Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Scarlets-Bok Cassiem wil in Brittanje bly

Die Scarlets het een van hul moeilikste seisoene in die Pro14-reeks agter die rug ná die welslae van vorige seisoene en daar is ’n goeie rede daarvoor, glo Uzair Cassiem, dié Walliese span se Springbok-losvoorspeler.

Hy sê dié span se vorige sukses, wat ’n eindstryd in 2018 ingesluit het, het die afgelope seisoen sy tol geëis.

Uzair Cassiem sê die Scarlets se sukses die laaste drie seisoene het dié seisoen sy tol geëis. Foto: Gallo Images

Cassiem self het ’n frustrerende seisoen beleef. Hy kon weens beserings en ’n skorsing in net 14 van sy span se 21 wedstryde speel.

“Met al die beserings was dit maar moeilik. Ek kon eenvoudig nie genoeg momentum opbou om op my beste te vertoon nie,” het hy uit Swansea, aan die Walliese suidkus, laat weet.

Die Scarlets het in die 2017-’18-seisoen nog in die eindstryd van die reeks teen Leinster gespeel, maar dié seisoen kon hulle net 10 wedstryde wen.

In die 2016-’17-seisoen (toe die kompetisie nog die Pro12 was) het hulle die eindstryd met 46-22 teen Munster gewen. In die voorafgaande seisoen het hulle vyfde geëindig.

“Dit was maar ’n moeilike seisoen vir ons. Selfs met al die spelers wat by ons gekontrakteer is, kon ons nie een keer ’n volsterkte span op die veld stuur nie weens ’n oormaat beserings.

“Ek dink die vorige drie seisoene het sy tol geëis,” sê die 29-jarige boorling van die Strand.

Hy gee toe daar is nie veel verskille tussen die Scarlets en sy ou span, die Cheetahs nie, behalwe dat elke speler op sy heel beste moet wees om die span te haal.

“Rugby hier word meer soos ’n onderneming bedryf. Die Scarlets (se afrigtingspan) weet wat hulle wil hê en is baie direk met dít wat hulle van die spelers verlang.”

Cassiem is in die tweede en finale jaar van sy kontrak en sê sy gesin is baie gelukkig in Wallis.

“Ons pas baie goed aan en love dit hier. Ons sal graag nog hier wil aanbly of selfs op ’n ander plek in Brittanje, ons is ewe gemaklik daarmee.”

Cassiem, wat in agt toetse vir die Springbokke gespeel het, is nie deel van Rassie Erasmus, die Bok-afrigter, se planne nie, maar dit keer hom nie om sy gewig agter die nasionale span te gooi vir vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan nie.

Hy sê hy wil hom nie uitlaat oor wie hy dink die gunsteling is om vanjaar die kroon te dra nie.

“Luister, die Wêreldbeker-toernooi is so oop dat ek nie enige span kan uitsonder tot en met die eindfluitjie in die eindstryd blaas nie.

“Ek dink nie daar is tans ’n gunsteling nie maar dit sal great wees as die Bokke dit kan wen,” sê hy.

* Intussen sluit nog ’n Suid-Afrikaner en voormalige Cheetah-speler, die heelagter Clayton Blommetjies, hom op 24 Junie weer by die Scarlets aan.

Blommetjies het die afgelope seisoen in ses wedstryde gespeel en is aan die Leicester Tigers geleen.

Meer oor:  Scarlets  |  Pro14  |  Uzair Cassiem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.