Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
SA Rugbyunie maak sy rug styf vir Icasa

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het Donderdag sy rug styf gemaak vir die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid (Icasa) se volgehoue pogings om sy uitsaairegte tot sy nadeel te reguleer.

Jurie Roux, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie. Foto: Gallo Images

As deel van Saru se voorlegging op ’n openbare verhoor van Icasa, wat aanlyn plaasgevind het, het die rugbyliggaam gesê dat die kommunikasie-owerheid besig is met “onwettige inmenging”.

Volgens Saru het Icasa “nie die magte om die sake van sportbeheerliggame te reguleer nie”.

In bepalings wat Saru as “irrasioneel” beskou, wil Icasa die volgende hê:

• Dat die duur van sportliggame se kontrakte vir uitsaai-ooreenkomste tot drie jaar beperk word.

• Dat inhoudsverskaffers hul regte moet opdeel in etlike pakkette en dit aan meer as een verspreider moet verkoop om te verhoed dat daar net “een wenner” is.

• Dat inhoudsverskaffers hul regte ontbondel om etlike partye in staat te stel om die inhoud oor verskillende platforms te versprei.

• Dat enige regte wat bekom word aan mededingers aangebied moet word.

Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof, het egter gesê dat dit ’n katastrofale uitwerking op Suid-Afrikaanse rugby sal hê omdat dit sy finansiële lewensbloed sal afsny.

“Ons werklikheid is dat ons 99,7% deur onsself befonds is. Ons regering se bydrae is 0,3% van ons jaarlikse omset in terme van inkomste,” het Roux gesê.

“Ons kla nie daaroor nie. Ons het begrip vir die finansiële druk waaronder Suid-Afrika verkeer en die maatskaplik-ekonomiese uitdagings wat ons het, en dat regeringsfondse, en spesifiek in die geval van sport en ontspanning, in verskillende rigtings moet gaan.

“Maar wat ons vra, is dat indien dít ons verantwoordelikheid is en ons dit omarm, dat ons die vryheid gegun word om te doen wat die regering van ons vra, en dit is om soveel as moontlik inkomste deur self-befondsing te genereer om ons in staat te stel om ons mandaat te vervul.”

Saru se aanbieding het melding gemaak van die regering se Wet op Sport en Ontspanning, waarin gesê word dat nasionale federasies aangemoedig moet word om “kreatief” en “selfstandig” te wees in terme van die generering van fondse.

Saru verdien sy inkomste hoofsaaklik uit uitsaairegte. Die tweede grootste bron van inkomste is borgskappe, wat Saru sê baie afhang van die gehalte en strekking van beeldsendings.

Icasa se bepalings sal volgens Saru onder meer daartoe aanleiding gee dat rugby nie op voetsoolvlak ontwikkel kan word nie, dit moeiliker sal raak om topspelers en -afrigters te behou, en die mededingendheid van nasionale spanne negatief geraak sal word.

Roux het gewaarsku oor “verreikende finansiële nagevolge, wat rugby in Suid-Afrika tot stilstand sal bring”.

Onvoorsiene nagevolge sal volgens Saru se voorlegging wees dat franchise-spanne nie in internasionale kompetisies sal kan speel nie, dat daar nie ’n Springbokspan sal wees nie, dat daar nie plaaslik beroepsrugby-kompetisies sal wees nie, dat daar nie amateurkompetisies sal wees nie, en dat daar nie groei of massa-deelname aan rugby sal wees nie.

“Ons sal ons deure sluit en plaaslike klubrugby sal vir ’n ruk gespeel word voordat dit uitsterf omdat daar nie ’n platform vir aspirasie is nie,” lui Saru se voorlegging.

Ngwako Maenetje SC, regsverteenwoordiger van Saru, het daarop gewys dat Icasa die Mededingingstribunaal se terrein betree het.

“Icasa moet versigtig binne sy magte bly,” het hy gesê.

“Icasa het eenvoudig nie die regulatoriese mag om sportbeheerliggame te reguleer nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.