Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Saru gooi net wyd, maar Bok-afjak vir Jake
Jake White

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) gaan sy net wyd span om die beste beskikbare kundiges te werf om Allister Coetzee, beleërde Springbokafrigter, se afrigtingspan te versterk. 

Dit sluit spesialiste van oorsee – selfs moontlik die Engelse skoplegende Jonny Wilkinson – in, maar Jake White is ondanks skynbare pogings om betrokke te raak nie by die Bokke welkom nie.

Saru hoop om Bokrugby se ­inploffing te stuit ná verlede ­naweek se rekordnederlaag teen die All Blacks in Durban, maar nie White, wat die Springbokke in 2007 tot Wêreldbekerkampioenspan afgerig het, of die voormalige Boksenter Brendan Venter sal deel wees van versterkings in dié verband nie.

Die verval van die Springbokke se agterspel en die onvermoë om skeppend in spasie te speel, maak dat een van twee agterlynspesialiste – die Leeus se Swys de Bruin en Franco Smith van die Cheetahs – nou deur Saru geteiken word om dié vrotkol reg te dokter.

Chean Roux, wat tydelik as die Bokke se verdedigingsafrigter opgetree het, is ook deur Saru vrygestel.

Hy sal nie langer deel wees van Coetzee se bestuurspan nie, met die Leeus se JP Ferreira of die Bulle se Pine Pienaar wat hom glo as die Bokke se verdedigingsafrigter sal vervang. Dié aanstelling sal net vir die duur van die jaareindtoer na Europa wees.

Chean Roux / Foto: Getty Images

De Bruin, wat saam met Johan Ackermann die tweemanskap is wat die Leeus van nulle tot bulle getransformeer het, word as ’n voortreflike kundige van skeppende agterspel beskou en sy insig en vermoë om sukses met ’n aanvallender benadering te behaal, is hoog op Saru se wenslys. Smith, afrigter van die Cheetahs, is die ander naam in die hoed. 

Hoewel Coetzee na verneem word graag vir Venter sou wou betrek, beteken sy pligte as mediese dokter en as London Irish se tegniese direkteur dat hy waarskynlik nie betrokke sal raak nie.

* White se naam verskyn nêrens op Saru se wenslys nie, maar Rapport het betroubaar verneem dat hy die afgelope week in teksboodskappe aan Coetzee sy hulp aangebied het. Volgens ingeligtes het Coetzee nie op een van die boodskappe gereageer nie.

Die omstrede White sal tot Junie volgende jaar by Montpellier as breier betrokke wees. Die eienaar en president van dié Franse klubspan, Mohed Altrad, het voorverlede week aangekondig dat hy White as breier van sy klub gaan vervang. 

* Coetzee sal Maandag met ­James Stoffberg en Francois Davids van Saru oor die aangewese kandidate vir die twee Bok-poste vergader. ’n Aankondiging van die versterkings in die bestuurspan en die Boktoergroep na Europa word ná afloop van Saterdag se Curriebekereindstryd tussen die Vrystaat-Cheetahs en die Blou Bulle verwag. 

Rudolf Straeuli / Foto: Getty Images

* Hoewel die twee voormalige Bokafrigters Nick Mallett en ­André Markgraaff die afgelope week gesê het dat hulle nie dié week se beplande krisisberaad in Kaapstad sal bywoon nie, sal ’n klein groepie oud-Springbokke wel daarby betrokke wees.

Rudolf Straeuli, Gert Smal en Gary Teichmann sal as voltydse werknemers van unies teenwoordig wees, terwyl Venter en die sportsielkundige Pieter Kruger as fasiliteerders sal optree. 

Ander oud- nasionale breiers, soos White, Peter de Villiers en Heyneke Meyer, word nie betrek nie.

Die hoop is dat groter oorkoepelende samewerking gekry sal word in belang van die nasionale span – met spesialiste wat vir 38 weke per jaar, en nie net die 14 weke wat die Bokke jaarliks saamtrek nie, by die onderskeie unies aan spesifieke swakhede sal slyp. Wilkinson se naam is reeds in dié verband genoem.

’n Dinkskrum oor kondisionering sal ook later gehou word.

Meer oor:  Bokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.