Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Saru kry 48 uur om Bokke se lot te bepaal

’n Laaste kans om oor die Rugbykampioenskap te besin.

Sanzaar het Woensdag gesê die uitvoerende hoofde van die beheerliggaam se lidlande het saam besluit om die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) nog 48 uur te gee om sy sake in orde te kry vir deelname aan die Rugbykampioenskap in Australië.

Faf de Klerk, skrumskakel van die Bokke, lê in 2019 stewel in toe Suid-Afrika in Wellington teen die All Blacks gespeel het in Wellington. Dit is onseker wanneer Bokke soos De Klerk, Eben Etzebeth (nr. 4) en Damian de Allende (regs), wat almal vir Europese klubs speel, beskikbaar sal wees om in vanjaar se Rugbykampioenskap te speel. Foto: Getty Images

Dié vergunning is sodat Saru sy “gesprekke met interne rolspelers kan finaliseer”, lui Sanzaar se verklaring.

Daar moet voor Vrydag besluit word tussen die risiko om die Springbokke met slegs ’n week se voorbereiding te laat deelneem en die finansiële ramp wat dit vir Saru sal meebring as die span onttrek moet word.

Die Rugbykampioenskap, wat vanjaar weens die Covid-19-pandemie in Australië gespeel word, begin op 31 Oktober met ’n toets tussen die Wallabies en die All Blacks. Dit vorm ook deel van die huidige Bledisloebeker-reeks tussen die lande.

Suid-Afrika is veronderstel om op 7 November sy aanslag in Brisbane teen Argentinië te begin.

The Telegraph berig intussen dat Saru glo die Bokke later in die kampioenskap wil laat aansluit.

Daar is selfs sprake dat ’n ander rugbyland Suid-Afrika se plek kan inneem.

Saru het Saterdag in ’n verklaring aangedui hy moet nog oor verskeie hekkies kom voordat die wêreldkampioen na Australië kan vlieg.

’n Woordvoerder van Saru sê die regering moet bevestig watter impak die jongste Covid-19-regulasies op die span se beplande deelname sal hê.

Die departement van sport het Woensdag by navraag gesê die Bokke word toegelaat om ná verlede week se wysiging aan die land se regulasies, ’n oorsese toer aan te pak.

Gebrekkige voorbereiding en spelerwelstand is egter twee van die hoofredes wat daarop kan uitloop dat die wêreldkampioen nie vanjaar toetsrugby speel nie.

Rassie Erasmus, Saru se direkteur van rugby en vorige hoofafrigter van die Bokke, het onlangs gesê die besluit oor die span se deelname moet op die laaste op 10 Oktober geneem word.

Dit was met die veronderstelling dat die Bok-groep vandeesweek saamtrek en begin voorberei voor daar die naweek na Australië vertrek word.

Met die Bokke se aankoms Doer Onder sal al die lede van die toergroep vir twee weke in kwarantyn wees.

Dit beteken Jacques Nienaber, die nuwe Springbok-afrigter, sal slegs ’n week op die oefenveld in spanverband hê voor die All Blacks, Wallabies en Argentinië gepak word.

Wanneer die oorsese Springbokke soos Cheslin Kolbe, Damian de Allende, Faf de Klerk, Eben Etzebeth en Vincent Koch by die groep kan aansluit, dra verder by tot die onsekerheid.

Volgens Wêreldrugby se aangepaste toetsvenster kan dié spelers op 1 November vrygestel word vir nasionale diens.

Die twee weke se kwarantyn beteken dat die Europese Bokke die eerste twee toetse – teen Argentinië op 7 November en die Wallabies op 14 November – sal misloop.

Senior Bokke soos Duane Vermeulen en Trevor Nyakane is intussen in die Bulle-beginspan gekies vir Vrydagaand se ontmoeting met die Cheetahs in die Unlocked-Superreeks, maar die afrigter, Jake White, sê hy is onseker of die Saru-besluit ’n stokkie daarvoor kan steek.

“Ek weet nie. Ons het ons voorbereiding gedoen en ek sou glo dat hulle kan speel met die nasionale afrigter (Nienaber) wat gesê het die spelers het speelkans nodig.

“Selfs al gaan hulle in die Rugbykampioenskap speel, glo ek dit sal waardevol wees om tyd op die veld deur te bring,” het White gesê.

Meer oor:  Bokke  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Saru  |  Sanzaar  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.