Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke se Japan-wittebrood verby
Handré Pollard se besluit om in Japan te gaan speel, kan hom duur te staan kom omdat hy nou beseer is en straks vir ses maande nie deur Saru betaal sal word nie. Foto: Gallo Images

Die gekontrakteerde Springbokke se Japanse wittebrood blyk iets van die verlede te wees.

Geeneen van die Bokke wat die afgelope 12 maande gesamentlike kontrakte met die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) en hul onderskeie unies gesluit het, sal in vanjaar se Curriebeker-reeks speel nie.

Rapport kan vandag onthul dat Saru ’n spesiale klousule in dié spelers se kontrakte ingewerk het wat bepaal dat hulle almal in Oktober vanjaar ’n blaaskans móét neem.

Die Bokke se laaste Rugbykampioenskap-toets is op 8 Oktober in Durban teen die All Blacks, waarna die gekontrakteerdes twee weke moet rus voordat hulle weer vir November se Europese toer mag begin oefen.

Die Baabaas is op 5 November op Twickenham die Bokke se eerste teenstander op dié toer.

“Die klousule is aangebring sodat ons kan verseker dat die Bokke beter bestuur word,” het ’n ingeligte bron aan Rapport gesê.

Dít volg kort nadat Handré Pollard, die Bulle- en Bok-losskakel, wat ná verlede jaar se Wêreldbekertoernooi vir die NTT Docomo Red Hurricanes in Japan gaan speel het, verlede week weens ’n kniebesering vir tot ses maande lank op die krukkelys gedwing is.

Talle van die land se voorste gekontrakteerde Bokke is ná die Wêreldbeker toegelaat om in Japan te gaan speel, aangesien Saru wou verseker dat hulle gesamentlike kontrakte sluit en nie ander oorsese aanbiedings aanvaar nie.

Rapport verneem een van die top-Bokke het die opsie van ’n kontrak van R12 miljoen per jaar in Frankryk gehad en Saru kon hom slegs met die Japanse “vergunning” gekontrakteer kry.

Die groot hoeveelheid Suid-Afrikaanse spelers wat in Japan of ná hul Oosterse besoek beseer is, het Saru gedwing om in te gryp.

“Aangesien die Bok-gekontrakteerdes in Oktober moet rus en dan in November in Europa toer, laat dit hulle met geen ruimte om in Japan te gaan speel nie, omdat spelers (volgens Japanse rugbybase) nie eers Desember daar mag aanmeld nie,” het Rapport se bron gesê.

“Daar moet in gedagte gehou word dat Saru nou tot 70% van ons topspelers se salarisse betaal . . . Daar kan wel enkele uitsonderings wees, soos byvoorbeeld Pollard, wat weens sy ­besering en min speelkans toegelaat sal word om in die Curriebeker of in Japan te gaan speel.”

  • Intussen het nóg ’n onberispelike bron aan Rapport bevestig Ian McIntosh en Peter Jooste, twee van die nasionale keurders in die Jake White- en Heyneke Meyer-era’s, het ’n brief van Saru gekry waarin bevestig is dat die Bok-keurkomitee ’n gedaanteverwisseling sal ondergaan en hul dienste nie meer benodig sal word nie.

’n Aankondiging oor die nuwe keurpaneel word binnekort verwag. Saru het sy unies vroeër gevra om geskikte kandidate te benoem.

Saru se hoëprestasiekomitee sal deur die benoemdes sif, waarna die beheerliggaam se uitvoerende komitee ’n finale besluit sal neem.

Dis nog onseker of Nick Mallett en Brendan Venter – wat as twee van die gunstelinge beskou word – hulself as keurders beskikbaar sal stel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.