toe ek die storie meer as drie jaar gelede gebreek het nie?”

Joffe sê hy vermoed Saru se uitvoerende raad raak “moeg vir negatiewe beriggewing” en dat Alexander, met die Saru-verkiesing om die draai, moet wys “hy doen iets”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.