Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Besuiniging kan einde vir jonges wees

Suid-Afrikaanse rugby sal mooi moet besin oor die land se o.21-spelers, wat nie in 2020 in die unies se senior, gekontrakteerde groepe ingesluit word nie.

“Ons kan nie bekostig dat ons talentvolle jong spelers verlore gaan in die poging om finansieel volhoubaar te bly nie,” maan Alan Zondagh, die Bulle se direkteur van rugby.

Alan Zondagh, die Bulle se direkteur van rugby. Foto: Gallo Images

Die Blou Bulle se o.21-span het Saterdag in Bloemfontein, onder die oud-Bul-afrigter Nollis Marais se breierskap, die nasionale titel gewen toe hy die Westelike Provinsie in die eindstryd verslaan het.

Zondagh sê ’n hele paar van die opkomende sterre in dié span sal in die Bulle se senior groep van 45 spelers ingesluit word.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) vereis dat provinsiale unies nie meer as 45 spelers (seniors) op hulle boeke mag hê nie, terwyl daar ’n vasgestelde en beperkte begroting vir juniors (o.19 en o.21) is.

“Die vraag is, wat gebeur nou met die o.21’s wat nie ons senior groep haal nie?

“Dit is spelers in wie jy drie jaar belê het, te oud is om op o.21-vlak te speel, maar ook nog nie gereed is vir Superrugby nie.

“Ons is bekommerd daaroor en daar sal koppe bymekaar gesit moet word oor die kwessie.”

Zondagh het in Maart vanjaar, kort nadat hy in dié pos aangestel is, gesê daar is meer as 100 spelers oortollig in die nuwe struktuur wat by unie in werking gestel is.

Om vorentoe finansieel volhoubaar te wees, moet daar teen volgende seisoen net sowat 80 gekontrakteerde spelers by Loftus Versfeld wees.

Die Bulle begin op 8 Oktober met hul voorseisoen vir aanstaande jaar se Superreeks.

Pote Human, die hoofafrigter, het die uitdaging om opvolgers vir Jesse Kriel, Handré Pollard, Duane Vermeulen, RG Snyman, Lood de Jager, Jason Jenkins en Schalk Brits te vind.

Zondagh sê hoewel dit ’n groot slag is om soveel Springbokke in die bestek van een seisoen te verloor, “gaan dit nie help om in sak en as te sit nie”.

“Die jong manne gaan gouer aan Superrugby blootgestel word. Ons moet toesien dat hulle vinniger afgeronde spelers word, wat kan aanpas by die uitdagings van die kompetisie.”

Zondagh sê van die belowende spelers sal sterk op die voorgrond tree en kort voor lank ook weer deur oorsese klubs opgeraap word.

“Dan begin ons van voor af. Dit is ’n deurlopende uitdaging en elke franchise gaan noukeurig moet beplan.”

Die Blou Bulle Maatskappy (BBM) het reeds bekend gemaak dat twee voormalige Bulle, die losskakel Morné Steyn en die slot Juandré Kruger, terugkeer Loftus toe.

So ook ’n voormalige kaptein van die Leeus, Josh Strauss, wat nie Skotland se Wêreldbeker-groep gehaal het nie.

Meer oor:  Nollis Marais  |  Alan Zondagh  |  Pote Human  |  Bulle-O.21-Rugbyspan  |  O.21-Rugby  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.