Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Saru verwelkom nuwe regulasies
Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur. Foto: Gallo Images

Uiteindelik, Suid-Afrikaanse rugby – en ander kontaksportsoorte – kan weer tot die speelveld en baan terugkeer.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het dié vergunning Donderdag verwelkom, nadat die sportminister, Nathi Mthethwa, nuwe regulasies in die Staatskoerant gepubliseer het.

Daar mag weer, onderhewig aan sekere voorwaardes, in leë stadions rugby gespeel word en kontaksessies word toegelaat.

Dít terwyl daar steeds aan streng maatreëls voldoen moet word om die verspreiding van Covid-19 te voorkom.

’n Beperkte getal mense, wat noodsaaklike dienste lewer, sal die wedstryde mag bywoon in ’n “bio-veilige omgewing”.

“Ons het sedert die begin van die pandemie hard gewerk om toe te sien dat ons weer kan begin speel en ons het die regering deurgaans van ons planne in kennis gestel,” het Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof, gesê.

“Ons is baie dankbaar vir die geleentheid om met die volgende fase van ons terugkeerplan te begin en ons sal die departement (van sport, kuns en kultuur) van al die nodige inligting voorsien om die oorgang te maak.

Ons agt franchises wat onlangs weer begin oefen het, het nog ’n paar weke se voorbereiding nodig voordat daar wedstryde gespeel kan word.
Jurie Roux

“Dít gesê, ons agt franchises wat onlangs weer begin oefen het, het nog ’n paar weke se voorbereiding nodig voordat daar wedstryde gespeel kan word.”

Die Bulle, Leeus, Haaie, Stormers, Cheetahs, Southern Kings, Griekwas en Pumas het ’n paar weke gelede begin oefen, maar tot dusver in klein groepe en sonder enige kontaksessies.

Jurie Roux, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie. Foto: Gallo Images

Deelname aan internasionale kompetisies, toernooie en byeenkomste word nog nie met die nuwe regulasies toegelaat nie en Roux sê Saru besef die regering moet in fases te werk gaan.

“Ons weet Wêreldrugby se toetsvenster vir die Rugbykampioenskap is eers in November en Desember, so ons is hoopvol dat die regering die regulasies in die afsienbare toekoms verder kan verslap,” het Roux gesê.

• Netbal Suid-Afrika (NSA) het in reaksie op die nuwe regulasies gesê hy moet voor 11 Augustus ’n bedryfsplan by die departement indien. Hy moet daarin uiteensit hoe groepoefeninge hanteer sal word in pas met die regulasies.

NSA hoop die Nasionale Liga sal vroeg in Oktober kan begin.

Die spanne wat aan dié streekkompetisie gaan deelneem, sal die nodige inligting kry oor die riglyne wat hulle moet volg, sê NSA.

Volgens die regulasies moet ’n federasie presies sê watter bane as oefengeriewe gebruik sal word, die getal spelers en beamptes wat betrokke sal wees, hoeveel mense positief getoets is vir Covid-19 en wanneer daar geoefen sal word.

’n Sportliggaam word ook verplig om vir minstens ses maande rekord te hou van die naam, adres, kontakbesonderhede en besonderhede van diegene in die huishouding van sportlui, wat by oefeninge betrokke sal wees.

Volgens die regulasies is dit die sportliggaam se verantwoordelikheid om seker te maak spelers en beamptes word vir Covid-19 getoets voordat hulle met oefeninge mag begin.

• Marissa Langeni, uitvoerende hoof van Suid-Afrika Hokkievereniging, het gesê hulle sal eers kommentaar lewer sodra dié liggaam se raad die regulasies kon oorweeg.

• Verslagspan: Cobus Claassen, Annchen Nel en Johann de Jager.

Meer oor:  Nathi Mthethwa  |  Jurie Roux  |  Suid-Afrika  |  Netbal  |  Regering  |  Sportminister  |  Saru  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.