Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Saru geloof vir Springbok-besluit
Die Springbokke en die All Blacks sal mekaar nie vanjaar oudergewoonte in die Rugbykampioenskap pak nie. Foto: Getty Images

Fokus nou op 2021 en die Britse Leeus.

Dit is die uitgangspunt van die voormalige Springbok-kaptein Wynand Claassen nadat die Bokke aan die opkomende Rugbykampioenskap onttrek is.

Claassen sê nugter denke het genadiglik geseëvier met die besluit.

“Ons is totaal onvoorbereid en dit kon katastrofies gewees het as ons wel in die kampioenskap sou speel.

“Die Bokke is die wêreldkampioen en houer van die Rugbykampioenskapstitel en daar is so baie op die spel.

“Ek was in die verlede al baie krities teenoor die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), maar ek moet die besluitnemers dié keer loof vir ’n baie goeie besluit.”

Claassen sê volgende jaar se toer van die Britse en Ierse Leeus sal tot ’n groot mate vergoed vir die finansiële verlies wat nou gely word.

“Dit is eenvoudig, verskuif die fokus nou na die Leeus-toer.

“Dit sal ook die Curriebeker-kompetisie meer aansien gee met ons plaaslike Bokke wat in aksie gaan wees.”

Dit sal ook die Curriebeker-kompetisie meer aansien gee met ons plaaslike Bokke wat in aksie gaan wees.
Wynand Claassen

Gary Teichmann, die Bok-kaptein toe Suid-Afrika die Drienasies-titel in 1998 gewen het, sê die spelers se belange is vooropgestel met die besluit.

“Dit is jou grootste bates en daar was net te veel vrae oor ons voorbereiding.

“Ek dink ons sou kon meeding, maar ek weet nie of ons sou kon wen nie.

“Jy is net so goed soos jou laaste wedstryd en ek dink Rassie-hulle het ’n goed deurdagte besluit geneem.”

Eugene Henning, uitvoerende hoof van MyPlayers, die liggaam wat na die belange van die land se beroepsrugbyspelers omsien, sê dit sou nalatig wees om in die kampioenskap te speel.

“Ons het onafhanklike mediese advies gekry waarin voorgestel is dat die spelers minstens 400 minute op Superrugby- of Curriebeker-vlak speel voordat hulle aan toetsrugby blootgestel word.

“Dit sou onverskillig wees as die advies met die besluit opsygeskuif is.

“Jy kan die spelers eenvoudig nie aan die risiko blootstel net omdat dit kommersieel sin maak nie. Ons het die gerusstelling dat die besluit in die beste belang van ons spelers geneem is.”

Intussen word in Australiese rugbykringe gemor dat Saru ter elfder ure “die doelpale verskuif het”.

The Sydney Morning Herald berig dié besluit het die ander vennote in die Sanzaar-alliansie – Nieu-Seeland, Australië en Argentinië – heeltemal onkant betrap.

Veral nadat glo agter die skerms ingestem is dat die Bokke nog ’n maand in die Superrugby Unlocked-reeks kan speel voordat hulle hulle in Australië by die kampioenskap aansluit.

Sanzaar-bronne het aan dié publikasie gesê die Suid-Afrikaanse regering het Saru reeds op 21 September goedkeuring gegee om in die kampioenskap te speel.

Volgens die Australiese publikasie het Saru egter aangedui 500 minute van die Unlocked-Superreeks is ter voorbereiding nodig.

“Dié versoek is vreemd, gegewe dat die meeste van die Springbokke se Wêreldbeker-sterre in Engeland en Frankryk speel, waar twee maande gelede na die speelveld teruggekeer is,” lui die berig.

Volgens die Australiese publikasie het Saru egter aangedui 500 minute van die Unlocked-Superreeks is ter voorbereiding nodig.

Sanzaar het glo wel ingestem dat Suid-Afrika nog ’n maand van sy plaaslike Superrugby speel voordat na Australië gevlieg word.

Dit het meegebring dat Sanzaar en Rugby Australië (RA) Donderdag vas oortuig was dat Saru te vinde is vir die aangepaste toernooi.

“Dit is vanselfsprekend baie teleurstellend dat die Springbokke, weens die voortgesette uitdagings om die spel in die Covid-omgewing te bedryf, nie in die kampioenskap kan speel nie,” het Andy Marinos, Sanzaar se uitvoerende hoof, gesê.

Daar word druk bespiegel dat die besluit die verbrokkeling van die Sanzaar-vennootskap sal aanhelp.

Saru het reeds besluit dat sy vier Superrugby-franchises se toekoms in die Pro-reeks in Europa lê en al lank word bespiegel dat die Bokke hulle in die toekoms ook by die Sesnasies-reeks kan aansluit.

Mark Robinson, uitvoerende hoof van die Nieu-Seelandse Rugbyunie (NZR), het volgens stuff.co.nz gesê ongeag die Bokke se afwesigheid sien hulle steeds uit na fantastiese toetsrugby in die komende weke.

Meer oor:  Springbokke  |  Saru  |  Sanzaar  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.