Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Saru, kom red die WP,' vra klubs
Ronald Bantom

Die oorlog in die WP-raadsale woed nou so fel dat SA Rugby gevra is om in te gryp te midde van ’n dreigende paleisrevolusie in die unie.

Rapport verneem dat ’n paar dosyn klubs, onder die leiding van Tygerberg Rugbyklub, SA Rugby skriftelik versoek het om in te tree en die WPRU oor te neem. Die klubs sê hulle het “alle vertroue” in die huidige bestuur se leierskap verloor.

Tygerberg is die klub van die Springbok-keurder Peter Jooste, wat in die WP se uitvoerende komitee dien, en die oud-UK-lid Kevin Kiewitz, wat bedank het oor die manier waarop die WP weggestap het van hul eiendomstransaksie met Investec.

Die klubs se brief is gestuur teen die agtergrond van ’n beplande paleisrevolusie, wat ten doel het om die WPRU se president, Zelt Marais, met ’n mosie van wantroue uit sy pos te verwyder en binne die volgende weke met Ronald Bantom, sy eertydse vertroueling, te vervang.

Die klubs wat die brief onderteken het, voel die uitvoerende komitee in die geheel moet saam met Marais die deur gewys word.

Rapport het ’n Whats­App-boodskap wat Tygerbergklub gestuur het om steun vir sy ­ingry­pings­versoek te werf, onder oë gehad.

Hoewel Tygerberg nie kommentaar wou lewer nie, het Rapport die egtheid van die boodskap bevestig en verneem amper al die WP se senior klubs ondersteun Tygerberg se optrede.

Rapport het ook by twee bronne bevestig dat ’n hooggeplaaste amptenaar van SA Rugby Vrydag met die klubs se verteenwoordigers vergader het. Na verneem word, is daar kommer dat WP Rugby dieselfde pad as die Kings kan stap en gelikwideer kan word. SA Rugby ontvang glo reeds bekommerde navrae uit Pro14-geledere.

Volgens Tygerberg se boodskap is ingryping nodig weens:

  • Wanbestuur van WP-eiendomme met bedenklike transaksies;
  • ’n Voortdurende magstryd tussen die uitvoerende lede;
  • Deurlopende negatiewe mediadekking;
  • Gebrekkige korporatiewe bestuur, veral met betrekking tot die Investec- en MVM-transaksies, wat WP se reputasie in die sakegemeenskap knou; en
  • Die moontlikheid dat WP se finansiële state nie geoudit is nie en dat die sakevleuel nie as ’n lopende saak handel dryf nie.

Die WPRU het verlede week vir Jooste en Moneeb Levy van hul pligte as direkteure van die WP se sakevleuel onthef – glo omdat hulle “nie die mandaat van die rugbyunie uitgevoer het nie”.

Marais, Bantom en SA Rugby het nie gereageer op versoeke om kommentaar nie.

Meer oor:  Ingryping  |  Wpru  |  Sa Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.