Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Saru ‘sal kwotabeleid in howe verdedig’

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) is bereid om sy transformasiebeleid in die howe te verdedig indien dit van hom vereis word.

Johan Kruger, adjunkbestuurder van Solidariteit, dr. Dirk Hermann, Kallie Kriel en Anton van der Bijl van Solidariteit se regsafdeling. Foto: Sarel van der Walt

So het ’n woordvoerder van die nasionale beheerliggaam Woensdag by navraag gesê.

Saru is om kommentaar genader nadat die vakbond Solidariteit en burgerregteorganisasie AfriForum bekend gemaak het dat hulle regsaksie beplan om sogenaamde rassekwotas in Suid-Afrikaanse sport in die arbeidshof te beveg.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê hy verwag “dit gaan ’n lang en uitgerekte regstryd wees, ’n epiese stryd”.

Dié regsaksie spruit uit ’n besluit deur die departement van sport en ontspanning verlede jaar dat verskeie liggame nie meer groot internasionale byeenkomste mag aanbied nie, aangesien hulle nie aan sekere rasseteikens voldoen nie.

Mark Alexander, president van Saru, Dinsdag saam met die nuwe minister van sport, Thulas Nxesi. Foto: Gallo Images
Blanche de la Guerre (links) saam met Maryka Holtzhausen. Foto: Gallo Images

Saru, Krieket Suid-Afrika (KSA), Netbal Suid-Afrika (NSA), Atletiek Suid-Afrika (ASA), die minister van sport en ontspanning, asook die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) word nou voor die arbeidshof gedaag.

Volgens die hofstukke wat in Netwerk24 se besit is en aan die onderskeie beheerliggame gestuur is, sal Solidariteit die hof vra om die dele van die transformasiehandves, wat onder meer te make het met die oplegging van transformasieteikens, tersyde te stel. Solidariteit vra ook dat die bepalings van die ooreenkomste tussen die departement van sport en ontspanning, Saskok en die onderskeie liggame, wat die inwerkingstelling van kwotas afdwing, ter syde gestel word.

Dit geld die inwerkingstelling van kwotas op nasionale, provinsiale, klub- of skoolvlak.

Solidariteit voer aan die inwerkingstelling van kwotas is ongrondwetlik, aangesien dit glo “fundamentele regte in die arbeidsfeer oortree”.

Die liggame word dus voor die arbeidshof gedaag aangesien hulle verantwoordelik is vir die indiensneming van die onderskeie sportlui.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het Woensdag gesê die saak sal in alle waarskynlikheid eers vroeg aanstaande jaar aangehoor word.

“Ons gaan ons toespits op arbeidswetgewing en die Wet op Gelyke Indiensneming. Ingevolge die wetgewing is kwotas nie aanvaarbaar nie. Dit druis in teen arbeidswetgewing,” sê Kriel.

Die wetgewing is duidelik dat daar nie teen spelers op grond van ras gediskrimineer mag word nie.
Kallie Kriel

Volgens hom sal hulle ook hul saak na die onderskeie internasionale federasies, soos Wêreldrugby en die Internasionale Krieketraad (IKR), neem, maar dat dié vergaderings nog gereël moet word.

“Ons het ’n baie sterk saak. Die wetgewing is duidelik dat daar nie teen spelers op grond van ras gediskrimineer mag word nie.”

Saru het nog nie die hofstukke onder oë gehad nie, maar is volgens ’n woordvoerder bereid om sy transformasiestandpunt in die hof te verdedig.

Volgens Saru se strategiese transformasieplan moet 50% van die spelers in die Springbokspan teen 2019 swart of bruin wees.

“Ons het die voorgestelde regsaksie opgemerk en sal deur die howe reageer indien dit nodig is,” sê die woordvoerder.

Blanche de la Guerre, uitvoerende hoof van Netbal Suid-Afrika (NSA), sê hulle is kleurblind wanneer dit kom by die kies van die nasionale span.

“Ons spelers word op gehalte en verdienste gekies. Wanneer die beste spelers só gekies is, sal ’n mens sien dat die span altyd verteenwoordigend van die land se demografie is.”

Volgens De la Guerre fokus NSA eerder op die ontwikkeling van die sport op voetsoolvlak, maar “moedig hy die provinsiale unies aan om te transformeer”.

Meer oor:  Solidariteit  |  Afriforum  |  Hof  |  Transformasie  |  Kwotas  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.