Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Saru ontstoke ná Zelt se vergadering

Zelt Marais, president van WP Rugby, het “groot ontsteltenis” in SA Rugby veroorsaak toe hy agter die nasionale liggaam se rug met Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, vergader het.

Dié vergadering, wat deur ’n ANC-LP, Hisamodien (Ishmam) Mohamed, gereël is, het die minister blykbaar onkant gevang.

Marais het hom in dié vergadering uitgevra oor die geld wat aan sportlui beskikbaar gestel is weens die Covid-19-pandemie. Daar is ook oor transformasie in rugby gesels.

Nathi Mthethwa

Die minister het kort daarna vir SA Rugby in kennis gestel van die vergadering. Luidens Rapport se inligting was daar “woede” onder sommige amptenare omdat dit nie die protokol vir sulke vergaderings is nie.

Marais het aan Rapport gesê daar was nooit so ’n vergadering nie.

“Glad nie. Wie voer jou hierdie verkeerde inligting?” was sy antwoord op WhatsApp.

Volgens die departement van sport, kuns en kultuur se woordvoerder, Masechaba Khumalo, het die vergadering egter wel plaasgevind.

Nadat hy oor die bevestiging ingelig is, het Marais geantwoord: “Saru is ingelig oor die vergadering met die minister.”

Terwyl SA Rugby nie oor die vergadering wou kommentaar lewer nie, het ’n ingeligte aan Rapport gesê dit is nie normaal vir ’n provinsiale president om so ’n vergadering aan te vra nie.

“Die sportminister ontmoet gewoonlik die nasionale beheerliggame, nie die provinsies nie. As SA Rugby se mening gevra was voor die vergadering, sou hulle hom aangeraai het om nie dit te doen nie en deur die regte kanale te werk.”

Khumalo het aan Rapport gesê die minister het die reg om met enigiemand in die sportsektor te vergader.

“Die minister het Mark Alexander, president van Saru, in kennis gestel voordat die vergadering plaasgevind het.

Hy het ook die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor sport, kuns en kultuur, Beauty Dlulane, wat teenwoordig was, in kennis gestel, saam met die minister se adviseur, Walter Mokoena, en Mthobi Tyamzashe, die ministeriële fasiliteerder van Saskok.

As enigiemand ontsteld is, dink ek dit is kinderagtig.

’n Lid van die Nasionale Vergadering het die vergadering belê.

“Wat op die vergadering bespreek is, is vertroulik en kan nie op die oomblik bekend gemaak word nie.

“Vra die vriendelike sameroeper van die vergadering, Ishmam Mohamed,” het Khumalo gesê.

Volgens Mohamed is die vergadering belê om by die sportminister te hoor of daar geld in die Covid-19-fonds beskikbaar is.

“Zelt wou hoor wat die regering se proses vir hulp rondom die Covid-19-pandemie is vir enige sportsoort, insluitend rugby. Die minister het hom geantwoord.

“Hy het die minister ook ingelig oor die verwikkelinge rondom die herontwikkeling van die Nuweland-stadion.

“As enigiemand ontsteld is, dink ek dit is kinderagtig.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.