Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Saru dok miljoene op vir Kings-salarisse
Tazz Fuzani, ’n gevestigde slot, is een van die spelers wat nie ’n kontrak aangebied is by die Southern Kings nie. Foto: Gallo

Te midde van die OP Rugbyunie se voortslepende likwidasieproses wat etlike miljoene rande beloop, vind die beleërde Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) steeds fondse om aansienlike Superrugbykontrakte vir die spelers van die Southern Kings uit te deel.

Netwerk24 is in besit van ’n ondertekende kontrak waarby die betrokke speler, wat as onervare op dié vlak beskou kan word, maandeliks R35 000 oor ’n tydperk van nege maande sal verdien.

Dié bedrag is veral rojaal as daar in ag geneem word dat dié bedrag glo die laagste pakket is waarvoor ’n speler van die Oos-Kaapse franchise kan kwalifiseer.

Daar word betroubaar verneem 10 spelers het reeds kontrakte gesluit, wat beteken daardie uitgawe alleen beloop teoreties ’n minimum van R3,15 miljoen.

’n Superrugbygroep bestaan gewoonlik uit tussen 32 en 35 spelers.

Dit plaas baie finansiële druk op Saru, wat deur ’n filiaal, SA Super Rugby (Edms.) Bpk, optree as administrateur van die OP-Kings en Southern Kings.

Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof, is die enigste direkteur van dié maatskappy.

Die huidige gekontrakteerde groep kos Saru reeds meer as die begroting vir 38 spelers in vanjaar se Curriebekerreeks.

Daardie bedrag het R 2 467 500 beloop.

OP-Kings 'pleeg' kontrakbreuk vroeg in Curriebeker
SA Super Rugby Ltd, die filiaal van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) wat dien as administrateur van die OP-Kings, het “regstegnies” reeds ná die eerste maand van vanjaar se Curriebekerreeks kontrakbreuk gepleeg.

Ingevolge ’n klousule in die omstrede borgskapooreenkoms tussen SA Super Rugby en die Nelson Mandelabaai Metroraad, waarby die stadsraad R6 miljoen sou betaal om die Kings in die provinsiale reeks te hou, moes SA Super Rugby teen 31 Augustus 2016 die eerste van drie maandelikse finansiële verslae verskaf het.

Dié voorwaarde is deur Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof en SA Super Rugby se enigste direkteur, onderteken.

Maar daardie sperdatum is gemis, wat luidens ’n latere klousule beteken die filiaal het nie sy verpligtinge nagekom nie.

“Ons het inderdaad nie die eerste verslag betyds ingehandig nie, maar daarna is die metroraad voortdurend op hoogte gehou van hoe die borgskapgeld aangewend is,” het ’n woordvoerder bevestig.

Dit gesê, die ooreenkoms is eers op 24 Augustus 2016 gefinaliseer, wat SA Super Rugby slegs ’n week gebied het om die maandelikse verslag gereed te kry.

Daarom is hy uitstel gegun.

Saru hou voet by stuk hy het die nodige finansiële hulpbronne om die Kings aan die gang te hou.

“Dieselfde model as vanjaar word gebruik,” het ’n woordvoerder bevestig.

“’n Gedeelte van die inkomste vir die verkoop van uitsaairegte word onder die unies verdeel. Ons stel die begroting daarvolgens op.”

Dit beteken tans SA Super Rugby het sowat R24 miljoen om te begroot vir spelers en kan tans nie staatmaak op ander borge wat ’n finansiële bydrae kan lewer nie.

Jurie Roux, hoof-uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie. Foto: Felix Dlangamandla

’n Ander turksvy is die manier waarop die Kings spelers probeer werf.

Tazz Fuzani, ’n swart slot wat voorheen vir die Westelike Provinsie uitgedraf het en nou gevestig is in die Oos-Kaap, is nie ’n kontrak aangebied nie.

Hy is glo nou op pad na die Franse span Brive toe.

Dié besluit is teenstrydig met die OP se doelwit om plaaslike swart spelers ’n mededingende grondslag te bied.

“Die kontraktering is in die hande van die afrigter. Ek glo nie hy sal daarvan hou as ander sy metodologie probeer verduidelik nie,” het die woordvoerder gesê.

Daar is wel vroeër vandeesweek genoem dat die ervare Bandise Maku, haker van die Blou Bulle, terugkeer Baai toe.

Meer oor:  Op-Kings  |  Southern Kings  |  Superrugby  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.