Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Saru gee Cheetahs ‘troosprys’

Die Toyota Vrystaat Cheetahs is uit die Europese Pro-reeks geskop.

Die Vrystaatse rugbyunie kan egter sy franchise-status behou en kan as ’n vyfde franchise aan die Pro8-reeks deelneem wat jaarliks tussen Nieu-Seeland, Australië en Suid-Afrika sal roteer.

’n Goue oomblik wat aan skerwe gespat het. ’n Jaar gelede het die Cheetahs die Curriebeker op ’n propvol Vrystaatstadion in Bloemfontein gewen en uitgesien na ’n goeie Pro14-kans. Toe het die koronavirus en nou ook die Suid-Afrikaanse Rugbyunie toegeslaan. Die span is uit die Pro14-reeks geskop. Hoewel hy aan die kort Super 8-reeks oorsee en ’n nuwe plaaslike reeks kan deelneem, voel dit vir die ondersteuners wat hard gejuig het toe spelers soos Joseph Dweba die Curriebeker gewen het, na ’n troosprys. Foto: Charles Smith

Hoewel die Vrystaatse Rugbyunie (VRU) in ’n verklaring gesê het dié nuwe reeks sal vir addisionele inkomste sorg, het die unie se verklaring gelui dat hy “sy opsies ná die besluit oorweeg”.

Die VRU het reeds die dienste van adv. Wim Trengrove SC bekom om sy regte as franchise te beskerm sou hy uit die Pro-reeks geskop word.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het op sy beraad besluit om die vier Super-spanne, die Bulle, Leeus, Stormers en Haaie, in die Pro-reeks te laat deelneem. Dit beteken die Cheetahs, wat vir ’n paar seisoene saam met die Kings met groot sukses aan die reeks deelgeneem het, is eenvoudig uitgeskop.

In Vrystaatse rugbykringe is die besluit as ’n “sterk tweede prys” en net ’n “troosprys” bestempel, hoewel dit nie ’n doodskoot is nie. Ondersteuners was egter woedend en baie het aangedui hulle gaan geen rugby wat Saru aanbied meer ondersteun nie.

Ons aanvaar die kompetisie. Maar dis waar Saru die fout maak: Die Cheetahs is nie mense wat gaan lê nie en nog minder net oorgee nie.
Casper van der Merwe

Harold Verster, besturende direkteur van die Cheetahs, sê in die verklaring die “Cheetahs behou hul regte voor”.

“Die implikasies van die sakemodel moet ontleed word en die raad sal ’n besluit oor die pad vorentoe neem.”

“Die plaaslike kompetisies is opwindend en gee goeie vooruitsigte, want dit is ’n kompetisie waarin al 14 plaaslike franchises sal deelneem waarna die Curriebeker se dubbele ronde beslis sal word, tuis en weg, met al agt spanne wat daaraan sal deelneem.”

Casper van der Merwe van die Cheetah-ondersteunersklub sê dis “hartseer en slegte nuus” maar die ondersteuners moet by hul unie en span staan. Daar sal weldra ander deure oopswaai.

“Dalk moes die ding gebeur sodat die Cheetahs ’n beter kompetisie kan soek. As ’n ondersteuner is ek egter baie hartseer oor die besluit van Saru. Ek is seergemaak, kwaad en gefrustreerd.”

“Hulle het so besluit vir die voorbestaan van die Super 4-spanne en die Cheetahs vir die wolwe te gooi en hulle ’n troosprys in die Super8-reeks te gee. Ons aanvaar die kompetisie. Maar dis waar Saru die fout maak: Die Cheetahs is nie mense wat gaan lê nie en nog minder net oorgee nie.”

Dit gaan net oor die groot unies en geld. Ek is baie diep ongelukkig hieroor.
Dr. Gerrit Rossouw

Dr. Gerrit Rossouw van Bloemfontein, ’n groot ondersteuner, het kort ná die besluit gesê hy sal ’n bydrae lewer om die advokaat te betaal om die Cheetahs se regte te beskerm, want die besluit is totaal onregverdig.

“Dit gaan net oor die groot unies en geld. Ek is diep ongelukkig hieroor. Die ander vier unies moes onder hulle besluit wie die drie spanne is wat saam met die Cheetahs gaan speel. Maar nou moet ons weer die spit afbyt.”

De Wet Ras, ’n oudspeler, sê dit maak die oudspelers maar keelvol.

“Ons moet altyd opsy staan vir ander unies sonder bewyse dat hulle daar hoort. Dit maak net dat ons nie rugby sal ondersteun nie. Dit gaan nie oor die spelers nie, dit gaan oor die ringkoppe daar bo. Dit voel asof hulle vir jou sê: “Sorrie, hier is vir jou ’n troosprys.’”

Meer oor:  Pro14  |  Cheetahs  |  Saru  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.